Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Ané Havenga

Maties se vrouerugbyspan het die Royal Navy Rugby Union (RNRU) se vrouespan, al die pad vanuit die Verenigde Koninkryk, ontvang vir ’n vriendskaplike wedstryd van tien aan ’n kant. Dié geskiedkundige wedstryd het op 7 Mei plaasgevind. 

Maties het egter nie teruggehou nie en het die wedstryd kafdraf 29 – 0 gewen. Ná die eindfluitjie het die spanne vir pret ’n gemengde 15-speler wedstryd gespeel waarna die spanne truie onder mekaar uitgeruil het. Lara Schats en Kim Karassellos, wat nie aan die universiteit studeer nie, maar wel vir die Maties-klub speel, het spesiale truie vir hulle speler van die wedstryd vertonings gekry. Die maroen vroue het ook die Britte ná die wedstryd vir ’n tradisionele Suid-Afrikaanse braai ontvang. 

Maties se vrouerugbyspan geniet hierdie uitdagings wat na hulle kant toe kom. Michaela Hanekom, flank en tweedejaar-BEd (Seniorfase)-student aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, vertel: “Ons is eintlik ’n groot groep meisies wat ’n passie het vir rugby en ons voel vry om te speel soos ons wil. Ons is baie lief vir die span en die gees wat ons het, is baie opwindend.” 

Dit is nie verbasend dat hierdie span so goed presteer nie, aangesien hulle vier keer per week oefen. Hulle neem aan toernooie deel en hulle probeer tussenin soveel moontlik vriendskaplike wedstryde speel. Hulle motto is om altyd 110% te gee en dit verduidelik hulle puik resultate in laas maand se Athlone-liga waarin hulle derde gekom het. 


VERPLETTER Die rugbyspan tuis in Stellenbosch. Foto: Verskaf

Hanekom sê die volgende oor die wedstryd teen RNRU: “Die uitslag teen Royal Navy het ons nie verwag nie. Ons het verwag dat dit ’n harde wedstryd gaan wees, maar ons het harder geveg en goed gewen. Wat ek gehou het van Saterdag was dat ons hard gespeel het en ons alles gegee het en dit het ons bo laat eindig.” 

Sy loof die afrigters en bestuurders van die span aangesien hulle die spelers dryf om verskriklik hard te oefen. Hulle is bevoorreg en dankbaar met hierdie afrigters en bestuur. Dit is veral hulle passie wat vir Hanekom uitstaan en sorg dat die span gefokus bly. 

Hanekom sien uit na die toekoms saam met die span: “Ons sien uit om sterker te groei as ’n span en om almal saam net die spangees te geniet. Ons is ’n groep meisies wat goed oor die weg kom – ons geniet mekaar se geselskap en om wedstryde saam met mekaar te speel!”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial