WEES RUTIG DIE VAKANSIE

Die Maart-vakansie is om die draai en ’n welverdiende rus is in orde.

 

ELRIE GOLACH


DIE mees gekoesterde tyd waarvoor studente wag al vandat klasse begin het, het aangebreek.

Dit is resestyd! Al is daar lig aan die einde van hierdie swaar eerste kwartaaltonnel, word die druk al swaarder vir die Matie-studente wat agterbly in Stellenbosch, met vrae soos: “Wat gaan jy dié reses alles doen?”

Wees gerus, want hier is die enigste emmerskop-lys van aktiwiteite wat jy nodig het om jou reses ten volle te geniet:

Vir die avontuurlus

Trek jou beste paar tekke aan en maak jou waterbottel vol, want Route 44 se pretdraf roep elke Saterdagoggend jou naam.

Indien jy een van die mense is wat daarvan hou om selfs tydens jou vakansies vroeg op te staan om jou daaglikse draffie in te werk, is Jonkershoek en Coetzenburg ook lekker opsies.

Vir dié wat al te veel die berge in die omgewing aangepak het, sal Leeukop, Tafelberg en selfs Seinheuwel ’n goeie verandering wees.

Vir die ‘self-proclaimed foodie’

Hierdie reses is die perfekte geleentheid om gebruik te maak van die student-gesegde “kos is lewe”, deur al die studente-winskopies uit te toets.

Julian’s se twee borde nacho’s

vir die prys van een op Woensdae, Tigers Milk se twee-vir-een burgers, Hudson’s se Slider Thursday en Nuri se studente afslag op Maandae is ideale winskope.

Vir die kreatiewe siel

Stellenbosch is vol museums en kunsgalerye. Die Stellenbosch-museum bied selfs begeleide toere aan waar jy meer kan leer van die dorp se geskiedenis.

Kerkstraat bied die perfekte geleentheid om die kuns en kreatiewe modewinkels te besigtig.

Blaauwklippen en Route 44 het ook ‘n verskeidenheid stalletjies vir jou om van te kies en keur.

Vir die ‘couch potato’

Die tyd is NOU!

Sonder om skuldig te voel kan jy nou jou gunsteling reekse wat jy vir akademie afgeskeep het, inhaal! Jy kan selfs begin met ’n reeks waarvoor jy nou al weke lank wag of om die nuutste gewildste flieks te binge watch.

Natuurlik bly Pulp met hulle R10-springmielies ook altyd ’n opsie, waar jy en jou vriende kan gaan fliek teen R50 per persoon in- dien jy nie ‘n lid van die Pulp-vereniging is nie.

Vir die kelder en koffie fanatikus

Koek-en-tee tot jy omval!

Dit is tyd om die mad hatter in jou te laat skitter! Stellenbosch se snoesige koffiewinkels soos Meraki, Postcard Café, YaYa Café en Katjiepiering bied ’n verskeidenheid van koffies onder R30 aan.

Die reses is die perfekte geleentheid om die plaaslike baristas se name te leer ken sonder die koffietyd verkeer. Wyn en… sjokolade by Lourensford, wyn en….pannekoek by Koelenhof, wyn en… kolwyntjies by Delheim.

Sit jou sonhoed op en maak jouself reg vir ‘n egte Stellies ervaring gedurende die vakansie.

FOTO: Elrie Golach