Carla Visagie het gesels met die Matie-alumna en kranige aktrise Carla Smith wat oor die afgelope 13 weke kykers se hartsnare geroer het in die kykNET-reeks Tydelik Terminaal.
As jy die dinamiese donkerkop Carla Smith op die kassie sien, is dit moeilik om te dink sy moes soos enige ander student klasdraf. As jy in ag neem dat haar gunstelingplek die bedjie op haar woonstel se stoep met ’n glas wyn in die een hand en ’n bak frozen yogurt in die ander is, kan sy amper soos een van ons gewone spul lyk. Die storie loop egter bietjie anders.
Carla, wat verlede jaar haar HonsBA (Drama en Teaterstudie) aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het, hou kykers sedert Oktober verlede jaar vasgenael voor die kassie in Tydelik Terminaal, ’n 13-episode dramareeks op kykNET.
Sy vertolk die rol van Kittie Claassen, ’n 22-jarige HonsBA (Joernalistiek)-student wat haar joernalistieke drome opsy moet skuif wanneer sy gediagnoseer word met die klierkanker Hodgkin se siekte.
In die reeks stap sy die reis met haar twee beste vriende, Fanie (Hendrik Niewoudt), wat saam met Smith aan die US studeer het, en Mandy (Eve Rasimeni).
Tydens haar ses maande lange reis ontmoet sy nuwe vriende wat haar ’n nuwe perspektief op die lewe gee.
Dié reeks is deur die ervarings van sy skepper Elanie Rupping geïnspireer, wat self ook met Hodgkin se siekte in haar honneursjaar gediagnoseer is.
Carla moes haar hare afskeer om behoorlik in Kittie se karakter te kon klim en moes die uitdagings van so ’n gedaanteverwisseling trotseer.
“Die oggend was baie sleg, omdat mens dikwels agter mens se hare wegkruip, maar die geselskap, die produksiespan en Elanie se bystand het dit soveel makliker gemaak. Terwyl ons geskiet het, het almal in die deur gestaan, geglimlag en my aangemoedig.
“Dit is natuurlik ’n baie sensitiewe storie omdat so baie gesinne al geraak is deur hierdie siekte. Daarom was my grootste uitdaging om dit met deernis en eerlikheid oor te dra.
“Omdat dit nodig was vir die storie, al was dit aanvanklik moeilik, het ek met trots daarmee geloop,” sê Carla.
Wanneer mens op die televisie moet verskyn terwyl jou dosente van jou verwag om klas by te woon, kan dinge soms moeilik raak. Carla sê sy het aanvanklik gedink dat sy nie haar klasse en rolspel sou kon balanseer nie, maar sy het na haar klasraamwerk gekyk en uitgewerk watter klasse sy sou kon mis. Verder het sy vergaderings met haar dosente gehad en take vroegtydig ingegee.
Het sy dan reeds van kindsbeen af gedroom daarvan om op universiteit al op die kassie te wees? Carla meen sy is nie die soort wat voor die televisiekameras gebore is nie en wou aanvanklik ’n dokter word.
“Ek het altyd dokter-dokter met my sussie gespeel en gedink ek sal die tamatiesous met bloed kan verruil – toe nie. Dit was seker toe ek in my ma se ou klere begin paradeer het nadat netbal my verveel het,” sê sy.
Carla het aanvanklik nie vir die rol van Kittie oudisie nie, aangesien sy geweet het dat dit met haar studies sou bots. Sy is egter gevra om ’n video-oudisie in te stuur sodat sy op die regisseur se boeke kan wees.
“My WeTransfer het belaglik lank gevat [om die video te stuur] en toe hulle dit ontvang was dit al die dag van die callbacks. Ek en Hendrik Nieuwoudt moes binne vyf minute vir die regisseur, Etienne Fourie, een van die tonele doen voor hy moes haas na sy volgende afspraak toe.”
Dit blyk toe dat die jong aktrise nie veel tyd nodig gehad om die rol los te slaan nie.
Ten spyte daarvan dat die verfilmingsproses baie vinnig moes verloop en dat sy “elke dag met ’n glimlag en Red Bull moes vier”, sê Carla dat die lekkerste deel van die verfilming die groep mense was waarmee sy gewerk het.
“Dit was ongelooflik spesiaal om saam met Anna-Mart van der Merwe en Henrietta Gryffenberg te speel en dan natuurlik was daar oneindigend baie pret saam met Fanie (Hendrik Nieuwoudt) en Mandy (Eve Rasimeni),” sê sy.
Alhoewel die reeks van ’n sensitiewe en dramatiese aard is, verklap Carla dat daar ook ligte oomblikke agter die skerms was.
“Daar was ’n toneel in episode een met Stian Smith waar hy ’n ernstige karakter moes speel voor ’n belaglike gangster-looking muur. Tussen skote het ons gerap terwyl hy in sy leunstoel getol het en ons het gestik van die lag – niemand anders het gedink dis snaaks nie.”
Carla trek nou wel vanjaar Kaap toe, maar is sy nog nie klaar met Stellenbosch nie. Haar “ander helfte” studeer hier en sy is by vele Woordfees-produksies betrokke, onder andere Lycra en Petticoats (wat die Drama Departement se Première-fees gewen het), Wag, Wag (met Wian Taljaard) en Die Engel by die Dam (’n produksie met Nico Scheepers).
Verder repeteer sy aan ’n produksie met Edwin van der Walt, Stian Bam en Anna-Mart van der Merwe, Terminaal 3, wat KKNK, Fugard- en Staatsteater toe gaan (Marthinus Basson behartig die regie).
Klink soos ’n vrou met heelwat hooi op haar vurk. Sy wil egter onder andere nog met die akteurs De Klerk Oelofse, Cintaine Schutte en Jana Cilliers werk en bestempel Jemma Kahn as haar hero.
Al groet Carla vir blou Stellenbosch om vreemde horisonne te gaan verken, meen sy dat sy dié dorp sal onthou as ’n “ongelooflike plek met ’n ryk studentelewe wat studente van verskillende kulture van regoor die wêreld het”.
“Daar is min wat vergelyk met ’n stappie in Victoriastraat terwyl mense om jou in ander tale klets, fietse verby jou woer en die plataanblare om jou val,” sê die aktrise oor die Eikestad.
*Tydelik Terminaal se laaste episode is op Woensdag, 22 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai, maar is steeds tot 19 Februarie op DStv Now beskikbaar.