Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Ila Alberts

Die jaarlikse Woordfees het vir die eerste keer sedert die COVID-19-pandemie weer met volle fanfare op 10 Oktober afgeskop, met produksies wat oud en jonk bekoor. Krotoa: Eva van de Kaap is onderskeidelik op 10 en 11 Oktober by Hoër Meisieskool Bloemhof op die planke gebring.

Krotoa word deur die gevierde aktrise, Bianca Flanders, vertolk en die regie is deur die welbekende Basil Appollis behartig. 

Die stuk volg die ware verhaal van Krotoa, ’n Khoi-vrou wat as kind na Jan van Riebeeck geneem is en as vertaler en tussenganger vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) en haar stam gedien het. Dit is egter as haar eie vertelling gestruktureer, ingevleg met dié van ’n bruin aktrise wat haar rol speel soos wat sy en ’n Nederlandse akteur ’n film oor Krotoa se lewe skiet. 

Die stuk is geskryf deur die bekroonde joernalis, anti-apartheidsaktivis, en huidige besturende direkteur van Vision in Africa (VIA), Sylvia Vollenhoven. Dit raak aan ‘n verskeidenheid temas, waaronder kolonialisme, geslagsgebaseerde geweld, “wit skuld”, en vrouwees val. 


Bianca Flanders en Barry Frazer in Krotoa Eva van de Kaap. Foto verskaf deur Woordfees webtuiste.

Deur dit in hedendaagse Suid-Afrika te anker en beelde van die Soweto-opstande in die agtergrond te flits, het Vollenhoven daarin geslaag om op ’n verbasend eerlike wyse ’n komplekse waarheid vir enige Suid-Afrikaner te ondersoek. Dit is “alles altyd op die punt van katastrofe”, soos die hoofkarakter dit stel, naamlik dat ons eie stories aan die geskiedenis geheg is en ons nie daarvan losgemaak kan word nie. Dit erken egter ook dat ons geneig is om geskiedkundige figure te gebruik (of misbruik) om by ons hedendaagse agendas te pas. 

Tog voel dit by tye asof die stuk te selfbewus is – asof daar te veel temas aangeraak word – ten koste van die vermaaklikheid en vloei van die akteurs se spel. Die gebruik van musiek (veral die kombinasie van inheemse tradisionele instrumente en kitaar), is egter absoluut briljant, en die gesoute Flanders se vertolking van Eva van Meerhoff is toepaslik en betowerend. 

Vollenhoven verdien besondere lof vir die manier waarop hierdie eg Suid-Afrikaanse produksie daarin slaag om meertaligheid op ’n ongewone, dog vindingryke manier te vier. ’n Mengsel van Nederlands, Engels, Afrikaans en Khoi word gepraat, met Engelse onderskrifte in die agtergrond wat dit reggekry het om nie afbreuk te doen aan die stuk self nie. 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial