
Die voormalige Matie, PhD-student in Engelse Studies en bekende jeugromanskrywer, Joha van Dyk, is onverwags op Saterdag 2 Februarie in haar woonstel in Stellenbosch oorlede. Sy was 27 jaar oud.
Nadat Van Dyk op 8 Februarie ter ruste gelê is, het haar gedenkdiens op 13 Februarie by Hoërskool Stellenbosch plaasgevind waar vriende, kollegas en familie hul huldeblyke gelewer en die dag aan haar opgedra het.
Die talentvolle jeugromanskrywer het in 2020 op die ouderdom van 23 haar debuutroman Branderjaer gepubliseer, gevolg deur Vuurvreter en Kanniedood wat kort daarna verskyn het. Van Dyk was egter meer as net ’n gewilde jeugromanskrywer. Sy was ’n bron van vreugde, lig en liefde – ’n dogter, ’n vriendin, ’n storieverteller en ’n innoveerder. Sy sal altyd onthou word vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, sowel as vir haar sprankelende persoonlikheid.
Haar liefde vir Afrikaans en literatuur was duidelik. Tiaan Booyens, een van haar naaste vriende, vertel hoe sy gereeld ’n pop culture moment waardeer het, mal was oor Spoegwolf en ’n trotse Swiftie was. Sy het ook verskeie idees en projekte in haar agterhoofd gehad, terwyl twee boeke in die Branderjaer-reeks steeds op haar agenda was.
Alhoewel Van Dyk ’n groot leemte in die Afrikaanse literatuur agterlaat, sal haar nalatenskap voortleef, en sal dit jong, aspirante skrywers inspireer en bemoedig. Die Matie-span stuur hul innige simpatie aan Van Dyk se geliefdes en wens hulle alle sterkte op die pad vorentoe.
[Blaai verder om Tiaan Booyens se gedig aan Joha van Dyk te lees.]
Deur Anke Maritz


