BESOEKERS – Dirk Hoffmann en sy besoeker, Leri Swart, verlaat Dagbreek-manskoshuis ‒ nog ’n koshuis wie se beleid goedgekeur is. Foto: Ben Wiese.

Verskeidenheid in Kampusbeleide

DEUR DYLAN LEE

Die afgelope twee jaar het die Universiteit Stellenbosch (US) se gemeenskap die implementering van beide die alkoholbeleid en ’n COVID-19-voorkomende besoekersbeleid gesien. Dié beleide het kampus- en koshuislewe tydens die 2020 en 2021 akademiese jare vir studente omvergewerp.

Op 7 Februarie verlede jaar, voor die uitbraak van die pandemie, het die US aan die universiteitsgemeenskap aangekondig dat daar besluit is om ’n tydelike verbod van alkohol op kampus in te stel om “duidelike en praktiese riglyne vir verantwoordelike drankgebruik by ons instelling” te implementeer, soos aangemeld op die universiteit se webtuiste onder “Verantwoordelike drankgebruik by die US (boodskap aan studente en personeel)”. Die verklaring noem verder: “Ons uiteindelike doel is nie ’n totale verbod op drank in ons koshuise of op die res van ons kampusse nie.”

’n Paar maande later het die universiteit weer ’n verklaring uitgereik wat studente op kampus terug verwelkom en spesifieke riglyne deurgegee het wat gevolg moes word om te verhoed dat COVID-19 tussen studente versprei. Daarin word gestipuleer dat ’n student slegs ’n  US-akkommodasie mag binnegaan, mits hulle daar geplaas is. Geen ander besoekers word toegelaat nie. Albei hierdie beleide is aanvanklik ingestel as tydelike beleide wat regoor kampus toegepas moes word.

Daar is onlangs aangekondig dat koshuise onder hulleself besoekers- en alkoholbeleide moet opstel wat deur ’n goedkeuringsproses moet gaan. Verskeie koshuise se besoekersbeleide is ook intussen goedgekeur en tans besig om in werking te tree. 

Rakende die opstel van hulle beleid het Sonop-vrouekoshuis se prim, Margeaux Wassenaar, genoem dat daar vroeër vanjaar ’n vorm aan die inwoners gestuur is vir terugvoer aangaande die goedkeuring van ’n besoekersbeleid en idees wat moontlik geïmplementeer kan word. 

“Die [HK] het toe hierdie vorm gebruik om die inhoud van die beleid en die diverse perspektiewe wat verantwoord moes word, in te sluit,” het Wassenaar gesê. Die kern van die beleid het wel, volgens Wassenaar, steeds so prakties as moontlik oorsprong gevind in die “ou maatstawwe wat vroeër gevolg is”, met verwysing na die gegewe dae, tye en afgebakende spasies wat vir besoekerstoegang gebruik is. 

Brynley van Aardt, ’n derdejaar-BA (Internasionale Studies)-student en inwoner van Sonop sê: “Ek is gelukkig daarmee dat ons net weer besoekers mag hê. Die beleid is billik aangesien ons nie gedink het dat dit dié jaar gaan gebeur nie.” 

Nicky Stols, tweedejaar-BA (Taal en Kultuur)-student wat ook in Sonop woon, sê dat die grootste aanpassing die 24-uur-voor-die-tyd-bespreking is. Sy sê verder: “Een ding waaroor ek gelukkig is, is dat wanneer besoekers die besprekingsvorm voltooi, is daar ’n opsie vir mense wat niebinêr is om ingesluit te voel.”

Christo Kruger, HK-lid van Helshoogte-manskoshuis wat betrokke was by die opstel van hulle besoekersbeleid, het gesê dat hulle beleid al sedert Maart bestaan, wat deur die loop van die jaar aangepas is, totdat dit voltooi en ingestuur is vir goedkeuring. Kruger verduidelik dat, anders as in Sonop se geval, was daar nooit voorheen vaste reëls rakende besoekers in Helshoogte nie, maar sê egter: “Ons koshuis werk op ’n baie groot accountability-stelsel waar as jy ’n probleem het met iets, dan sal jy mekaar aanspreeklik daarvoor hou.” Met die opstel van die nuwe beleid is daar gefokus op om “te verseker dat dit goed en billik was, beide in terme van veiligheid, gesondheid en gemeenskaplikheid.”

Bernhard Snijmann, ’n eerstejaar-LLB-student en inwoner van Helshoogte, se opinie is dat “alhoewel die beleid teenstrydig is met [COVID-19-protokol] en mense kan argumenteer dat dit nie die curve gaan flatten nie, is dit ’n goeie beginpunt om vir varsity en eindelik al die koshuise te bewys dat ons verantwoordelik kan werk met toegeeflike beleide”.

Wat die uitvoering van hierdie koshuise se beleide behels, tree albei beleide eers saans in werking. By Sonop mag gaste van 18:00 tot ’n uur voor die aandklokreël by inwoners kuier en by Helshoogte van 19:00 tot 23:30. Helshoogte vereis ook dat besoekers inteken by die koshuis en hulle studentekaarte inruil vir ’n besoekerspas, waar daar by Sonop 24 uur voor die tyd ’n bespreking gemaak moet word, maar ’n vorm van identifikasie word wel ook ingehandig om te monitor of daar nog besoekers in die koshuis is. Besoekers in kamers is toelaatbaar in albei koshuise en dieselfde reëls geld dat daar vensters oop moet wees om te verhoed dat COVID-19 versprei.

Metanoia-koshuis se beleid blyk soortgelyk, maar verskil tot ’n mate in vergelyking met dié van die ander twee bogenoemde koshuise. Dave Binza, prim van Metanoia, het verduidelik dat  “gaste alreeds 48 uur voor die tyd ’n bespreking [moet] maak sodat alles deur die HK-lede in plek gestel kan word”. Hy noem verder dat wanneer ’n gas by die koshuis kom, “vergesel die HK die inwoner na die besoeker om hulle in te laat teken”. ’n Studentekaart word ingehandig vir ’n “tag” sodat inwoners kan sien wie gaste is en wie nie. 

Rakende dié proses het Amy Stephenson, ’n tweedejaar-BSc (Molekulêre Biologie en Biotegnologie)-student en inwoner van Metanoia, die volgende gesê: “Ek dink net die hele manier waarop hulle dit benader, is belaglik. Ek meen, ek het my kêrel op die eerste dag wat besoekers kon inkom, ingeteken en ek het hom by die koshuis ingeskandeer waarna ek sy ID na my HK moes neem en toe hy weer moes gaan, moes ek weer op gaan om dit by die HK gaan haal.” Sy noem dat die HK nie in hulle kamer was nie en dat sy haar kamer moes “fake lock” en die HK opspoor om die ID aan hulle te gee. 

Stephenson het verduidelik dat die hele proses om iemand twee dae voor die tyd in te teken, frustrerend kan wees. Sy het verduidelik dat ’n mens nie ’n datum kan selekteer en vooruit kan bespreek as dit voor die twee dae is nie. Studente kan daarom nie voor die twee dae reeds bespreek vir ’n latere dag in die week nie, maar moet wag tot twee dae voor die datum wat hulle ’n besoeker sal wil kry.

“Jy kan letterlik net iemand inskandeer en sê dat jy hulle ingeboek het en niemand sal weet nie. Dis hoekom dit so simpel is,” het Stephenson verder gesê. “Ek voel dat dit soveel administrasie vir die HK is en dat hulle daardie tyd moet spandeer om te fokus op ander goed binne die koshuis wat belangriker is.”

Soortgelyk voel Nina Epler-Brandenburg, ’n tweedejaar-BA (Internasionale Studies)-student en inwoner van Metanoia, dat die koshuis se beleid beter opgestel kon word. “Dit is onnodig [en daar is] te veel struikelblokke,” het sy gesê. “Hulle behandel ons soos kriminele en asof hulle ons nie vertrou nie in plaas daarvan om eintlik [COVID-19-veilig] te wees.”

Alhoewel die beleide in ’n mate met mekaar verband hou, is daar vir die koshuise grasie gegee om hulle eie beleid saam te stel. Hierdie skep die moontlikheid vir diverse beleide oor kampus, maar met verwysing na die drie bogenoemde koshuise, stem die beleide taamlik ooreen. Tot op hede het nog geen van die koshuise se voorgestelde alkoholbeleide in werking getree nie.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial