WOORDFEES IS VERBY
Ongelukkig roep die studieboeke al die feeskatte terug na realiteit toe. Toetsweek is ook om die draai en die opvang werk lê soo ’n donker wolk oor studente.
GITA FOURIE
Daar was seker studente wat deur die loop van Woordfees hul akademiese verpligtinge in die stouthoekie laat staan het.
Met ’n vol program van toneelstukke by die Adam Small-teater (teen studentepryse, natuurlik), filmfees, stand-up, musiekvertonings en vele diskoersgesprekke gedurende die verloop van die fees, kon jou ekonomie–dosent seker maar verstaan as jy so paar klasse misgeloop het.
Al het Schalk Bezuidenhout almal aan die lag gehad by Snorseun, Broken English en Die Intermissie, is dit nou tyd om alle grappies op ’n stokkie te sit en terug te keer na realiteit toe.
Hoe keer mens terug na jou normale roetine ná tien dae van ’n vol Woordfeesprogram?
Vang op
Emma van Dewenter, ’n BEd-student, sê dat haar belangrikste prioriteit nou is om haar werk op datum te kry.
“Dit was lekker om die afgelope week ’n bietjie in die kunste te kon ontsnap, maar nou is dit tyd om al die aanlyn tutoriale, opstelle en lesplanne aan te pak,” sê van Dewenter. Dit is nou nog vroeg in die semester en dit sal gevaarlik wees om nou al agter te raak.
Maak seker jou werk is opgevang sodat jy met ’n geruste hart (en geruste ouers) op KKNK-toer kan gaan.
Hou op uitstel
Vir die res van hierdie kwartaal lê daar net leë Word-dokumente wat gevul moet word en handboeke van 800 of meer bladsye wat ingeneem moet word, voor.
En sodra genoeg moed bymekaar geskraap word, trek Instagram alle oorblywende aandag af. Uitsel-tegnieke is ’n probleem vir die meeste van ons, al probeer ons hoe hard om nie doekies om te draai nie.
Soos die baie optimistiese gesegde lui: aanhouer wen.
Elke klein stukkie werk so tussendeur ’n gereelde rondsittery gaan ’n lang pad.
Die Filistyne is op ons (wel van ons…)
Hopelik het die ingenieurs- en BRek-studente die musiekvertonings by die Sanlam-musiekfees geniet, want al liedjie wat hulle vir die volgende twee weke gaan hoor, is die liedjie wat speel wanneer die biblioteek toemaak.
Ons innige meegevoel en simpatie met diegene wat nou hul\ ingenieurs- en BRek-week het wat soos die berg van Sinai voor hul lê.
As jy tot nou toe nog net ’n spul Woordfees-vertonings gekyk het, is daar ’n donker tyd wat vir jou voorlê. Dit is egter nie die einde nie. Darem is jou kultuurdosis vir die jaar in.
FOTO: Gita Fourie