Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

SHAZNAY BERNADO


“Os praat Afrikaaps en ni Afrikaans ni, so ophou vi os reghelp brah” (Vannie Kaap)

My naam is Shaznay Bernardo en ek is ʼn derdejaar-BA (Internasionale Studie)-student en is ook deel van die Adam Tas-studentevereniging wat gereeld brandende kwessies wat studente raak, bespreek. Op 5 en 7 Maart het die Adam Tas-studentevereniging by Bosch Restaurant met medestudente en ander genooides oor Afrikaaps as ʼn dialek van Afrikaans gesels, en wat met hierdie onderwerp gepaard gaan.

Afrikaans het verskeie onderlinge verstaanbare dialekte wat ontwikkel het as gevolg van kontak met verskillende immigrante-groepe en inheemse, plaaslike tale. Dus het drie hoof dialekte ontstaan: Kaapse Afrikaans, Oranjerivier Afrikaans en Oosgrens Afrikaans. Die Kaapse dialek is meestal deur die taal wat deur die Maleisiese slawe gepraat is, geaffekteer. Hulle was slawe wat in die Kaap gewerk het en ʼn vorm van gebroke Portugees gepraat het. Die Oranjerivier dialekte het ontwikkel met die invloed van Khoi-tale en -dialekte wat in die Namakwaland en Griekwaland Wes-streke gepraat is en die Oosgrens Afrikaans het ontwikkel van die setlaars wat Oos na Natal van die Kaap verhuis het.

Ten spyte van die standaardisering van Afrikaans en die Apartheidsregering wat wette geskep het wat Afrikaans as onderwystaal verpligtend gemaak het, het die gemeenskap wat die oorspronklike vorm van die taal gebruik het, steeds by die voorouer-grondslag gehou en Kaaps voortgesit. Die meeste het nie eens die erfenis van die taal besef nie. Op akademiese vlak moet jy in suiwer Afrikaans skryf en dus verwar dit ons oor of daar ʼn regte en verkeerde Afrikaans is. Afrikaaps word as minderwaardig beskou alhoewel meer as 50% van die bevolking wat in die Wes-Kaap “Afrikaans” praat, eintlik Afrikaaps praat.  Afrikaans het ‘n veelvoudige aard, wat deur ons as swart sprekers oorheers word.

“Die taal dui nie noodwendig ’n ‘kulturele’ andersheid aan nie, maar wel ’n ander soort wêreld. Nie in terme van Apartheidsbegrippe nie, maar ’n wêreld wat ek graag wil hê mense wat dit nie ken nie, vir hulself toeganklik moet probeer maak, deur hulself daarvoor oop te maak. Kaaps is nie wat sekere Engelse mense in Suid-Afrika Capey noem nie, en ook nie wat sekere Afrikaanse mense Gam-taal noem nie. Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra: ’n taal in die sin dat mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe in hierdie taal skreeu en hul doodsroggel in hierdie taal roggel.” (Adam Small).

Hoekom word die Son en Die Burger as apart gesien en hoekom word Afrikaaps as anders geïdentifiseer? Hoe is Afrikaaps skollie taal? Hoekom sit bestaande Afrikaanse woordeboeke nie Afrikaaps in nie, hoekom word my taal nie as akademies beskou nie?

Dis vrae waarmee ons elke dag sit en wonder, maar alles begin by die akademiese stelsel en Afrikaans as taal moet nie beperk word nie. Die onderwyssisteem moet aangepas en verander word en daar moet beslis ʼn plekkie vir Afrikaaps gemaak word. Hoe meer Afrikaapse woorde gebruik word hoe meer bekend sal dit word en dan is die kans daar dat dit in woordeboeke kan verskyn. Afrikaans is tot ʼn sekere mate goed, maar dis ook dinamies. Baie vind Afrikaaps ’n interessante taal en met dit kan mens altyd iets nuuts leer.

“Ek twyfel nie aan die toekoms van Afrikaans nie, solank daar mense is wat Afrikaans praat, sal die taal bestaan.” (Adam Small).

My kleurling Afrikaapse aksent bepaal nie my intellek nie, dit vier my kultuur. Ek kan met trots en geen skaamte se dat ek op die Kaapse Vlakte grootgeword het en dit het my die mens gemaak wat ek vandag is. My taal het my baie dinge geleer. Dis my identiteit, ek is wie ek is, wie is jy?

Related Post

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial