BA-TOETSWEEK Al het die Ingeneurswese en BRek-studente ’n toets-
week, het alle studente wel ook toetse. Christina Eloff vind dit vreemd dat al diegene wat ’n toetsweek het so groot probleem maak daarvan.
LISA DE CLERCQ
Kyk, dit voel miskien of jy gister by jou eerste klas van die jaar in gedraf het, maar die realiteit is dat ons nou al ses weke hier is. Die eerste kwartaal van die jaar is besig om baie vinnig tot ’n einde te kom en dit beteken net een ding – toetsweek is om die draai.
Vir dié wat nuut op Stellenbosch is; toetsweek is die week waarin BRek- en Ingenieurswese-studente van klas afkry om al hulle toetse af te lê.
Hierdie week is egter ook bekend as daardie tyd van die kwartaal waar, soos Lara Stander, ’n BA (Regte)-student, sê: “Die hele wêreld tot stilstand kom en jou probleme niks in vergelyking met die wat toetsweek skryf s’n is nie.”
Gedurende hierdie week is jou BRek- of Ingenieurswese-vriende, soos Kristen Harding, ’n BA (Geesteswetenskap)-student, tereg opmerk, slegs “ ’n mite”. ’n Mens sien hulle absoluut nooit nie, want hulle “kan nie”, hulle “moet leer”.
Natuurlik is die week vir hierdie uitverkore groep studente ’n vreeslike angsaanjaende week.
Die hele kampus het baie simpatie met hulle.
Maar toetsweek is egter ook ’n moeilike tyd vir die studente wat ander kursusse studeer.
Bly kalm
Gedurende stresvolle tye is dit baie belangrik om kalm te bly.
Ja, die biblioteek ruik na daai suur reuk wat slegs deur stres veroorsaak word en nee, jy gaan nie gedurende toetsweek ’n oop rekenaar hier kry nie.
Natuurlik gaan niemand op klein-Saterdag saam met jou wil dorp toe gaan nie. Gister of môre se toets is ook ál waaroor jy met jou BRek- of Ingenieurswese-vriende konstant gaan praat. Dit is gewoonlik gedurende hierdie tyd dat jy gefrustreerd begin wonder waarom jou kursus nie ook ’n toetsweek het nie.
Mag jy ook, soos Christina Eloff, ’n BA (Internasionale Studie)-student, kalmte vind in die wete dat daar weke is waarin jy ook elke dag toetse skryf. Dit word net nie ’n toetsweek genoem nie.
Eloff het besef dat die rede hiervoor natuurlik is dat daar nie slegs toetse in daardie week geskryf word nie.
Jy het gedurende daardie week ’n hele klomp take, opstelle en mondelinge om te doen. Jy loop boonop nog klas ook.
Ondersteun mekaar
Al het jy as BCom-student toetsmaande, of as BA-student ’n toetsjaar, dalk ’n toetsleefstyl as BSc-student, bly dit belangrik om jou BRek- of Ingenieurswese-vriende te ondersteun gedurende hulle toetsweek.
Los maar ’n sjokolade op hulle lessenaar, soos Chris Hyslop, ’n BSc (Bewaringsekologie)-student, vir sy kamermaat bederfies los. ’n Mooi boodskap die oggend voor ’n toets is ook ’n treffer.
Wanneer mens iets vir iemand anders doen voel jy sommer goed oor jouself.
Vat ’n blaaskans
Dit is baie belangrik om nie jou brein te ooreis nie. Motiveer dus gereeld jou toetsskrywende vriende om saam met jou ’n studiebreek te vat. Gaan eet middagete by Chalkboard of drink koffie op die Rooiplein. Wanneer toetsweek net te veel raak, gaan dalk saam met jou nie-BRek- en nie-Ingenieurswese-vriende iewers buite Stellenbosch vir ’n uitstappie, net om bietjie van al die stres weg te kom.
Gebruik ook hierdie tyd om moeite te doen om jou klasvriend beter te leer ken, of soos Colleen Müller, ’n BCom (Bestuurswetenskappe)-student, op te vang met vriende wat jy lanklaas gesien het.
Gaan kyk daardie fliek wat volgens jou BRek-vriend dom is of gaan staar na kuns waarvoor jou Ingenieurswese-pel net nie tyd het nie. Toetsweek is ’n wonderlike geleentheid vir blaaskanse.
Beloon jouself
Harde werk moet beloon word.
Soos ons almal weet gaan al diegene wat toetsweek skryf gedurende die vakansie lekker ontspan as beloning vir die min slaap en al die ure agter die boeke.
Jy, aan die anderkant, gaan heel moontlik jou hele reses voor jou lessenaar spandeer, besig om vir al die baie toetse wat ná die “breek” kom te leer, met geen beloning in sig nie.
Oplossing: werk hard gedurende toetsweek.
Of jy nou ’n BRek- of Ingenieurswese-student is of nie, is dit belangrik om nie te veel te kla nie.
En wees gaaf met jou vriende, dit is immers nie hulle skuld dat jou kursus ’n toetsweek, toetsmaand, toetsjaar of toetsleefstyl het nie.
FOTO: Lisa De Clercq