Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Elodi Troskie

Nicolaas de Jongh se kortfilm, Wilgerdal, is as honneursprojek gemaak en word in November bekendgestel.

De Jongh is ’n honneursstudent in Drama en spesialiseer in regie. As deel van sy finalejaarsprojek, het hy C.J. Langenhoven se “Die Bouval op Wilgerdal” verwerk as ’n kortfilm, Wilgerdal.

“Ons wou ’n film vir studente maak,” sê De Jongh. Hy verduidelik dat hy die oorspronklike teks gemoderniseer het sodat ’n hedendaagse gehoor daarby aanklank sal vind.

Vir die drama honneurskursus, moet studente twee toneelstukke van reedsbestaande tekste regisseur. Omdat De Jongh meer in film as teater belangstel, het hy besluit om ’n kortfilm eerder as toneel te regisseur.

“Ek is ’n baie groot aanhanger van Langenhoven se stories en wou ’n nuwe manier kry om sy stories te vertel,” sê De Jongh. “Ek wou ook eksperimenteer met temas soos heksery en spoke in Afrikaanse film.”

Volgens hom word hierdie temas nie dikwels in Afrikaanse film aangeraak nie. Hy het hierdie projek dus as ideale geleentheid beskou om daarmee te eksperimenteer.

Die oorspronklike teks is ook om finansiële redes aangepas. “Die oorspronklike storie het in die 1920’s afgespeel en finansieël was dit makliker om die storie in hedendaagse tyd te laat afspeel,” verduidelik De Jongh.

Soos Langenhoven se verhaal, is die kortfilm ’n spookstorie. In die kortverhaal is daar egter ook nuwe temas om meer diepte en betekenis tot die verhaal te voeg.

Dit het ’n paar probeerslae geverg voor De Jongh toestemming gekry het om ’n film in plaas van ’n toneelstuk, soos voorgeskryf, te regisseur. Hy verduidelik dat die puntetoekenning aangepas moes word aangesien die regie van film en teater baie van mekaar verskil.

Na hy toestemming ontvang het om met die projek voort te gaan, het hy Langenhoven se teks onder leiding van Albert Snyman in ’n draaiboek omskep. Snyman is die vervaardiger van Boekklub en Boland Moorde.

Die projek is deur die Dramadepartement befonds.

Die film het ’n speeltyd van 50 minute en is ’n mengsel van Afrikaans en Engels.

Die rolverdeling bestaan hoofsaaklik uit US-dramastudente met Michelle le Roux en Hendrik Nieuwoudt in die hoofrolle. Ander studente wat in die film speel is Carla Smith, Hershelle Benjamin, Ian van der Westhuizen en Dané de Waal. Stian Bam, Antoinette Kellerman en Edwin van der Walt is ook in die film te sien.

Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, het die klankbaan ontwerp.

Wilgerdal word 7 November by Pulp bekendgestel en sal tot 12 November in die teater speel.

Honneursstudent eksperimenteer met Afrikaanse film.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial