Latest Post

USSA 2024 recap for the maroon machines Campus Closet Who’s in charge here? A guide to different student leadership groups Fresh energy, fresh leadership: Maties women’s rugby gets new head coach
Rebecca Rossouw
Foto: Verskaf deur Lisa Ingwersen

Januarie was ’n warrelwind van ’n maand vir Suid-Afrikaanse netbal. Die drie-toets Margaret Beckford-Sonskynreeks teen Jamaika het op 18, 22 en 25 Januarie 2025 plaasgevind. Met ’n opwindende nuwe ontwikkeling vir Netball South Africa het die SPAR Baby Proteas (O/21) by die senior SPAR Proteas aangesluit op hul reis na Kingston in die Karibiese Eilande om die Sunshine Girls van Jamaika aan te durf.

By hierdie toernooi het twee studente van die Universiteit Stellenbosch (US), Suid-Afrika in die Baby Protea O/21-span verteenwoordig. Lisa Ingwersen, ’n BRekeningkunde-student in haar derde jaar, sowel as Michelle van der Merwe, ook ’n BRekeningkunde-student in haar tweede jaar, het ons land en universiteit trots gemaak met ’n reuse 3-0 reeksoorwinning teen die O/21 Sunshine Girls van Jamaika.

Hul voorbereiding vir die toernooi het in Desember 2024 begin toe ’n splinternuwe span die tuisbaan van die SPAR Proteas vir die Spar Nasionale Kampioenskap betree het. Aangesien studente gedurende hierdie tyd op vakansie was, het die nuwe span min in-persoon opleiding gehad en het hulle oefenskedules gekry om te volg terwyl hulle op vakansie was. Sodra die span weer bymekaar was, het hul opleiding begin. Lisa sê dat hulle eerste prioriteit was om “konneksies op die baan te vorm en nuwe kombinasies uit te werk, aangesien dit ’n nuwe span was.”

Vir Michelle was dit die eerste keer wat sy vir die span gespeel het en haar eerste internasionale toernooi. Sy sê: “Ek het gehoop om enigiets wat ek kon by die afrigters, die senior Proteas en selfs my eie spanmaats te leer. Ek het baie geleer.”

Daar was baie op die spel vir die Baby Proteas aangesien hulle geweet het dat Jamaika hul beste sou bring. Hierdie toernooi was ’n goeie manier om die nuwe Baby Protea-span voor te berei vir die Netbal Jeugbeker Gibraltar in September. Alhoewel dit skrikwekkend is om ’n internasionale verhoog te betree en op ’n sekere standaard te speel om jou land te verteenwoordig, is dit selfs meer intimiderend om te speel op ’n plek waar die toeskouers teen jou gekant is. Lisa sê: “Ons het ’n motiverende frase wat ons op ons doelwitte laat fokus.” Michelle voeg by dat daar ’n paar Suid-Afrikaanse ondersteuners was, gekombineer met die res van die span en afrigters, wat gelei het tot ’n voortdurende geskree van die kantlyn af en “nooit ’n stil oomblik nie”.

Met drie wedstryde om hulself te bewys, het die Baby Proteas nie teleurgestel nie. Met Wedstryd 1 begin hulle hul wenreeks toe hulle die toernooi afskop met ’n oorweldigende oorwinning van 31-61. Wedstryd 2 het die Baby Proteas op hul tone gehou aangesien hulle teen rustyd agter was, maar met ’n sterk teenaanval het hulle Wedstryd 2 met 32-49 gewen. Wedstryd 3 was die kersie op die koek vir die Baby Proteas en met ’n 33-47 wen het hulle die reeks oorheers; onoorwonne met ’n driemalige oorwinning.

Met die Netbal Jeugbeker wat in September plaasvind, asook die 2025 Statebondspele, het die Baby Proteas ons land werklik trots gemaak en bewys dat hulle in staat is om ’n geweldige stryd te voer vir hul komende toernooie. Lisa beoog om haar laaste jaar op die Baby Proteas te laat tel en “Suid-Afrika met trots by die Wêreld-Jeugbeker te verteenwoordig, en die toernooi te wen.” Michelle is opgewonde oor nog baie toernooie en hoop om haar kinderdroom na te streef: om haar land in die senior SPAR Protea-span te verteenwoordig. Sy sê dat hierdie droom “nooit gevoel het asof dit ’n werklikheid kan wees, tot hierdie vorige toernooi in Jamaika nie.”

Die US straal met trots oor die ongelooflike prestasies van Lisa en Michelle en beskou hulle toekoms met afwagting.