Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Tivan Leak

Maties het Maandagaand die Noordwes-Universiteit (Pukke) in ’n naelskraap semi-finaal oowin, om die tuisfinaal van die Varsity Sports Hokkietoernooi te eis.

Die telling was twee elk toe die amptelike tyd verstreke was. Maties moes dus Pukke in ’n uitskietsessie uitoorlê om die finaal te kon haal. Die reëls vir hierdie seisoen van Varsity Sports Hokkie stel vas dat velddoele, doele wat aangeteken word tydens ope spel, twee punte tel, terwyl strafbewegings wat verdoel word een punt elk tel.

Daar is soos oudergewoonte ook ’n Power Play waartydens twee spelers van die opponerende span die veld moet verlaat. Alle doele wat gedurende hierdie twee minute aangeteken word tel twee punte. Pukke het in die vroeë oomblikke van die wedstryd ’n velddoel aangeteken en het halftyd ingegaan met twee punte teenoor Maties se nul.

Maties het egter in die tweede helfte van die wedstryd twee strafbewegings verdoel om die telling gelyk te maak. Pukke het ná Maties se twee doele weer ’n doel aangeteken, maar na afloop van ’n hersiening is daar besluit dat hierdie doel nie toegeken kon word nie. Die twee spanne het dus gelykop in die uitskietsessies ingegaan om die wenner te bepaal.

Maties het uiteindelik 2–0 met die louere weggestap na afloop van die uitskietsessie.

Martin Schouten, assistent-afrigter van Maties, het gesê dat hulle geweet het dat dit ’n moeilike wedstryd sou wees aangesien Pukke in die uitspeelrondes een van Maties se moeiliker wedstryde vir die toernooi was. “Pukke se spel het ons spel ontwrig. Ons speel gewoonlik ’n baie georiënteerde aangeespel,” het Schouten gesê.

Pukke het die bal lank en deur die lug aangegee oor die veld. Hulle verdediging was ook sterk en volgens Schouten was Maties nie gewoond aan hulle span nie. Maties se doelwagter, Robert
McKinley, het veral uitgeblink met sy aangrypende reddingspogings. Mckinley het vier agtereenvolgende doele tydens die uitskietsessies gekeer. “Mckinley, ons doelwagter, was ’n absolute held gewees vir die span tydens die een-tot-een uitskietsessies.”

Schouten het uitgewys dat Alex Stewart, die kaptein van die span tot dusver menigte speler-van-diewedstryd- toekennings deur die loop van die toernooi verwerf het. Stewart het ook, volgens Schouten, die span deur die loop van die toernooi tot ’n eenheid gebind.

Maties is tot dusver onoorwonne in die toernooi. Schouten het gesê dat die span nie tevrede was met hulle spel teen Pukke nie, maar dat hulle wel gelukkig is met die uitslag van die wedstryd. Hy het ook gesê dat die span opgewonde is oor die tuis-finaal en die geleentheid om beter te speel as in die semi-finaal.

Maties sal teen die Universiteit van Pretoria (Tuks) meeding in die finaal van die Varsity Sports Hokkietoernooi Die finaal gaan op Maties se astrobaan op 21 Mei 2018 plaasvind en sal ook op SuperSport uitgesaai word.

Foto: Varsity Sports

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial