Danie du Toit - Bekende Spoegwolf-liedjie "Storm" met 'n geleende kitaar. Foto: Karla de Bod.

Danie du Toit Vertel Poësiestories

DEUR KARLA DE BOD

Met ’n glas Chenin blanc en ’n hamburger, wat net beskryf kan word as hemel binne in ’n knoffelbroodrolletjie, het Spoegwolf- en poësieliefhebbers op Maandag 24 Mei by Drum Restaurant na Danie du Toit, hoofsanger van die musiekgroep Spoegwolf, se stories geluister tydens die bekendstelling van sy nuwe digbundel Sterreval.

Van sy eerste digbundel Warmer voor die tuimeldroër, wat in 2020 bekend gestel is, het Du Toit 4 000 bundels verkoop. Na ’n jaar se skryf aan sy tweede digbundel en die bekendstelling van Sterreval, skat Du Toit dat dié nuwe bundel nou al by ’n 1 000 bundelverkope trek. “Dit sal maak dat ons nou al by 5 000 bundels [wat verkoop is] trek. Ek is baie dankbaar daarvoor,” sê Du Toit. 

“Die inspirasie agter Sterreval is maar net die opportunities in jou lewe en om rus te vind en om peace te vind en om die regte persoon te vind, en hoe hierdie dinge amper soos sterre in die lug is wat êrens val en jy dit wil vind,” sê Du Toit. 

Du Toit het die vermoë om stories op só ‘n manier te vertel wat ’n mens laat glo dat daar soveel meer in die wêreld is om te ontdek. Voor elke liedjie wat hy die aand gesing het, het hy ’n klein bietjie agtergrond van die gegewe liedjie gegee – die inspirasie agter die lied, waar dit geskryf was, en hoe hy gevoel het terwyl hy dit geskryf het. 

Die meeste van die liedjies is gedigte wat deur Du Toit geskryf is, en elke gedig vertel ’n storie. Met elke strofe probeer luisteraars uitvind wat die stories is, en dít is die kuns van Du Toit se liedjies – jy ken dalk nie die storie agter die skryfwerk nie, maar jy vind die mooi daarin soos jy dit oor en oor luister. 

“Ons het die aand baie geniet,” sê Du Toit. “Ons is baie dankbaar vir die uitkoms [van die aand].” 

Du Toit se broer, medelid van Spoegwolf en hoofkok van Drum, Moskou du Toit, het die hoofsanger tydens sy optrede bygestaan deur die bongotromme te speel. Die kombinasie van die twee broers se klanke het gemaak dat die gehoor nie anders kon as om saggies op die maat van die musiek met hulle voete by die ritme aan te sluit nie.

Lisa van Deventer, derdejaar-BScAgric (Veekunde)-student en een van die aand se gehoorlede, verwys na die einde van die optrede as een van haar gunstelingoomblikke toe Du Toit op die tafels rondbeweeg het terwyl hy en die gehoor sy bekende liedjie “Geel” gesing het. Sy sê: “Die hoogtepunt van die aand was toe Danie op ons tafel tussen ons wynglase kom sing het.”

“Drum se toekoms lyk goed, ons is hard aan die gang,” se Du Toit, “Ons kap rustig voort, [ons] werk, want die nag kom nader.”

Die aand was ’n storie op sy eie soos wat die musiek van Du Toit se kitaarsnare die restaurant gevul het en sy passie vir skryf, sy medemens en Stellenbosch aan die gehoor oorgedra het.

Please follow and like us:
Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram