MARYNA ADSHADE
Dit is geen geheim dat iPhones en ander Apple-produkte van die duurste op die mark is nie, maar ten spyte van die prys (oftewel, finansiële skade aangerig aan die koper) spog dié appel-ikoon agterop toestelle regoor kampus. Baie Android-aanhangers is vas oortuig daarvan dat Apple-advokate slegs iPhones aanskaf om daarmee te spog, maar hierdie toestelle het egter baie meer as net spogregte om te bied.
Apple staan bekend vir hul elegant-ontwerpte toestelle, hul goeie kliëntediens en ook goeie sekuriteit. Apple-produkte bied ook enige gebruiker die geleentheid om gemaklik ’n sogenaamde Apple-ekosisteem te skep. In hierdie ekosisteem kan die gebruiker se Apple-produkte aan mekaar konnekteer en kan dan maklik inligting uitruil en met mekaar kommunikeer. Apple-toestelle het ook tipies beter spesifikasies as hul Android-eweknieë. Toepassings (apps in Engels) soos mobiele speletjies wat meer van ’n toestel kan vereis, kan soms beter op Apple-toestelle werk.
Apple glo ook dat kwaliteit beter is as kwantiteit en is baie kieskeurig oor wat op die App Store verskyn. Android het wel meer toepassings op Google Play, maar iOS het ’n paar eksklusiewe toepassings, soos StyleBook en iTranslate Converse. Baie mobiele speletjies verskyn ook eers op die App Store voordat dit op Google Play verskyn. Talle studente is ook van die opinie dat Apple die beter kopie is.
Janel van Jaarsveld, ’n derdejaar-BRek-student, sê: “Dit is versoenbaar met ander toestelle en sinkroniseer met my iPad.” Sy verduidelik dat haar klasnotas, e-posse, foto’s en dokumente maklik oorgedra word van haar iPhone tot haar iPad. Sy glo ook dat iPhones baie goeie foto’s en video’s neem en dat die slimfone meer gebruikers vriendelik is. Android staan egter nie terug in die kompetisie nie en Ayesha van Schoor, ’n eerstejaar-BA (Geesteswetenskappe)-student, sê: “Android kan dinge nét so goed soos Apple doen.” Sy meen dat die hoofdoel van ’n selfoon net is om met ander mense in verbinding te tree en dat enige ander funksies ’n bonus is.
Baie ander gebruikers sal sê dat mens nie die duurste produk op die mark nodig het nie.Te danke aan Apple-produkte se pryse, kies baie potensiële gebruikers liefs Android-toestelle. Android het ’n groter verskeidenheid toestelle om van te kies en daar is baie goedkoper opsies wat net so goed, of amper net so goed, soos die duurder Apple-toestelle kan werk.
As mens ’n Android-selfoon met ’n Apple-selfoon in dieselfde prysklas vergelyk, is dit ook duidelik dat Androids se batteryleeftyd langer is. Indien mens jou selfoon se battery wil vervang, gaan dit ook baie makliker wees om ’n Android s’n te vervang. Mense opsoek na toestelle met groter skerms sal ook makliker regkom in die Android-mark. Android loop ook voor met hul weergawe van kunsmatige intelligensie, naamlik Google Assistant. Siri, Apple se kunsmatige intelligensie, is baie meer beperk, waar Google Assistant meer gevorderd is, slimmer is en ook meer veelsydig is. Alhoewel Google Assistant nie eksklusief tot Android-toestelle is nie, is Android toestelle meer geneig om van Google Assistant gebruik te maak as wat Apple-toestelle is.
Aan die ou end bly dit egter elke gebruiker se reg om die toestel van hul voorkeur te kies. Verskillende gebruikers is op soek na verskillende funksies en eienskappe en net soos elke pot sy deksel vind, het elke student sy slimfoon.