Deur Emma Hamman
Vir die eerste keer in byna twee jaar is Maties besig om stowwerige rugbytoks uit koshuiskaste te haal – koshuisrugby is terug! Ná twee rondtes van uitklopwedstryde, en ’n semifinaal, sluit die finaal tussen Helderberg en Huis Marais die o. 20-rugbytoernooi af.
Koshuisrugby is ’n gewilde aktiwiteit onder Maties en is ’n jare lange tradisie. Ná die uitbreek van die pandemie is sporte soos netbal, hokkie en sokker reeds vanaf verlede jaar aan die gang, waar kontaksporte soos rugby weens COVID-19-protokol nie toegelaat is nie. Dié geliefde sport was egter gemis, soos die opwinding van studente aandui noudat dit weer begin het. Die toernooi bied ’n geleentheid vir studente aan om aktief te wees en aan sport op kampus deel te neem .
Vir die spelers is die terugkeer na die veld en die seer lywe ná die wedstryd ’n aanpassing, maar ’n groot opwinding. ’n Eerstejaar-LLB-student, Theuns du Toit, neem hierdie jaar sy posisie as flank vir Huis Marais in om sy koshuis te verteenwoordig.
“Dit is lekker om ná so lang ruk terug [te] wees op die veld en weer gereeld wedstryde te speel. Wat vir my uitstaan in die verskil tussen koshuisrugby en skoolrugby is hoeveel harder die kontak [tussen spelers] in die wedstryde is, asook om saam met ouens te speel wat jy heeldag, elke dag sien,” het Du Toit gesê. Hy het ook in die eerste uitkloprondte van 1 Maart vir sy span ’n drie aangeteken.Die gewilde o. 20-rugbytoer-nooi het op Dinsdag 1 Maart afgeskop en koshuisinwoners was vol gees vir dié gebeurtenis. In die eerste rondte van die uitklopwedstryde was dit ’n groot sukses vir koshuise soos Helshoogte, wat Elsenburg 18 – 17 geklop het, en Huis Marais wat Dagbreek 31 – 5 gewen het.
Die tweede rondte uitklop-wedstryde het op Dinsdag 8 Maart plaasgevind. Dagbreek het 12 – 11 gewen teen Eendrag, en Elsenburg het Wilgenhof aangevat en 10 – 3 gewen. Dit sluit die uitkloprondtes af met ’n spannende finaal wat voorlê.“Ons is baie bly rugby en sport oor die algemeen is terug en uiteindelik aan die gang,” het Lombard Basson, HK-lid vir sport by Dagbreek-manskoshuis, gesê. Hy het ook hierdie jaar se koshuisrugby as “’n heel ander ervaring” beskryf. Ondersteuning by sport-byeenkomste is een van die aspekte van kampuslewe wat koshuisinwoners bymekaar bring en sterk bande word so gevorm.