Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR JEAN-MARIE UYS

Adam & Eve Collab is lank nie meer ’n vreemdeling op Stellenbosch se strate nie. Die strate kan getuig oor hierdie besigheid se groei vanuit die destydse Trumpet Tree, na Courtyard Café, tot waar hulle vandag handeldryf uit hulle eie winkels in beide 53 Dorpstraat en 10 Millstraat. Die eienaar, Danneel Stone, verklap egter aan Die Matie dat hulle beoog om vele nuwe opwindings oor die strate uit te rol.

Dit is asof die Adam & Eve-span met nuwe moed uit die as opgestaan het ná die sluiting van 51st Dates, ’n sosiale kafee wat op die been gebring is deur dié besigheid in middel Junie hierdie jaar en druk ervaar het onder inperkingsmaatreëls en inbrake. Stone vertel hoe hulle vele planne in die pyplyn vir die toekoms het, insluitend ’n Secret Garden (waar hulle in samewerking gaan tree met nuwe besighede landwyd), DIY-klasse teen studente-sonder-sente pryse, ’n Thriftmas-markie, asook ’n groot en eksklusiewe projek in samewerking met die besigheid Pretty Casual.

Alhoewel inligting rondom die ligging en oopmaak van die Secret Garden nog ’n geheim gehou word, is dit wel iets om van te weet. Stone se visie vir hierdie tuinprojek is dat dit ’n area van stilte kan wees vir dié wat moeg is vir die geraas in die middel van Stellenbosch. “Ons wil nie musiek speel nie; ons dink die natuur praat vir homself.” 

Besoekers sal hier die restaurantervaring kan geniet sonder die winkelgevoel terwyl hulle voortgaan met hulle Paint-a-pot-handewerk. “Dit gaan regtig só ’n rustige gevoel wees waar mense sit en potte verf en die stilte net eintlik geniet,” meen Stone.

BESOEKERS GAAN KREATIEF TE WERKE aan hulle Paint-a-pot-potjies by Adam & Eve Collab in Dorpstraat. Verskaf deur https://adamandevecollab.net.

Die Secret Garden gaan ook oor ’n kweekhuis beskik met vele plante en bankies waarop besoekers die groenigheid sal kan geniet. Dit is ook in hierdie tuin waar DIY-klasse soos hekel (oftewel macramé) teen billike pryse aangebied gaan word. 

Daar is ook ter sprake van Movie Nights en yoga-klasse. Stone verduidelik: “Dit gaan nie net ’n gewone yoga-klas wees nie.” Omdat hy daarin glo dat dit belangrik is om klein oomblikke spesiaal te maak eerder as om te veel aan te pak en dit af te skeep, glo Stone ook dat hierdie klasse ’n spesiale ervaring gaan wees. “Ons wil nie hê mense moet net yoga doen, vars voel en gaan nie. Hulle moet regtig ’n memory saam met hulle vat.”

Adam & Eve Collab se winkel is self ook besig om te bou op die verskeidenheid produkte wat hulle bied en die winkel se markie gevoel só aan te vul. Die besigheid is gebou op collaborations met plaaslike klere besighede in en rondom die Kaap, maar beoog om die rakke te vul met nuwe produkte van besighede regoor die land wat iets van alles insluit. 

“Daar is baie brands daar buite wat ons gesien het wat regtig dié coolste produkte het waarmee ons graag sal wil link en die ervaring rondom ons produkte net bietjie meer maak as wat dit nou op die oomblik is,” sê Stone. 

Verder beplan Adam & Eve Collab om hulle langstaande verhouding met die Kaapse klere besigheid, Pretty Casual, te versterk deur ’n nuwe en eksklusiewe produk saam bekend te stel. Details oor hierdie produk word op hierdie stadium nog stilgehou en vorm deel van Adam & Eve Collab se geheime versameling.

Die nuutste verwikkelinge sal op die besigheid se webtuiste en hulle Instagram-blad (@adamandevecollab) bekendgemaak word. Aanhangers word wel gerus gestel dat dit nie kort voor lank sal wees tot vars ervarings oor Stellenbosch se strate uitgerol sal word nie.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial