Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

BY KARLA VAN DER MERWE

DIE Kaapstad-Fietstoer, beter bekend as die Argus, het vanjaar sy42ste wedren op 8 Maart aangebied. Die wêreldbekende 109 km lange fietstoer was vanjaar egte op ’n unieke manier deur ’n groep Maties aangepak.

Die Hippocampus-span, ’n groep mediese- en fisioterapiestudente, het die fietstoer op die vintage Matie-fietse aangedurf wat mens elke dag in ’n maroen blur verby jou op kampus sien ry.

Na hul agt dae lange reis van 1000 km vanaf Vioolsdrift af tot by Kaap Agulhas, het die span gevoel dat 109 km in een dag nie uitdagend genoeg vir hulle was nie. Hierdie eerste toer saam vanaf die noordelike grens tot die land se mees suidelike punt is in 2018 voltooi as ’n fondsinsamelingsinisiatief deur die Hippocampus-span. Dis toe dat die idee ontstaan het dat hulle die toer met Matie-fietse kan aanpak.

Daar is egter ’n paar uitdagings. Die Matie-fietse het slegs een rat. Terwyl een rat fietse ideaal is vir pendelaars soos studente wat van klas tot klas ry, skep dit egter ’n uitdaging vir fietsryers wat ’n roete soos die een van die Kaapstad-Fietstoer gaan ry met sy afwisselende platter en steiler gedeeltes. Die groot mandjie vooraan maak dinge ook nie juis makliker nie.

Die Hippocampus-fietsryers is egter nie hierdeur afgeskrik nie.

“Dis ook ’n cool manier om die Matie-fiets op die proef te stel en ook om te wys dat hulle in staat is om die ektra myl of 109 te kan gaan,” sê Breda Reed, een van die spanlede.

Reed vertel dat toe hulle die Argus verlede jaar ook só aangepak het, baie mense hulle afgeraai het om dit met die Matie-fietse te doen.

Daar is verder aan die span gesê het dat hulle sal sukkel en besef dat dit ’n onnosele plan was. Toe dit egter duidelik raak teen die laaste 60 km dat hulle gaan klaarmaak, het dieselfde mense hulle as helde bestempel.

“Daar gaan altyd ’n risiko verbonde wees as jy iets skouspelagtig aanpak. Jy kan óf in die 60 km leef waarin mense vir jou sê jy kan dit nie doen nie, óf jy kan in daardie 60 km leef waar mense sê dat jy ’n held is,” filosofeer Reed.

Die span het drie weke gelede begin oefen vir die wedren en meld elke oggend sesuur aan om te gaan spin waartydens hulle vir tussen 35 en 45 minute hard oefen. Reed verduidelik dat dit nie soseer ’n fisiese voorbereiding is nie, maar eerder ook ’n geestelike voorbereiding.

Hippocampus is egter nie net ’n fietsryspan vir die genot nie. Die span pak toere soos die Kaapstad-Fietstoer en hulle 1000km-toer aan om geld in te samel vir studente wat finansiële ondersteuning benodig.

Tydens hulle 1000 km-toer het hulle meer as R600 000 ingesamel en hulle beoog om aan te hou om meer studente te help. Enige iemand kan bydra en ’n donasie maak by https://hippocampusteam.co.za/.

Die groep het almal sterk geëindig rondom die ses uur-merk met 26 fietsryers op Matie-fietse en twee op normale fietse.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial