LENTE IN MATIELAND Maties se rasieleiers is reg vir Varsitybeker! Foto: Verskaf

Rasieleiers Reg om die Gees te Bring!

DEUR ANE HAVENGA

Daar is net iets magies aan rasieleiers (cheerleaders), veral met hulle danspassies en gees. Amerikaanse flieks het ons natuurlik blootgestel aan die wonderlike kultuur daarvan. Wie kan nou Bring it on of High School Musical se rasieleiers, wat hand aan hand geloop het met Troy se basketbal­span, vergeet? Min mense weet dit dalk, maar dit is nie net op televisie waar die rasie­leiers ons bekoor nie. Maties se eie rasieleierspan bring gees van hulle eie waar ook al hulle hulself bevind. 

Vicki Steenkamp, ’n derdejaar-BA (Geestesweten­skappe)-student, is hierdie jaar  Maties se rasieleierkaptein en maak dit duidelik: “Dis vir my ’n bitter groot voorreg.” 

Maties se eie rasieleierspan maak gebruik van die Amerikaanse rasieleidingstyl. Dit ver­oorsaak dat elke optrede en ­oefening vol pret is en sy sê: “Ons maak gebruik van talle lifts, splits en flips.” 

Met die Varsitybeker-rugbytoernooi uiteindelik terug voor lewendige toeskouers, sien Steenkamp vreeslik uit om weer by hierdie wedstryde op te tree. Steenkamp vertel opgewonde: “Ons sien uit om weer stunts voor lewendige gehore te doen en om al die rugbyspelers aan te moedig. Dit is ons werk om die gees hoog te hou!” 

Op die oomblik is hulle fokus op die Varsitybeker, maar hulle tree ook by sosiale geleenthede vir ander op en doen advertensies vir verskillende handelsmerke. Steenkamp maak seker dat elke geleentheid van top gehalte is en sy kommunikeer self met al die handelsmerke. Die groot kompetisie van die jaar is The South African Majorette and Cheerleading Association (SAMCA) se nasionale kampioenskappe. 

Steenkamp sien uit om met haar span vir die jaar te werk. Veral die twee bene daarvan, die gemengdespan en haar vrouespan. Die gemengde span bevat 44 lede met 40 op die mat en vier as reserwes. Die vrouespan bestaan uit 28 lede met 25 op die mat en drie reserwes. Steenkamp rig albei spanne self af en maak seker dat die standaard hoog bly deur oudisies te hou.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial