Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

BY MARYNA ADSHADE

Sprekers van Kaaps sal binnekort kan spog met ’n woordeboek wat hulle variëteit ten toon stel. Dít is ná die Centre for Multilingualism and Diversities Research (CMDR) aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) en die nieregeringsorganisasie Heal the Hood Project op 26 Julie bekendgemaak het dat hulle die eerste woordeboek van Kaaps gaan ontwikkel as deel van die Drietalige Woordeboek van Kaaps- (DWK-) projek.

Die DWK-projek (wat Kaaps, Standaardafrikaans en Engels as die drie tale insluit) is volgens prof Quentin Williams, direkteur van die CMDR, “’n beskrywende korpusprojek wat sal help om die eerste woordeboek van Kaaps te ontwikkel”, soos gesê in ’n onderhoud van 28 Julie wat op LitNet verskyn. 

In dieselfde onderhoud het Williams ook gesê dat hoewel Kaaps ’n belangrike taalbron vir sprekers daarvan in die Wes-Kaap en die res van Suid-Afrika is, dit egter ook baie gemarginaliseerd is. Daarom is die doelwitte met die DWK-projek, volgens Williams, die volgende: “Om die historiese wortels van Kaaps verder te belig; om by te dra tot die huidige debatte oor die eenwording van die skryfstelsel van Kaaps; om die gebruik van Kaaps in alle toepaslike modaliteite, platforms, genres, praktyke, optredes, interaksies en taalkundige landskappe te dokumenteer; [en] om die geleefde taalervarings van sprekers van Kaaps te beskryf.”

Die projek het dus ten doel om ’n opvoedkundige hulpbron te skep wat negatiewe houdings en opvattings van Kaaps en die sprekers daarvan sal verander en ook sosiale en akademiese geletterdheidspraktyke in die opvoedings-, godsdienstige, kulturele, politieke en ekonomiese sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing sal ondersteun, soos gestel in ’n artikel van 27 Julie oor die projek wat op die UWK se webwerf gelees kan word.

Prof Rufus Gouws, professor in Afrikaanse taalkunde (met ’n fokus op leksikografie en woordeboeknavorsing) aan die Universiteit Stellenbosch se departement Afrikaans en Nederlands, het gesê dat hy as leksikograaf bly is oor elke woordeboek wat verskyn. Hy het verder gesê: “Dit is goed dat die aandag wat Kaaps deesdae in die letterkunde en taalkunde kry ook oorspoel na die leksikografie en dat ʼn woordeboek beplan word om ʼn skatkis van Kaaps te word.”

Soos Gouws, ondersteun ander leksikograwe ook hierdie projek. Dr Willem Botha, hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), het verduidelik dat die WAT deel van die projek se adviseursraad is en deur dr Gerda Odendaal, mederedakteur van die WAT, verteenwoordig word. 

“Ons is ten gunste van so ’n woordeboek en daarom dien ons ook in die adviesraad. Ons het reeds ongeveer 12 jaar gelede die UWK genader oor ’n woordeboek van Kaaps. Die standpunt van die UWK was destyds dat dit die verantwoordelikheid van die WAT as omvattende Afrikaanse woordeboek is om ’n tuiste te bied vir al die variëteite van Afrikaans wat Kaaps insluit,” het Botha gesê.

Hy het ook genoem: “Alhoewel [die WAT] [met die UWK se destydse standpunt] akkoord gegaan het en trouens nog altyd al die variëteite, Kaaps ingesluit, in die WAT opgeneem het, het ons tog gevoel dat ’n eie woordeboek vir Kaaps ’n nuwe trots in die sprekers sou wek en ook erkenning sou gee aan die waarde van Kaaps.”

’n Moontlike rede, volgens Gouws, waarom die meeste Afrikaanse woordeboeke en veral die WAT en die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) tot dusver min of geen Kaapse woorde ingesluit het, sluit aan by wat Botha gesê het. Gouws meen: “Die tipologiese opdrag van elke woordeboek bepaal watter vorme van die taal daarin weerspieël word. Tot dusver is die meeste Afrikaanse woordeboeke primêr op die standaardvariëteit van die taal gerig en daarom is woorde en uitdrukkings uit ander variëteite – byvoorbeeld dialekte, chronolekte en sosiolekte – meestal nie opgeneem nie. Die omvattende WAT gee vanuit sy omvattende opdrag wel erkenning aan ʼn verskeidenheid variëteite van Afrikaans, ook aan Kaaps. Die HAT se weerspieëling van eietydse Afrikaans is dié van die standaardvariëteit.”

Om Kaaps egter beter te verteenwoordig in die WAT, het die woordeboek se redaksie volgens Botha “die afgelope jaar en ’n half met hernude ywer aandag gegee aan Kaaps omdat die groot aantal nuwe publikasies in Kaaps dit soveel makliker maak om die materiaal te versamel”. Hy het verder ook gesê dat Odendaal gedurende dié tyd die uitsluitlike taak by die WAT gehad het om slegs op Kaaps te konsentreer en Odendaal het genoem dat hulle reeds sowat 1 500 Kaapse woorde en uitdrukkings tot die WAT toegevoeg het.

Rakende die WAT se hantering van Kaaps en ander Afrikaanse variëteite, het Odendaal die volgende gesê: “As omvattende woordeboek dokumenteer die [WAT] Afrikaans in sy wydste omvang. Dit beteken dat alle variëteite van Afrikaans in die woordeboek neerslag vind.”

Sy meen dat aangesien die WAT nie ’n variëteitwoordeboek is nie, hulle nie die verskillende variëteite van Afrikaans etiketteer nie. “Ons beskou gewoon alle woorde en uitdrukkings wat ons opneem, hetsy dit Kaaps of Standaardafrikaans is, gewoon as Afrikaans in eie reg.”

Volgens haar is dit ook soms moeilik om variëteite af te baken omdat taal vloeibaar is. Verder het sy gesê: “Daar is baie oorvleueling tussen die verskillende variëteite. Alhoewel daar dus sekere woorde en uitdrukkings is wat beslis eie is aan Kaaps, het Kaaps ook baie gemeen met ander variëteite soos Overbergse Afrikaans, Swartlandse Afrikaans, ensovoorts.”

Soos dié kenners, is daar ook studente wat opgewonde is oor die projek en die verskyning van die woordeboek. William Sezoe, ’n tweedejaar-BEd (Intermediêre Fase)-student, het gesê: “Ek dink dit is ’n progressive stap in die regte rigting. Vir te lank het variëteite van veral Afrikaans in isolasie gewandel. Dít was natuurlik deur apartheid en sy nalatingskap. Ek dink hierdie woordeboek gaan ons help as Afrikaansgemeenskap om die wonde van die verlede soort van te genees en [gaan] ons die geleentheid bied om as een taalfamilie binne die Suid-Afrikaanse gemeenskap ons plekkie te vind. Die woordeboek sal help om veral die stigma rondom Kaaps te kap, en dus groot erkenning aan die gemeenskap [te] gee wat dit as omganstaal gebruik. Dis tyd vir die Afrikaanse gemeenskap om, ten spyte van hulle verskille, saam in Afrikaans te dala!”

TROTS KAAPS EN REWOLUSIONÊR – Don is van mening dat die toekomstige byvoeging van die DWK tot die versameling van Afrikaanse woordeboeke rewolusionêr vir Kaaps sal wees. Foto: Karla van der Merwe.

Soortgelyk is Kerscher Don, ’n derdejaar-BA (Geesteswetenskappe)-student, entoesiasties en het sy gesê: “Kaaps is ’n eksentrieke kunsvorm en al wat dit kort is sy volwaardige plek in die Afrikaanse leksikografie; ’n plek waar ons kan terugblaai en verken, verder leer en ontwikkel. Kaaps is vir ’n baie lang tydperk gestigmatiseer as die taal van bendes en onkundiges, dit is verbied in Afrikaanse klasse op skool, en dit was net gesien as sleng. Die samestelling van ’n drietalige woordeboek met Engels, Standaardafrikaans en Kaaps is ’n manier om hierdie stigmatisering teen te werk en om die sprekers daarvan die erkenning te gee binne die konteks van akademie.”

Buiten dat ’n woordeboek van Kaaps akademiese waarde sal hê, sal dit ook tot die bevordering van Kaapse letterkunde en die erkenning daarvan kan lei. As iemand wat self dig in Kaaps en Standaardafrikaans, gee dit Don ook hoop: “Dit is deur hulle werk en soveel ander s’n waarin dit bewys word dat Kaaps nie net ’n dialek is van Afrikaans nie, maar dat dit sy eie taalreëls bevat en ’n diverse en unieke Afrikaanse gemeenskap beskryf. Dit laat my voel dat mense soos ek, ’n Kaapse Afrikaanse taalstudent, ’n stem het.”

Hierdie projek en woordeboek is vir Don ’n bewys van hoe “Kaaps en Standaardafrikaans saam kan floreer dat die een nie wegneem van die ander nie, maar dat dit mekaar verryk en aanvul”. Sy het gesê: “Ek dink woordeboeke is die belangrikste bron van taal en as Kaaps ingesluit word, sal dit nie net digters meer motiveer nie, maar ook alle Afrikaanse sprekers wat in hierdie wanpersepsie vasgevang is, daarvan bevry. Hierdie drietalige woordeboek is ’n hulpmiddel om die perspektief wat rondom Kaaps geskep is, te verander.”

Soos Don dit gestel het, dra dié projek dus by tot “die groter taalrewolusie wat alreeds in Afrikaans gesien word – die begin van inklusiwiteit en die ontwikkeling van taal vir almal se voordeel”.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial