Koshuiskos op Instagram

Kara van der Berg

“Met sout en liefde. Spiekerish resepte vir studente.” Só lees Koshuiskos, ’n nuwe kosblog, se Instagram bio.

Elke koshuisstudent het al moeg geraak vir die bespreekte etes in die koshuis. Vir die gemiddelde student wat op kampus woon, is kosmaak ’n intimiderende taak wat baie moeite, tyd en gereedskap verg.

Hierdie blog is vanjaar in Februarie deur Lyn-Marié Smit, ’n derdejaar-BCom-student in beleggingsbestuur en inwoner van Heemstede Dameskoshuis, begin.

“Daar is baie redes waarom ek hierdie blog begin het,” het Smit gesê. “Eerstens, my liefde vir kos en onthaal. Tweedens, ek het twee broers en hulle kan glad nie kos maak nie. Voordat ek Stellenbosch toe gekom het, moes ek vir dié twee ’n crash course gegee het, maar ek het besef dit gaan veel meer as dit vat. Dus – ’n kosblog!”

Alhoewel die naam klink asof die blad net op koshuisstudente gemik is, wil Smit vir enige iemand met min tyd, kookgereedskap en geld wys hoe maklik dit kan wees om vir een te kook. Selfs al is dit in ’n klein kombuis of ’n koshuiskamer.

“Dis lekkerder as jou ma se kos,” spot die blad.

Met 400 volgelinge en 18 plasings is die blad nog in ’n ontwikkelingsfase. Tog wil Smit dit ’n intieme gemeenskap hou waar sy vir mense persoonlike raad kan gee.

“Sannie moet my kan vra wat om te doen met die tamaties in haar yskas wat afgaan. My visie vir die blad is dat ek graag vir studente wil wys hoe maklik dit is om lekker kos te maak, al het jy beperkte kookgereedskap en ’n stywe budget. Dus deel ek specials en wenke en probeer soveel moontlik verskillende gereedskap gebruik.”

Smit beskryf haarself as ’n foodie, maar tog is Koshuiskos se resepte maklik en gerieflik. Dit maak nie saak hoe ervare jy in die kombuis is nie. Die wenke wat sy deel is vir die gemiddelde koshuisinwoner toepaslik.

Van die wenke wat sy al gedeel het, sluit in om by COB sekere bestanddele te koop wat goedkoper is en só tyd en geld te spaar, of watter soort gevriesde groente die langste sal hou.

“My advies vir studente is dat jy niks fancy nodig het nie. Jy kan met die basics die lekkerste kos maak. Begin net.”

So moet nie jou volgende ete in die koshuis bespreek nie; gebruik eerder een van Koshuiskos se resepte.

Volg @koshuiskos vir inspirasie en wenke.

Foto: Instagram

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram