GIVING DAY - Universiteitspersoneel ná hulle tenniswedstryd. Foto: Verskaf deur Bridge the Gap.

Bridge the Gap se Fondsinsamelingsprojek ’n Sukses

DEUR ILA ALBERTS

Die Universiteit Stellenbosch (US) se kampus was aan die gons op 7 en 8 Oktober met studente van oral oor kampus wat sport gespeel het om sodoende deel te neem aan die Bridge the Gap-veldtog se jaarlikse Skenkingsdag (of Giving Day). Daar was egter op 9 Oktober ook ’n fliekmaraton wat met dié geleentheid geassosieer was. Duisende rande is ingesamel om studente in nood te ondersteun en volgens Viwe Benxa, ’n intern by die universiteit se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge wat gehelp het om die verrigtinge te organiseer, was dit, ondanks COVID-19-regulasies, ’n reusesukses.

Bridge the Gap is ’n veldtog en liefdadigheidsfonds van die US wat deurlopend projekte loods en onder meer #Move4Food, Tygerberg Pantry Project en #EndPeriodPoverty ondersteun. Hierdie fondse poog, volgens bemarkingsbrosjures, onderskeidelik om Maties wat voedselonsekerheid in die oë staar of nie behoorlike sanitêre produkte kan bekostig nie, te help. Giving Day (wat weens COVID-19 hierdie jaar oor twee dae plaasgevind het) is die jaarlikse studente-georiënteerde fondsinsamelingsprojek hiervoor. 

Sihlelelwe Nzima, ’n tweedejaar-BCom (Ekonomiese Wetenskappe)-student in Irene-vrouekoshuis wat deelgeneem het aan die program, is trots op haar bydrae. “Ek is deeglik bewus van die verskillende finansiële uitkyke as studente. [Die universiteit se fondsinsamelingsprojek] was die regte ding om te doen.”

Nzima glo wel dat die dag meer studente sou gelok het indien dit eerder op ’n Vrydag en Saterdag  aangebied is, in plaas van ’n Donderdag en Vrydag, aangesien talle studente nog klasgedraf het tydens die 5-’n-kant sokker- en blitstenniswedstryde

“Ek het persoonlik elke oomblik van die wedstryde geniet. Ek is mal oor sport en het so lanklaas gespeel, so dit was verfrissend om weer terug te kom na dit waarvoor ek lief is,” het Nzima gesê.

Volgens Imáney Janse van Rensburg, derdejaar-BSc (Molekulêre Biologie en Biotegnologie)-student wat vir Erica-vrouekoshuis op die sokkerveld verteenwoordig het, was die dag se reëlings “beslis nie 100% nie, maar ek dink nie dis die organiseerders se skuld nie”. 

Daar was ’n paar spanne wat nie hulle opwagting gemaak het nie en beamptes moes dan rondspring om gapings te probeer vul, volgens Janse van Rensburg. Sy is van mening dat sy dit graag weer sou wou doen. 

“Dit was so lekker. Al het ek nog nooit voorheen sokker gespeel nie, en lekker gebrand [het] in die 13:00-son, sal ek dit beslis weer doen,” sê Janse van Rensburg.

STUDENTE warm op vir hulle sokkerwedstryde. Foto: Verskaf deur Bridge the Gap

Sowat 35 koshuise en PSO’s het aan die sokkerkompetisie deelgeneem, met vyf tot ses spelers in elke sokkerspan. In die tenniskategorie was ongeveer 20 koshuise en PSO’s aanwesig met twee tot drie spelers per span. Personeellede van die universiteit het ook deelgeneem en verteenwoordigers van elke fakulteit het op Wilgenhof-manskoshuis se tennisbane tennis gespeel met die Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-fakulteit en die Natuurwetenskappe-fakulteit wat met die louere weggestap het. 

Buiten hulle deelname aan die kompetisies self, word elke koshuis en PSO ook uitgedaag om soveel as moontlik nie-bederfbare goedere in te samel. Die wengroep word Maandag die 25ste Oktober bekendgemaak.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial