HELÉNE LEONARD

Twee Maties bring vanjaar die 1960’s weer tot lewe in Pinelands Players se vervaardiging van Hairspray.

Janco Nel en Aidan Lewis is al vanaf 2 Februarie by die Kunstekaapverhoog in Kaapstad te sien waar hulle in hierdie produksie speel. Dit is deel van ’n gemeenskapsteaterprojek, wat beteken dat geen deelnemer betaal word nie.

Nel, ’n finalejaar-Bcom (bestuursrekeningkunde)-student, wat die rol van Corney Collins vir vier aande van die optredes vertolk, het vertel dat dit vir hom nog altyd ’n droom was om op die verhoog te wees. “Ek het op skool drama gedoen en ek was nog altyd aangetrokke tot teater. Ná my honneurs sal ek graag nog sulke produksies deeltyds wil doen.”

Sedert Nel se oudisie vir die ensemble groep, het hy besef die rol van Conrey Collins het nie ’n adjudant nie. Hy het besluit dat hy niks kan verloor deur vir dié rol te oudisie nie en dit sowaar gekry.

“My karakter staan vir wat reg is. Ek kan baie by hom leer as dit by regte en die gemeenskap in Suid- Afrika kom,” het Nel gesê. Nel het intussen ‘n geleentheid gekry om by ’n agentskap, Stella Talent, aan te sluit.

Lewis, ’n finalejaar-BMus-student, vertel dat hy deel van die Negro-Ensemble is. Hy vertel hoe die groep op die verhoog baie aksie bring tot die vertoning. “Sodra ons op die verhoog stap gaan die gehoor mal. Ons bring alles wat ons het om dié belangrike rol, tot die beste van ons vermoë te vertolk,” het Lewis gesê.

Die beskeie Lewis sê ook dat hy homself glad nie as ’n triple thread sien nie en hoe die choreografie ’n baie groot uitdaging was. “Ná elke optrede is my klere papnat,” het hy geskerts.

Lewis voel bevoorreg om deel van Hairspray te wees en het gesê dat dit sy gunsteling musiekblyspel as kind was. “Ek het omtrent elke woord geken en het al die bladmusiek van die musical. Toe ek sien hulle hou oudisies toe besef ek net dat ek die kans moet vat,” het Lewis verduidelik.

Hairspray blyk ’n treffer te wees met Laura Bosman, vervaardiger en baas van Pinelands Players, wat besluit het om alles in te sit en ’n groot produksie aan te pak. Dit is vanaf 2 tot 16 Februarie op die planke by die Kunstekaap-teater in die Kaapstad.

FOTO: TX PHOTOGRAPHY