Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Karla de Bod

Buiten hulle tiende ­verjaarsdag, vier die bekende musiekgroep Spoegwolf hierdie jaar nóg ’n mylpaal: hulle eerste ­oorsese musiektoer in Europa en die ­Verenigde Koninkryk. Tussen 13 en 20 ­Augustus gaan die musiekgroep hulle musikale klanke en ­woordkuns met buitelanders deel. Dit is egter, volgens die groepslede, maar nog net die ­begin.

“Ons het nie gedink ons gaan eendag ’n oorsese toer kan doen nie,” het Danie du Toit, ­hoofsanger van Spoegwolf, gesê. “Toe ons jonk was, het ons gedink die hele wêreld is Afrikaans, en dat die hele wêreld die Wes-Kaap is, maar dis amazing.”

Moskou du Toit, die tromspeler van die groep en jonger broer van Danie, en Chris von Wielligh, wat die klavier en kitaar speel, het gesê dat hulle nie kan wag vir die toer om te begin nie.

“Dis amazing; ons het altyd ­gehoop ons kan dit doen, maar dit gebeur nou actually vir die eerste keer,” het Chris gesê.

Spoegwolf het in 2012 hulle eerste album, Swaartekrag, ­uitgebring. Dié album behels steeds van hulle bekendste ­liedjies soos “Lenie Blou”, “Kort Donner” en “Somersetwes”. Vandag het die musiekgroep al nege albums agter hulle naam, met die nuutste album ­Droombrief wat in Maart vanjaar uitgereik is.

Danie het vertel dat, tussendeur die voorbereiding vir die toer, die groep ook besig is om te werk aan hulle volgende album. “Ons sien uit na ons volgende album wat ons hier vroeg Desember wil uitbring met regtig amazing musiek waaraan ons baie hard werk,” het hy gesê. “Dis iets waaroor ek baie excited is.”


MOSKOU CHECK, ONE TWO Moskou du Toit beskryf Spoegwolf se eerste oorsese toer as die begin van hulle “world domination”. Foto: Karla de Bod

Die idee van ’n oorsese toer is vir die groepslede ’n groot voorreg, met die wete dat hulle aanhangersgroep oor die waters gegroei het. 

“Dit beteken die wêreld ­– mind the pun,” het Danie gesê. “Die punt is: Daar is actually baie meer Afrikaanse mense as wat mens dink.” Moskou het saamgestem en gelag: “Ons is orals.”

Terwyl Moskou die meeste ­uitsien om die Harry Potter World in Londen te besoek, is Chris ­opgewonde om deur ­Amsterdam te reis. “Ek sien uit om Amsterdam bietjie te explore en die res van die wêreld te sien,” het hy gesê. “Om shows daar te speel gaan die lekkerste wees – en om mense te bekeer.”

Volgens Danie verwag die groep nie groot verskille tussen hulle Suid-Afrikaanse en buitelandse aanhangers nie. “Dis nog steeds dieselfde mense, dieselfde musiek,” het hy gesê.

Terwyl die aanhangers en musiek dieselfde bly, gaan die plekke waar Spoegwolf ­optree verskil van dié waaraan hulle gewoond is, meen die groepslede.

“Ek dink dit gaan lekker wees. You make the place,” het Chris gesê. “En ons het nie ’n toerbussie nie, so ons gaan stap na die venues toe, wat cool is.”

Die musiekgroep beskryf hulle eerste oorsese toer as ’n draaipunt in hulle lewens ­– die begin van iets groter wat nog voorlê.

“Met só ’n draaipunt, waarvoor ons nog opgewonde is, is world domination,” het Danie gesê. Moskou het ­bygevoeg: “Ek voel [dit] is ­amper die begin van ­Spoegwolf. Ons het nou tien jaar ge-prep vir ’n nuwe begin ­– phase two van ­Spoegwolf,” het hy gesê. “Die world ­domination is nou on board.”

Tien jaar, vier vriende, nege albums, honderde ­optredes, duisende aanhangers en nóg meer kilometers later is Spoegwolf steeds besig om te werk aan één droom – om die wêreld te verander deur harde, opregte musiek.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial