Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR LIZE BEKKER

Lente in Stellenbosch staan nie verniet as “Silly Season” bekend nie. Wanneer ’n mens laatmiddag by die straat afkyk, bondel daar elke nou en dan ’n klomp studente met pragtige rokke en netjiese pakke in ’n kar op pad na een of ander huisdans. Met ongeveer 6500 studente in 31 universiteitskoshuise is vrouestudente haastig opsoek na aandrokke om aan te trek na elkeen van hierdie koshuise of PSO’s se huisdanse of jaareindfunksies toe, en is hierdie nie maar ’n gesukkel nie. 

Met die gesamentlike soek na rokke het ’n paar waaghalsige entrepreneurs besighede begin wat rokke uitverhuur. 

Style Me Studio

Twee pragtige rokkies wat beskikbaar is om te huur deur Style Me Studio. Foto: Geneem vanaf Instagram @styleme.studio.

Zahnré Pentz is die eienaar van Style Me Studio in die noordelike voorstede van die Kaap wat aan Graad 7’s, hoërskoolkinders asook studente rokke verhuur. Pentz sê: “Ek het die besigheid begin omdat ek self dogters het en hulle was op skool in koshuise en hulle en hul vriendinne het gesukkel om rokke te vind vir al 110 danse.”

Pentz koop rokke, laat maak rokke en voer rokke in. Sy noem dat al haar rokke bekostigbaar is en dat sy in die toekoms wil uitbrei om ’n tak in Stellenbosch en die Paarl oop te maak.

Pentz se besigheid het ongeveer 400 rokke beskikbaar wat op haar Instagram-blad (@styleme.studio) en Facebook-blad (@styleme.zahnre) gesien kan word.

Last Minute Dress Hire

’n Glinsterende goue rok wat beskikbaar is om te huur deur Last Minute Dress Hire. Foto: Geneem vanaf Instagram @lastminute_dresshire.

Die eienaar van @lastminute_dresshire op Instagram, Micha van Coller, het drie jaar terug haar besigheid wat rokke verhuur begin omdat sy ’n liefde vir mense het en daarvan hou om hulle mooi te laat lyk. Sy het begin deur slegs twee mense se rokke uit te verhuur en tydens haar gapjaar wat sy hierdie jaar vat, het die vraag na rokke in Stellenbosch aansienlik verhoog. Van Coller se rokke is beskikbaar in groottes van extra small tot en met medium, maar sy het planne om haar reeks uit te brei.

Van Coller sê: “My toekomstige planne sluit in om ’n winkel oop te maak, want op die oomblik bedryf ek die besigheid vanaf my woonstel in Die Boord. Ek wil ook graag my eie rokke ontwerp en vervaardig.” 

Cora Groenewald, ’n eerstejaar-BRek-student wat by Van Coller ’n rok gehuur het, sê: “Die proses was baie maklik; ek het sommer na haar huis toe gegaan en die rokkies aangepas. Dit werk ook baie goedkoper uit as om nog ’n rok aan te skaf.”

The Red Dress

’n Pragtige rooi rok wat beskikbaar is om te huur deur The Red Dress. Foto: Geneem vanaf Instagram @the_red_dress_xx.

Nog ’n entrepreneur wat rokke begin verhuur het op skool is Kirsten Lourens. Lourens, ’n tweedejaar-BCom (Internasionale Besigheid)-student, is die eienaar van The Red Dress en het eers net cocktail rokkies verhuur, maar later langer aandrokke bygevoeg. Haar besigheid het so gegroei dat mense haar self vra om hulle eie rokke uit te verhuur.

Lourens se kliënte, wat eers skoolkinders was, sluit nou studente ook in. Om rokke by haar te huur kan kliënte haar laatweet in watter rok hulle belangstel deur ‘n boodskap na haar Instagram-blad @the_red_dress_xx te stuur. Sy reël dan wanneer die rokke aangepas kan word. 

“Ek wens ek kon ’n besigheid oopmaak in Stellenbosch en uitbrei en daarom wens ek dat ek meer tyd kan hê. Kapitaal is nie ’n probleem nie, maar tyd is,” sê Lourens.

So vir al die vroue wat swoeg en sweet om rokke in die hande te kry vir huisdanse of jaareindfunksies, hierdie rokverhuringsbesighede maak die werk baie makliker vir jou.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial