Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Ané Havenga

Die Stormers het op Sondag 13 Maart Kaapstad-stadion vir Maties se eie Danie Craven-stadion verruil. Hierdie geskiedkundige oomblik was as gevolg van die Kaapstad-fietstoer wat hulle tuiste onbeskikbaar gemaak het, aangesien die meeste paaie in die Kaap gesluit was. Watter beter alternatief vir die Kaapstad-stadion as die Danie Craven-stadion wat omring word met die mooiste berge en ’n intieme gevoel van net 16 000 sitplekke teenoor die 55 000?  

Die Stormers speel op die oomblik in die United Rugby Championship waar hulle tans eerste op die ranglys vir Suid-Afrikaanse spanne lê te danke aan spog oorwinnings soos oor Zebre in Stellenbosch. Hierdie span van Parma, Italië het behoorlik klippe gekou en die wedstryd 55 – 7 verloor. 

Damian Willemse, binnesenter, het in sy 50ste wedstryd vir die Stormers uitgeblink deur ’n drie te druk. Verder het Scarra Ntubeni, haker, en Leolin Zas, linkervleuel, twee drieë gedruk en Manie Libbok, losskakel, een drie. Dit is egter die speler van die wedstryd en die regtervleuel, Seabelo Senatla, wat die kollig gesteel het met sy driekuns. Die Suid-Afrikaanse boorling Erich Cronje, buitesenter, was die enigste Zebre-speler wat aan die anderkant van die doellyn vir die opponerende span gaan kuier het. 

Liam Mitchell, Zebre se slot, het ná die wedstryd gesê: “Daar is tog baie positiewe wat uit die wedstryd geneem kan word en baie waarop die spelers kan verbeter veral met die talentvolle groep spelers. Op die ou einde is dit net ’n spel van rugby en ek is dankbaar om dit te kan doen waarvoor ek lief is.” 

John Dobson, die Stormers se afrigter, het ná die afloop van die wedstryd vertel: “Ons was effens skrikkerig oor die weer en het heel week die weervoorspelling dopgehou en ons is baie bly die reën het vanaand weggebly. Stellenbosch ooze rugby en alhoewel ons uitsien om weer in die Kaap te speel sal ons enige tyd weer hier kom speel.” 

Dobson noem ook dat Senatla se goeie spel te danke is aan die feit dat hy mal is oor rugby en hy wens die Springbokke wil hom ’n kans in die groen-en-goud gee. 

Deon Fourie, die Stormers se kaptein, het duidelik gesê wat hy van die wedstryd gedink het: “My droom is om Kaapstad-stadion vol te sien met die Stormers faithful, maar die intieme gevoel van hierdie stadion was lekker.”

Fourie het veral beklemtoon hoe spesiaal dit vir hom was om hier te speel: “Ek het die eerste keer Maties o. 19 hier gespeel, 17 jaar gelede. Dis ’n lang tyd terug. Dit was ’n wonderlike gevoel om terug te kom hierheen. Ek wens ons kon die stadion vol kry met manskoshuise ‒ dit sou ongelooflike gees na die wedstryd gebring het. Dis lekker om na dié deel van die Kaap te kom en al die ondersteuners te sien!” 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial