Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Deur Jani Roux

Die woorde “Bring vir die harlekyn nog wyn, rooiwyn vir sy lag en traan en pyn” (soos gehoor in Sonja Heroldt se “Harlekyn”) het opgekom toe Die Matie op 6 Maart die openingsgeleentheid van die Universiteit Stellenbosch Wynkultuur Vereniging (USWV) by Courtyard Café bygewoon het. 

Die tema van die geleentheid was “karnaval” en studente in helderkleurige uitrustings het oral die kans aangegryp om hulle mede-wynliefhebbers te leer ken en goeie wyn te geniet. Dit was ’n jolige gedoente en van traan en pyn was daar gelukkig geen ­teken nie. Hierdie gesellige geleentheid was net ’n klein voorsmakie van wat vir dié groepie wynliefhebbers voorlê. 

Die USWV is die tweede oudste klub op Universiteit Stellenbosch se kampus. Volgens Francois van Zyl, verteenwoordiger van die USWV, bestaan die klub al sedert die 1980’s en, nes goeie wyn, raak dit net beter met tyd. 

Voor COVID-19 het die ­vereninging verskeie geleenthede aangebied wat ’n hoogtepunt op Stellenbosch se wynkalender was. Die Platters 5 Star Wine Event was só ’n geleentheid waar die beste wynprodusente van die jaar hulle wyn tydens ’n gala-aand kon voorsit. 

Katelynn Snyman, huidige voorsitter van die USWV, is egter positief dat dinge na normaal toe sal terugkeer en het die volgende te sê gehad: “Dit voel asof die wêreld weer begin oopmaak en vandat ons nou by Courtyard Café is en ’n goeie werksverhouding met hulle het, kan dinge net beter raak van hier af.” 

In 2019 het Danie du Toit, hoofsanger van die musiekgroep Spoegwolf, die mense met sy musiek vermaak terwyl lede van die USWV by van die wêreld se top wynprodusente kon leer – praat van dinner and a show.

Nog ’n hoogtepunt was die Wine Weekend Wway waar lede vir ‘n hele naweek na die hart van die wynland kon wegbreek en hulle WhatsApp-status van “beskikbaar” na “kan nie nou praat nie, besig om wyn te proe” verander. Van Zyl het gesê die wegbreek was “verskriklik lekker en elke sekonde daarvan is ’n massive jol”.

Die USWV neem ook deel aan Vino Varsity, wat soortgelyk aan Varsity Cup is, net sonder die rugby en met die wyn. Die ­kragmeting is Maties teen Ikeys (oftewel die Universiteit van Kaapstad) en elkeen wil graag wyn-koning kraai in die toets van algemene kennis oor wyn en die smaak daarvan, asook ’n debat oor die aktuele sake van die wynindustrie.

Dit wys net, die USWV het nie net wyn vir die pyn nie, maar ook vir die lekkerte. Gesondheid! 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial