Anke van der Merwe

Suid-Afrika het ’n spoggerige 13 goue, 11 silwer en 13 brons medaljes by vanjaar se Statebondspele ingepalm. Naas die individuele prestasies het Suid-Afrika ook sesde op die algehele punteleer geëindig.

Christian Sadie het ’n silwer medalje vir Suid-Afrika in die mans S7-klas 50 m-vryslag verlede Maandag losgeswem. Dié 21-jarige Matie het die hoogtepunt van sy loopbaan bereik met ’n tyd van 29.54 sekondes. Australië se Matthew Levy het goud gewen in dieselfde item. Op die atletiekbaan het Maties behoorlik stof in die ander atlete se oë geskop. Dyan Neille Buis en Charl du Toit het beide in die T38-klas 100 m-naellopefinaal medaljes gewen.

Buis het met die silwer weggedraf na ’n legendariese “dip” oor die wenstreep en ’n tyd van 11.33 sekondes. Charl du Toit, wat in die T37-klas deelgeneem het, het met die brons ’n splinternuwe wêreldrekord opgestel met ’n tyd van 11.35 sekondes.

Du Toit het met baie dankbaarheid beskryf hoe lekker dit was toe hy die telbord gesien het: “Ek het op Dyan gespring toe ek die tyd sien. Dit was regtig spesiaal om daardie oomblik met hom te kon deel. Dit was die eerste keer ooit wat ek en Dyan kon saam hardloop by ’n internasionale byeenkoms. Dit was regtig ’n great
gevoel gewees.”

Du Toit het bygevoeg dat hulle ook kamermaats is en by dieselfde afrigter oefen. Verder het Du Toit baie lof vir die span by Maties gehad: “Ek wil hulle regtig bedank vir die groot
ondersteuningsrol wat hulle gespeel het. Ek glo regtig dat die Universiteit Stellenbosch die universiteit is wat die meeste vir gestremde atlete in die land doen.”

Daar was effense ontsteltenis in die atletiekgemeenskap toe Du Toit voor die byeenkoms gesê het dat dit sy laaste 100 m gaan wees. Na die wedloop is hy egter nie meer so seker nie. “Alles hang maar af van hoe Tokio se program lyk. As die 100 m na die 400 m is, sal ek dit oorweeg. Maar die 400 m bly my eerste prioriteit.” Maties se 2017 sportman van die jaar, Keenan Horne, het vir Suid- Afrika se manshokkiespan uitgedraf.

Die span het tiende geëindig, met net een wedstryd wat 2-0 teen Kanada gewen is.

Foto: Maties High Performance