Annerine Snyman
Atletiek
Maties se atlete het verlede jaar uitstekend in die Boland Senior Atletiek Kampioenskappe gevaar. Hulle het aan twee Varsity Atletiek
byeenkomste deelgeneem en verder het Maties die plaaslike atletiekseisoen met vyf goue, drie silwer en twee brons medaljes afgesluit.
By die USSA-toernooi het hulle vierde geëindig en die volgende S.A. studente kampioene opgelewer: Juan de Swardt, Justine Palframan, JeanMaré Senekal, Nienka du Toit en die 4×400 m mans aflos.
Basketbal
Basketbal is nog redelik onbekend by die US, maar verlede jaar was daar ’n paar eerstes. Die USSAbasketbalkompetisie was onder
andere vir die eerste keer deur die US aangebied. Fietsry Maties is verlede jaar as die USSA-kampioene vir die derde agtereenvolgende jaar gekroon. Matieryers het elke fase van die kompetisie gewen en gevolglik het beide die man- en vrouespan die padkompetisie gewen.
Maties se vrouespan het vir die tweede jaar die Varsity MTB gewen en die mans het naelskraaps teen Ikeys verloor.
Hokkie
Maties se vrouespan het ’n voorspoedige Varsity Sportskompetisie gehad en het ’n algehele tweede plek verwerf. Beide die Maties man- en vrouespanne is as kampioene van die WP Grand Challenge gekroon. Die vrouespan het vir die 16de keer in die afegelope 17 jaar hierdie
kompetisie gewen. Die manspan het hulle historiese wenstreek voortgesit en die liga vir die vyfde keer in ’n ry gewen.
Krieket
Maties het derde in die 2017 Varsity Krieket-kompetisie geëindig. Hulle het ook as kampioene in die Bolandliga geëindig, waarna hulle ná
twee ander uitspeelrondes deurgedring het na die nasionale klubkompetisie. By hierdie kompetisie het hulle brons gevat. Maties het vierde by USSA geëindig.
Netbal
Weens beserings het Maties ’n teleurstellende USSA beleef en moes hulle met ’n vyfde plek tevrede wees. Nadat hulle nuwe kragte opgebou het, het hulle die Varsity Netbalkompetisie aangepak. Hulle het ’n plek in die finaal misgeloop, maar het darem uiteindelik
derde geëindig.
Rugby
Maties het vir die tweede agtereenvolgende jaar in die Varsitybeker finaal gespeel, maar ongelukkig weer die goud deur hulle vingers laat glip. As troosprys het Matiespelers met drie van die mees gesogte toekennings weggestap: Craig Barry is as die beste agterspeler aangewys en as die Varsitybeker droomspan se kaptein gekies.
Kobus van Dyk was die beste voorspeler en algeheel beste speler van die kompetisie. Maties het hulle egter by USSA bewys en die titel gewen.
Rugby Sewes
Maties het onoorwonne hulle USSA-titel verdedig en het vyf van die afgelope sewe USSA-sewestoernooie gewen. Hulle sal ook later vanjaar aan die Varsity Sports-sewestoernooi deelneem.
Sokker
Sokker is ook een van Maties se onbekende sporte. Die mans en vroue sokker spanne het verlede jaar vir die eerste keer aan USSA deelgeneem.
Swem
By die jaarlikse USSA-kompetisie het die vrouespan hulle kategorie gewen en die mans het tweede geëindig. Dit het vir Maties ’n algeheel tweede plek bewerkstellig. Emma Chelius het uitstekend gevaar verlede jaar.
Ander uitblinkers was Marli Jacobs en Maties Swem se para-atlete, Hendri Herbst, Alani Ferreira en Christian Sadie.