Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

MARYNA ADSHADE

Prof. Wim de Villiers, rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), en Carli van Wyk, SR-voorsitter (2018/2019), het gedurende die September-reses hul fietse afgestof om geld vir beurse in te samel.

Van Wyk en De Villiers, tesame met Chris Pauw, Chris Donn, Abraham Botha en Anthony Bragg, het op 15 September aan die Londen tot Brighton (L2B) fietsryuitdaging deelgeneem. Hulle het al langs die suidkus van Engeland fietsgery om fondse in te samel deur die GivenGain-webwerf vir die US se VK/EU (Verenigde Koninkryk/Europese Uniebeursfonds. Dié fonds is geskep om finansiële steun aan behoeftige studente te bied.

Volgens Darryn Havenga, die US se direkteur vir fondswerwing in die VK, het fietsryers die rit op hulle eie onkostes afgelê. “Omdat hierdie ‘n fondsinsameling-inisiatief was, moes alle deelnemers vir hul eie reis en verblyf in Londen betaal. Deelnemers moes ook instem om fondse in te samel vir hierdie verdienstelike saak op die GivenGainskarebefondsingsplatform,” het Havenga in ’n verklaring gesê.

Vir Van Wyk was dit ’n “ongelooflike ervaring”, maar ook uitdagend. “Dit was rêrig taai gewees! Ek is glad nie ’n sportiewe mens nie. Die Engelse platteland? Ek sê dit moet die Engelse opdraand genoem word,” het Van Wyk gesê. Van Wyk sê sy is self ’n beurshouer en dat sy juis weet hoe baie ’n beurs kan help. As gevolg hiervan wou sy graag teruggee aan die US. Sy sê dat die uitgawes uit haar eie sak gekom het en dat sy haar pa se 20 jaar oue fiets uit hul garage moes gaan kry het.

Volgens De Villiers was dit onder andere die spangees wat die fietsry-ervaring aangenaam gemaak het. “Ek moet bieg, die bene is beslis seer, maar die gees is altyd gewillig! Indien ons pogings die volgende geslag Maties die kans gee om hul volle potensiaal te bereik sonder spanning en struikelblokke op hul pad na sukses, is alles die moeite werd. Die kameraderie was wonderlik, en ek is dankbaar teenoor my spanmaats wat hierdie uitdaging aangepak het,” sê De Villiers in ’n persverklaring. Hy voeg by dat alle fietsryers minstens £500 (ongeveer R9 300 teen die huidige wisselkoers) elks deur die GivenGain-webwerf probeer insamel.

Dié geld gaan dan na die US se VK/EU-beursfonds om behoeftige studente te ondersteun. Die geldinsamelingsprojek is nog tot 30 September aktief. Volgens De Villiers was die US se mikpunt £7 500 (ongeveer R139 500), maar £8 060 (om en by R150 000) is reeds ingesamel. Hierdie £7 500 kan minstens een behoeftige student se kostes vir onderrig, handboeke, verblyf en kos vir ’n jaar lank dek.

De Villiers vra dat enige Matie, US-alumni of vriende en familie van studente wat in staat is, ’n donasie sal maak om die doel te ondersteun en die US toe te laat om behoeftige studente te help.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial