’n Nuwe beeldhouwerk getiteld “Dinkbeeld: Smeltkroes” pryk nou buite die Endler-saal in Victoriastraat by die Universiteit Stellenbosch (US). Die groter as lewensgroot bank is versier met inheemse voëls wat rustig op die bank wag. Die beeldhouwerk is geskenk deur Adrian Enthoven en Dominique Enthoven, en moedig rus en nadenking by die kyker aan. Die kunswerk is ’n betekenisvolle bydrae tot die universiteit se groeiende openbare kunsversameling.

“Dinkbeeld: Smeltkroes” vorm deel van ’n groter visie wat begin het met die “Think” beeldhouwerk buite die Fakulteit Ingenieurswese. Hierdie beeldhouwerk, wat ook ontwerp is om nadenking uit te lok, moedig studente aan om te bevraagteken eerder as om inligting op sigwaarde te aanvaar. “Smeltkroes” bou voort op hierdie idee – dit bevorder nadenking en ’n dieper betrokkenheid by die ruimte, herinnering en betekenis. Die uitstalling is gereël deur die Direkteur van Spesiale Projekte by die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, Pieter Swart, wat ’n hoofrol gespeel het in die integrasie van openbare kuns met die universiteitslandskap. Swart glo dat kuns sinoniem is met konneksie. Hy sê: “Die hele idee is om die Universiteit Stellenbosch-kampus met die dorp te verbind en besoekers na Stellenbosch te bring.”
Banke is histories simbole van pyn en diskriminasie in Suid-Afrika se geskiedenis van segregasie. Met “Smeltkroes” word hierdie pynlike simbool herdink. Die bankie word ’n plek van vrede en insluiting; ’n verskeidenheid inheemse voëls deel die bank. Hul stille, gesamentlike teenwoordigheid simboliseer diversiteit, vrede en die moontlikheid van harmonie. Die voëls is deels geïnspireer deur die Heilige Franciscus van Assisi, “die bevorderaar van vrede, eenvoud en harmonie,” verduidelik Swart en voeg by: “Hy is ook die beskermheilige van armes, diere en die ekologie.”
Die beeldhouwerk se naam, “Smeltkroes”, voeg nog ’n laag van betekenis by. ’n Smeltkroes is ’n houer waarin metaal onder intense hitte gesmelt word om ’n kunswerk te vorm. Dit verwys na Suid-Afrika se moeilike, maar transformerende geskiedenis, en die hoop op eenheid wat deur die stryd versterk is.
Hierdie beeld verbind die US met die dorp en nooi die publiek uit om gratis met die kuns in gesprek te tree. Daar is planne om ’n kort beskrywing van die kunswerk en ’n QR-kode met bykomende inligting te installeer.
Die innoverende kunstenaars agter die kunswerk, Claudette Schrueders en Anton Kannemeyer, is albei alumni van die US. “Smeltkroes” sal ook in New York uitgestal word, wat sy huidige tuiste op die Stellenbosch-kampus ’n opwindende toevoeging tot die universiteitslewe maak. Dit is ’n voorreg om die eerste oorspronklike weergawe van ’n kunswerk wat internasionaal vertoon mag word, hier in Stellenbosch te hê. ’n Mens kan verdere kunswerke met dieselfde tema verwag, soos die kollektiewe studentewerk, “Cinga” (“om te dink” in isiXhosa).

As jy volgende keer verby die reusebank stap, kyk ’n bietjie nader. Elke voël, elke bronskurwe, elke detail vertel ’n groter storie. “Smeltkroes” is ’n plek van subtiele aktivisme en ’n herwinning van ruimtes wat eens deur haat oorheers is. “Dinkbeeld: Smeltkroes” is meer as net ’n beeldhouwerk – dit word ’n simbool van hoop, herinnering en gedeelde ruimte.
Deur Abigail Powell – Vertaal deur Rua Mostert