Latest Post

Kerkorrels kry nuwe lewe by ‘Zoid Psalms’  Breytenbach’s ‘Boklied’ revived for the modern stage  The heart of the matter: how students are rewriting the story of organ donation Running for breath: Prof. Pierre Goussard’s mission
Deur Anica Hattingh

Op 15 Oktober is twee van Suid-Afrika se atlete ingehuldig in die Suid-Afrikaanse Heldesaal tydens die 15de amptelike Dagbreek-straatmyl, te ere van hul sukses in atletiek. Een ding wat dié twee atlete in gemeen het, is die feit dat hul albei groot sukses behaal het in die voltooiing van ’n droommyl.

’n Droommyl verwys na die hardloop van een myl (ongeveer 1 609 meter) binne minder as vier minute – ’n internasionaal-erkende prestasie wat groot toewyding, tegniek en uithouvermoë vereis. ’n Straatmyl is darenteen ’n wedloop oor dieselfde afstand, maar op paaie of strate eerder as op ’n baan. Hierdie tipe wedloop bring atletiek uit die stadion na die publiek toe en skep ’n unieke atmosfeer waar toeskouers die deelnemers van naby kan aanmoedig.

Op 13 November 1964 het De Villiers Lamprecht ‘n naam vir homself gemaak as die eerste Suid-Afrikaanse atleet wat ’n droommyl op die Afrika-vasteland sou voltooi. Lamprecht is ook die enigste atleet wat die prestasie kaalvoet behaal het. Boonop het hy 15 ander Suid-Afrikaanse rekords verbeter in verskeie afstande.

Die ander atleet, Johan Fourie, spog met ‘n prestasie van 53 droommyle – die meeste deur enige Suid-Afrikaanse atleet voltooi. Wat dié prestasie nog meer besonders maak, is die feit dat Fourie vir 27 jaar die SA-rekordhouer was vir die droommyl. Op 9 Februarie 1984 het hy by Coetzenburg in Stellenbosch twee droommyle binne een uur voltooi – ’n prestasie wat tot vandag toe nog nie deur ’n ander Suid-Afrikaanse atleet geëwenaar is nie.

Die inhuldiging van dié twee atlete tydens die Dagbreek Straatmyl was ’n spesiale oomblik, aangesien Lamprecht ’n alumnus van Dagbreek is en Fourie die eerste straatmyl wat ooit in Suid-Afrika aangebied is, op 27 Desember 1982 in Port Elizabeth gewen het.

Om die gebeurtenis nóg meer besonders te maak, het Lamprecht se kleinseun, ook De Villiers genoem, al die pad van Bloemfontein gereis om vanjaar in sy eerste Dagbreek-straatmyl deel te neem. Die jong De Villiers, ’n leerling van Grey Kollege, het aan die o. 19-seunskategorie deelgeneem. Hy spog reeds met verskeie atletiekprestasies, nes sy oupa. Tydens die Groep 5-kampioenskappe in Namibië het hy twee goue medaljes gewen in die 800 m en 1500 m, en ook derde plek behaal by Athletics South Africa se Landloopkampioenskappe in September in die seuns-jeugafdeling oor 2 km.

Die inhuldiging was dus nie net ’n viering van uitstaande sportprestasie nie, maar ook ’n herinnering aan die nalatenskap wat deur generasies voortleef. Deur figure soos Lamprecht en Fourie word jong atlete daaraan herinner dat harde werk, vasberadenheid en passie vir die sport blywende inspirasie kan bied – en dat elke myl, hetsy op die baan of in die straat, deel is van ’n groter droom.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *