DEUR WILLIAM SEZOE
Die Universiteit Stellenbosch (US) is in rou gelaat na die afsterwe van die geliefde prof. Mary-Anne Plaatjies van Huffel, ook bekend as prof. MA. Sy was verbonde aan die fakulteit teologie, en was die eerste swart vrou wat tot hoogleraar aan die fakulteit teologie aan die US bevorder is. Sy sou later vanjaar amptelik ingehuldig word as US-professor in kerkgeskiedenis en kerkreg.
Plaatjies van Huffel het op 19 Mei haar lewe verloor, nadat daar komplikasies was met ’n operasie wat sy moes ondergaan. Prof. Plaatjies van Huffel het nog voor haar operasie op Facebook geplaas dat familie en vriende vir haar moet bid. “Ek sit met uitdagings rondom my gesondheid sedert verlede jaar. Ek was 9 April opgeneem en sal binnekort gaan vir ’n operasie om die kankergroeisel te verwyder. Daarna sal ek vir chemoterapie gaan. Bid asseblief vir my.”
Prof. Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier, het aan Netwerk24 gesê dat hy haar as ’n waardevolle kollega sal onthou. “Plaatjies van Huffel is einde verlede jaar bevorder tot vol professor in kerkreg. Sy was ’n gerekende kenner op hierdie gebied en ’n baanbreker. Sy was die eerste vrouepredikant in die VGK (Verenigde Gereformeerde Kerk) en NG-kerk. Ons gaan die kollega mis en ons innige medelye met haar familie en kollegas,” sê de Villiers.
Kollegas, familie en vriende het op 29 Mei finaal afskeid geneem van Prof. Plaatjies van Huffel, wat veral onthou sal word vir haar bydrae tot die beklemtoning van die rol van vroue in die kerk. Sy het in 1992 geskiedenis gemaak toe sy as die eerste vroueprediker in die NG-kerkfamilie optree. Sy was van die eerstes wat by die NG-kerk Teologiese Skool gegradueer het nadat hulle besluit het om die kollege se deure in 1986 ook vir vroue oop te maak. In 1992 het sy haar rol as prediker by die Robertson-gemeente begin, waar sy baanbrekerwerk verrig het. Sy was nie net die eerste vrou wat ’n prediker in die NG-familiekerk geword het nie, maar ook die eerste vrouemoderator van die algemene sinode van die VGKSA en die adjunk-president van die Wêreldraad van Kerke vir Afrika.
Die dekaan van die fakulteit teologie prof. Reggie Nel beskryf prof. Plaatjies van Huffel as ’n merkwaardige persoon wat baanbrekerwerk verrig het. ‘’Sy het ’n onuitwisbare indruk gemaak op haar vakgebied en in die harte en gedagtes van haar kollegas en studente. Ons bring hulde aan haar opmerklike talente, prestasies en bydraes, maar ons onthou haar bowenal vir haar onwrikbare moed, haar lieflikheid en haar groot hart,” sê hy.
Een van haar kollegas by die fakulteit teologie prof. Dion Forster beskryf Plaatjies van Huffel as ’n ware leier. “Sy was ’n goeie kollega, ’n ware leier, ’n vriendin, en sy was fenomenaal. Sy was iemand op wie ons kon vertrou en op staatmaak vir advies en ondersteuning. Sy laat ’n groot nalatenskap agter. Ons treur haar dood, maar ons vier ook haar lewe.”
In ’n dokumentêre reeks Diep Spore, wat op die DSTV Kanaal KykNET uitgesaai word, het een gemeentelid van die Robertson VGK-gemeente prof. Plaatjies van Huffel beskryf as ’n verskilmaker. “Sy het die VGK-kerk hoop gegee nadat dit baie swaar gegaan het met die gemeente. Sy het ’n tuin begin asook verskeie gemeenskapsinisiatiewe waarvan ’n dienssentrum vir die gemeenskap een van die projekte was,” sê Andries Arendse.
Dr. Llewellyn MacMaster, moderator van die VGKSA Streeksinode Kaapland, beskryf prof. Plaatjies van Huffel as ’n merkwaardige vrou. “Sy het die kerk op soveel vlakke gedien – selfs wêreldwyd is sy erken vir haar leierskap. As VGKSA treur ons oor ’n pionier wat groot werk gedoen het.”
Prof. Plaatjies van Huffel was ook ’n inspirasie vir baie. Met haar afsterwe het duisende medelye op sosiale media-platforms ingestroom om die vroueleier te herdenk vir haar bydrae tot die
transformasie van vroueregte binne die kerk en ook haar rol tot die verandering in baie gemeenskappe.