Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Sibella Swanepoel

MATIES Gholf se A-span het onlangs tweede plek by Universiteitsport Suid-Afrika (USSA) se gholfkampioenskappe behaal. USSA is verantwoordelik vir die regulering, organisering en koördinering van sportaktiwiteite van Suid-Afrikaanse universiteite en bied elke jaar die USSA-gholfkampioenskappe op ver-skillende gholfbane regoor die land aan. Vanjaar het die toernooi van 10 tot 14 April plaasgevind en USSA het die toernooi in samewerking met die Universiteit van Kaapstad aangebied.

Hierdie jaar het gholfspanne uit verskeie universiteite, insluitend Universiteit Stellenbosch (US) se Maties Gholf, by Paarl Gholfklub op Boschenmeer-gholflandgoed vir die eerste keer sedert 2019 vir hierdie toernooi bymekaargekom. Maties Gholf het hulle A-span, wat uit Matt Willis, James Vorster, JP Bleeker en AJ Bezuidenhout bestaan, uitgestuur om die US te verteenwoordig. 

“Dit is elke jaar ’n ander universiteit wat die geleentheid kry om dit aan te bied,” het Vorster, ’n tweedejaar-BCom (Bestuurswetenskappe)-student, genoem. Die toernooi het uit twee formate bestaan, naamlik individueel- en spanformaat. Vorster het sesde in die individuele kategorie geëindig, en Bleeker sewende. 


SILWER SWAAI James Vorster in aksie. Foto: Kyle Lucas.

“Die toernooi was baie pret en almal het dit geniet,” het Bleeker, ’n derdejaar-BCom (Beleggingsbestuur)-student, gesê. 

“[Die USSA-gholfkampioen-skappe] is ons grootste toernooi, maar ons neem ook aan plaaslike kompetisies deel,” het Vorster genoem. Maties Gholf bestaan uit ’n A- en B-span wat aan hierdie toernooie deelneem. “Ons bestaan uit ’n squad van sestien spelers, maar afhangende van die mense se beskikbaarheid vir die toernooie word die twee spanne volgemaak,” het Vorster verduidelik. 

Maties Gholf se volgende toernooi is die Kruger-liga. “Ons begin in Mei aan hom deelneem en dan strek hy tot middel Augustus of September. Dit is bane in die omgewing, net hier in die Boland,” het Vorster gesê. 

Twee spelers gaan ook later die jaar die geleentheid kry om aan die Boyd Quaich-gedenktoernooi in Skotland deel te neem. “Ons sien uit om die spel hier in Stellenbosch te laat groei en hopelik in die nabye toekoms ’n paar oorwinnings te kry,” sluit Bleeker af.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial