Die kommentaar waarvoor almal bang is.
Gorrel is nie verantwoordelik vir enige ongerief veroorsaak nie.
Amper vakansie
Gorrel is baie bly dat dit amper reses is, want Gorrel kan regtig nie meer nie. En Gorrel bedoel dit nie ironies soos al die drama queens op Instagram nie.
Gorrel sien baie daarna uit om, al is dit net vir ’n week, Gorrel se ma se kos te eet, Gorrel se hond te gaan stap en weg te kom van al die Tinder-gejaag wat Stellenbosch bied. Dit maak Gorrel nou klaar. Gorrel kort ’n blaaskans.
Gorrel is bly om steeds ’n student te wees, want só kry Gorrel darem elke nou en dan nog bietjie vakansie.
Gorrel lag sommer vir Gorrel se werksvriende wat nie so ’n vooruitsig het nie.
Fietstoer-winde en Wim
Gorrel wil nie eens weet hoe die fietsers hierdie afgelope naweek op hulle fietse gebly het toe die Kaapse winde so woes gewaai het nie. Gorrel het amper by Gorrel se koshuiskamer uitgewaai.
Gorrel wonder dan ook sommer, noudat Gorrel so aan die wonder is, hoe rektor-Wim op sy fiets gebly het.
As iemand antwoorde of selfs foto-bewyse het, stuur dit gerus vir Gorrel.
Koue somer
Dit is nou vir Gorrel baie vreemd dat Gorrel met twee lae klere moet rondloop deesdae. Is dit dan nie somer nie?
Gorrel is glad nie gewoond daaraan dat dit al hierdie tyd van die jaar jou reënerig en winderig is nie.
Hopelik beteken dit dat die
Wes-Kaap goeie reën hierdie winter gaan kry en nie net dat aardverwarming ons vinnig begin inhaal nie. Gorrel hoop om teen daardie tyd al dood te wees.
Koebaai Woordfees
Dit is vir Gorrel ’n swaar lot om te aanvaar dat die tien beste dae van Gorrel se jaar ook nou verby is. Gorrel kon darem by baie van die vertonings uitkom.
Maar Gorrel wat nogal teleurgesteld dat die organiseerders al vroeg Sondag begin oppak en ontruim het.
Gorrel dink dit neem weg by die idee dat Gorrel tien volle dae sou kon fees.
Maar darem lê KKNK nog vir Gorrel voor en Gorrel gaan beslis die meeste daarvan maak.
Gorrel hoop net dat die koshuisfeesgangers Gorrel nie te veel gaan pla gedurende hierdie fees nie, want Gorrel is ernstig oor fees.