Piet Botha is op soek na die “Groot Lied”

Piet Botha is een van Suid-Afrika se grootse rock- en blueslegendes. Sy nuutste album, Die Middernagtrein, is in April bekendgestel en daardie einste middernagtrein dreun nou al vir die afgelope paar weke kliphard deur Suid-Afrika. Piet het ’n tydjie in sy besige skedule afgeknyp om met Lian van Wyk te gesels oor sy nuwe album, Willie Nelson, sosiale media, Eugene Marias en sommer alles tussenin.

In 2011 het Piet Botha sy vierde Afrikaanse album, Spookpsalms, bekendgestel. Sewe jaar later is hy terug met Die Middernagtrein – ouer, maar beslis nog nie kouer nie.

Volgens Piet het hy nie aspris so lank gewag om ’n album na Spookpsalms vry te stel nie. “Dit was nooit doelbewus nie. Na Spookpsalms het ek Kaap toe getrek weens persoonlike stuff, jy weet, en
toe vir ’n wyle by Arthur en Rudi Dennis (van die berugte Akkedis Band) gewoon.”

Dit blyk egter asof Piet glad nie stilgesit het in hierdie tyd nie: “Ons het twee albums gedoen. Die laaste een (A Few Grains of Sand deur Lyzyrd Kyngs) was great en ons het getoer tot sover as Duitsland vir meer as ’n maand. Dit was seker so drie of vier jaar terug, maar ek het geweet Jack Hammer moet weer albums maak en toe het ons twee jaar terug Handful of Rain in die Kaap opgeneem en dit het die hele band weer bymekaargebring.”

Piet vertel dat dit altyd sy plan was om Die Middernagtrein tydens die winter van 2017 in Jeffreysbaai op te neem. “Ek wou altyd weer ’n Afrikaanse album uitbring en het aan Die Middernagtrein begin skryf.”

Hy het egter in Margate waar hy en sy band Jack Hammer by die Suidkusmotorfietsfees opgetree het tydens ’n vertoning van die verhoog af geval en twee rugwerwels gebreek. Hy moes noodgedwonge ’n paar weke in die hospitaal deurbring en sy planne moes toe maar effens aangepas word. “Teen Januarie 2018 het ons by Wolmer Studios inbeweeg, waar ons só baie van ons albums gedoen het. Ek het ’n maand gebly. Saam met die Jack Hammer band en Lanie van der Walt het ons iets gemaak waarop ek nogal trots is,” sê Piet in sy noppies.

En hy het reg om te wees. Alhoewel Die Middernagtrein maar kraakvars uit die ateljee is, besing aanhangers en resensente die land vol reeds die lof van die album en sy skepper met uitbundige entoesiasme. Gooi Piet soms sy oë oor die resensies? “O nee,” lag hy, “mens kyk maar, of hoor. Ons was meestal gelukkig die laaste dekade of twee, maar die musiek gebeur op die langpad en jy
gaan speel vir die mense.”

Of hy al ’n negatiewe ervaring met ’n resensie of resensent gehad het kan hy egter nie onthou nie. “Dalk toe ons baie jonk was. Met die heavy bands, soos Raven en Wildebeest, was daar dalk hier en daar iets, maar dit was so lank terug, circa 1979-1981. Party mense het net nie verstaan wat ons gedoen het nie,” vertel hy en raai laggend aan om “Kraaines” van Wildebeest op YouTube te gaan check.

Piet se Wildebeest dae mag ver agter hom wees, maar sedert die aankoms van sy eerste Afrikaanse album, ’n Suitcase Vol Winter, in 1997 het hy as Afrikaanse liedjieskrywer vir homself ’n plek langs die heel bestes uitgekerf. Met sy diep, persoonlike lirieke vang hy die donker en lig van die lewe met soveel fyn, afgemete sorg vas dat mens dikwels nie anders kan as om sy vakmanskap te bewonder nie. En Die Middernagtrein is geen uitsondering nie. As ’n mens jou ore spits, mag jy dalk net die fyn spore van Eugene Marais in ’n paar van Piet se nuwe liedjies raakluister.

Oor die invloed van Marais op sy werk is Piet nie skaam nie en sê dat hy Marais eers waarlik op universiteit ontdek het. “Mens het as kind van “Winternag” en “Die Siel Van Die Mier” geweet,
maar ek het nooit besef watter ongelooflike siel hy gehad het nie. Hy was ver voor sy tyd en daarbenewens die tragedie van sy persoonlike lewe. Hy is destyds so deur sy eie mense misverstaan, maar jare later toe gebruik hulle hom as ’n rolmodel van die intellektuele Afrikaner.”

Marais is egter nie die inspirasie vir al twaalf van die liedjies op Die Middernagtrein nie. Die tema van reën het ’n sterk teenwoordigheid in die lirieke; soms as ’n lewegewende fors, soms as die somber voorganger van groot hartseer. In “Modjadji” sing Piet: “maar jy/jys my reënkoningin/want jyt altyd geweet/hoe om die reën te bring/dankie my sweetheart.” In “Die Goue Strand” weer: “maar ai my skat/jy moes tog weet/hier kom die winter/hier kom die reën/en die donker man kom my haal.” Vir Piet bly reën iets dubbelsinnig; iets wonderliks, maar ook betwyfelbaar.

Hy sê egter dat die waterkrisis nie ’n direkte invloed op sy woorde gehad het nie: “Hier is die weird ding, dit het al voorheen gebeur met songs wat dan baie later waar word.”

Kan Piet die toekoms voorspel? Hy sê nee. “Dit was nooit so beplan nie, maar skielik was die tema oral in die songs en die droogte is hier. Ek verstaan dit self nie, maar ek is bly as ons ’n boodskap kan oordra, “want as die reën wegbly, moet die kos en water gedeel word”.

Hy kan dalk nie die toekoms voorspel nie, maar met sy lang grys hare en vol grys baard lyk Piet kompleet soos ’n towenaar van ouds; en hy is dit ook. Met kitaar in die hand trap hy deur die jare heen al voetspore waarin ’n eskader gevestigde en opkomende musikante volg. “Ek is bly as ons jong bands kan help,” sê Piet. “Ons doen dit al forever. Mens weet nooit waar jy ’n juweel gaan kry nie en daar is baie jong musikante, digters en skrywers wat baie goed doen.

Van sy eie rolmodelle en invloede bly hy egter baie bewus: “Rolmodelle het ek te veel, ek het in die beste tyd grootgeword, die 60’s. Selfs popmusiek was ongelooflik goed. Vir my gaan dit altyd oor die song, so obviously is dit Dylan, Cohen, Neil Young, Tom Petty, Stones, Beatles, Zeppelin, Purple, The Allman Brothers Band, Lynyrd Skynyrd en al die usual suspects. Daar is wel ’n paar dudes wat my meer gegryp het soos Nick Drake, John Martyn en Warren Zevon.”

Vir die Amerikaanse musikant, sanger, liedjieskrywer, digter, akteur en aktivis, Willie Nelson, het hy egter ’n baie spesiale plek in sy hart: “My grootste hero is Willie Nelson; songwriter, guitarist extraordinaire, road warrior en hy rook die beste weed in die heelal! Watter jong band wie se grootste held Piet dalk is, is sy gunsteling? Hy sê dat hy van hulle almal hou en dat hy hul vordering volg net waar hy kan. Dit was nog altyd opwindend as die nuwe bands kom met nuwe klank en aanslag. Partykeer was dit great en partykeer nie. Vir my is ’n song nie aan ’n genre gebonde nie, kyk
byvoorbeeld na “Hurt” wat Johnny Cash so wonderlik gedoen het.

“Dit bekommer my egter dat daar ’n tekort aan songwriters in die industrie is. Alles is mooi en poppy en gaan oor partytjie, maar waar is die mense wat die “groot lied” kan bring?”

As mens egter na al die toekennings kyk wat hy en sy band oor die jare versamel het, bly daar geen twyfel oor dat hy beslis al by verskeie geleenthede die “groot lied” gebring het nie. In Januarie 2002 word hy een van die eerste musikante om in die SA Rock Hall of Fame opgeneem te word en in Augustus 2003 word sy album, Die Mamba, as die beste album van 2003 deur die gesiene e-tydskrif, SA Rock Digest, benoem.

Op 6 Mei 2006, ontvang hy die South African Music Awards Lifetime Achievement Award vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek en word in dieselfde jaar nog die ontvanger van die FAK Prestigetoekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal.

Piet voel egter dat trofees ’n klug is wat deur die musiekindustrie gedryf word en hou nie daarvan om homself as ’n legende te beskou nie: “Ek glo musiek is nie ’n sportsoort nie. Maar myle het ek baie, meer as 5000 gigs. Die legend ding weet ek nie so mooi van nie, ek is net ’n musikant en sonder ’n band is jy niks.”

As Piet en Jack Hammer dan nie legendes is nie, is die musiek wat hulle oor die jare heen gemaak het en steeds maak beslis legendaries. Die tyd stap egter vir almal aan en Piet is geen uitsondering in hierdie geval nie. Hy vertel dat hy nie self byhou met goed soos webtuistes, Facebook, YouTube en blogs nie – die stapel van baie musikante se bemarkingspogings.

“O, maggies nee! Ek kan die internet bewerk, maar die ander goed is moeilik. My dogter Jessica, wat nou my baas is, doen maar hierdie goeters. Ek ken darem van WhatsApp,” sê hy spottend.

Piet se gunsteling tipe gigs is ook so eg aan homself. Dit maak nie saak of dit in donker kroeë waar rook soos mis hang of op goedbeligte, oop verhoë met rasende aanhangers so ver as wat jy kyk is nie. “Die ding met ’n gig is, jy weet nooit nie. Dit kan op ’n groot stage wees, dit kan in ’n klein pub wees, maar die magic kom maar net en as dit kom moet jy gryp. As ek moet eerlik wees, Ponta Malongane in Mozambique is die beste gig in die heelal!”

Foto: Jess Botha

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram