Foto: Brynley van Aardt

Afrikaans glo verbied in dié koshuise

DEUR WILLIAM SEZOE

Die Universiteit Stellenbosch (US) is besig om links en regs vure te blus ná eerstejaarstudente in Minerva- en Irene-vrouekoshuise beswaar gemaak het oor die feit dat Afrikaans glo nie by dié koshuise welkom is nie.

Volgens ’n mediaverklaring van die Afrikaanse Taalraad wat 5 Maart vrygestel is, was eerstejaarstudente aan dié koshuise deur HK-lede en mentors gesê dat hulle nie Afrikaans op die terreine mag gebruik nie. 

’n Eerstejaar (19) wat vanjaar met haar BRekLLB-graad begin en eerder anoniem wil bly, het die voorval by Minerva-vrouekoshuis aan Die Matie bevestig. 

Die eerstejaar noem dat alle formele aktiwiteite wat deur die HK en mentors aangebied is, hoofsaaklik in Engels geskied het. “Ons was gereeld herinner om slegs in Engels met mekaar te kommunikeer. In ons klein mentorgroepies was daar heeltyd klem gelê op die US se Taalbeleid en dat ons asseblief daarop moet fokus,” sê sy. 

Sy vertel dat die ontsteltenis gekom het nadat daar vir hulle gesê was dat hulle nie Afrikaans ná die formele aktiwiteite mag praat nie. Volgens die eerstejaar het een van die eerstejaars in haar mentorgroep gevra of “ons Afrikaans mag praat wanneer ons alleen by ons vriende, byvoorbeeld buite op die Minerva-grasperk of bank, sit. 

“Toe word daar gesê, nee, ons moet Engels praat, want as ’n nie-Afrikaanssprekende verby stap sal hulle uitgesluit voel, terwyl hulle eintlik moet kan vry voel om by die gesprek aan te sluit. Ons was nogal ontsteld hieroor, want dis dan my sosiale lewe en persoonlike gesprekke,” het die student gesê.

Die eerstejaar het bygevoeg dat daar op ’n stadium ook na verskeie studente-organisasies se bemarkingvideo’s in Minerva se saal gekyk is. “Die eerste klompie video’s was in Engels, maar toe kom die Voortrekkers se opname, wat natuurlik in Afrikaans is, op en na ’n paar sekondes het een van die HK-lede die opname gestop en gesê nie almal verstaan dit nie, so as ons wil aansluit moet ons eerder na die sessie die opname kyk, en toe was die opname oorgeslaan,” vertel sy.

Sy noem dat sy en ’n groep ander studente hulle ongelukkigheid met die koshuis se prim gedeel het en dat daar toe vir hulle gesê is dat Engels gebruik word om inklusiwiteit te bevorder. 

Die Matie het Minerva-vrouekoshuis genader vir kommentaar, maar was toe verwys na die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking. 

Dit blyk ook asof dit nie die eerste keer is waar Afrikaanssprekende studente gevra is om nie hulle moedertaal in koshuise te gebruik nie. ’n Voormalige inwoner en mentor van Irene-vrouekoshuis en nagraadse LLB-student aan die US, Ziska van Dyk (22), het vertel van hoe daar ook verlede jaar in dié koshuis twis ontstaan het oor die gebruik van Afrikaans.

Volgens Van Dyk was daar ’n mentor-skakel, waar daar toevallig ’n groep Afrikaanse en nie-Afrikaanse dames apart van mekaar gesit het. Dit het glo later tot konflik gelei.

“Die een helfte was in hulle eie gesprek en die ander helfte in hul eie gesprek. Toe raak die nie-Afrikaanssprekendes se gesprek op. Ons besef toe eers agterna daar word na ons gestaar. En ons het toe maar oorgeslaan na Engels om hulle te akkommodeer,” sê Van Dyk.

Sy verduidelik dat daar die volgende dag ’n dringende vergadering geroep was nadat een van die mentors ’n klag oor die situasie ingedien het en mentors toe gevra was om slegs Engels met mekaar te praat.

“Ons hoofmentor het gesê dat ons selfs in sosiale omstandighede slegs Engels moet praat, al is daar nie nie-Afrikaanssprekendes rondom ons nie, en dat ons dit ook so moet verduidelik aan ons eerstejaars,” sê Van Dyk. 

Irene-vrouekoshuis het op hulle beurt genoem dat die kompleksiteit van die kwessie in ag geneem moet word, maar dat hulle ook alle aksie op grond van hulle waardes en grondwet rig en uitvoer.

Micke van Rooyen, prim van Irene-vrouekoshuis vir 2020/2021, het aan Die Matie gesê dat die kompleksiteit van kommunikasie in ag geneem moet word. 

“Die nuwelinge verteenwoordig die volgende vyf verskillende nasionaliteite: Suid-Afrika, Verenigde Koninkryk, Zimbabwe, Swaziland en Nigerië. Dit dui op die kompleksiteit waarbinne kommunikasie binne gebeure plaasvind,” sê Van Rooyen. 

Volgens Van Rooyen het slegs 29 uit die 109 nuwelinge Afrikaans as hulle voorkeur korrespondensietaal aangedui en slegs 38 nuwelinge Afrikaans as hulle moedertaal. 

Van Rooyen sê dat geen taal by Irene uitgesluit word nie en dat “… die mentors waar moontlik [gesprekke hou] in die taal van hul keuse en waar nodig in Engels”

“Wanneer almal vir mekaar vreemd is, gebruik ons taal om ’n samehorigheid te skep en soos die jaar vorder kan ons samehorigheid gebruik om veeltaligheid te bevorder,” lui Van Rooyen.

Van Rooyen sê Irene se grondwet vereis van koshuisinwoners om Engels as amptelike korrespondensietaal te gebruik, maar hulle moedig “veeltaligheid in gemeenskappe en koshuisseksies aan”.

Die Matie het ook by ’n eerstejaar-Ingenieurstudent verneem dat daar ook in Dagbreek-manskoshuis gevra was om ten alle tye slegs Engels te gebruik. “Hier by Dagbreek is alles en gebeur alles 24/7 in Engels,” het die student vertel. 

Dagbreek se onder-prim vir 2020/2021, Marais Cloete, het by navraag gesê dat die bewering onwaar is en dat ’n slegs Engelse beleid nie in Dagbreek bestaan nie. “Ons vergaderings en offisiële kommunikasie is in Engels om ons internasionale en ander studente wat nie Afrikaans verstaan nie te akkommodeer. Studente mag ten alle tye in Afrikaans kommunikeer en ons vertaal dit vir die res van die groep om almal in te sluit in ons gesprekke,” verduidelik Cloete. 

Die Matie het ook by ’n mentor van een van die manskoshuise verneem dat twee eerstejaars gekla het nadat daar glo vir hulle gesê was dat hulle nie Afrikaans gedurende en ná formele verrigtinge by die amaMaties-klustergroepdag mag praat nie. Die amaMaties-klustersameroeper, Lesiba Pula, het by navraag gesê dat hulle die bewerings ondersoek het, maar dat daar geen klagtes aanhangig gemaak is om verdere stappe omtrent die situasie te neem nie.

Intussen het die Demokratiese Alliansie (DA) ’n verklaring uitgereik waarin hulle vra of die US “probeer om weer van Afrikaans ’n kombuistaal te maak”. Luidens die verklaring gaan die DA-leier, John Steenhuisen, en ander DA-lede die studente wat die klagtes ingedien het 10 Maart ontmoet en ook die saak by die Menseregtekommissie (MRK) aanhangig maak. 

Volgens die party se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, dr Leon Schreiber, skend die US die betrokke studente se grondwetlike reg tot taalvryheid. “Paragraaf 9 (3) van die Handves van Menseregte sê uitdruklik dat geen staatsinstelling, insluitend openbare universiteite, teen enige persoon mag diskrimineer op grond van taal nie,” verduidelik Schreiber. 

Die drukgroep Gelyke Kanse wat die US in 2019 na die konstitusionele hof toe geneem het oor die US se 2016-Taalbeleid, het op hulle beurt genoem dat hul die DA ondersteun met die skrywe na die MRK en dat hulle die MRK sal help met die insameling van bewyse. 

Die groep het in Oktober 2019 die saak teenoor die US verloor, nadat hulle wou hê die US moet terugkeer na die 2014-Taalbeleid wat onderrig in beide Afrikaans en Engels aanbied. 

Die US se woordvoerder, Martin Viljoen, het by navraag aan Die Matie bevestig dat hulle bewus is van die klagtes wat deur vrouestudente in die media genoem word. 

“Dis nie beleid dat slegs Engels in koshuise gebruik word nie, dat video’s wat Afrikaans bevat nie vertoon mag word nie of dat studente nie Afrikaans mag praat nie,” sê Viljoen. 

Hy voer verder aan dat Engels gebruik word vir inklusiwiteit. 

“Engels word meestal in koshuise gedurende die verwelkomingsperiode gebruik om inklusiwiteit te verseker wanneer dit by formele byeenkomste en gesprekke kom,” verduidelik Viljoen. 

Viljoen het ook verduidelik dat daar geen afsonderlike Taalbeleid is vir koshuise nie, en dat koshuise die US se offisiële Taalbeleid behoort te volg. 

Volgens Vijloen stem die gebruik van Engels gedurende formele aktiwiteite ooreen met die Taalbeleid onder paragraaf 7.2.5. 

“In koshuise en ander leefomgewings word taal op so ’n wyse gebruik dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings uitgesluit word nie.” 

Volgens ’n opgedateerde verklaring wat Viljoen op 8 Maart aan Die Matie gestuur het, is “die gees en bedoeling van die Taalbeleid van die US waarskynlik verkeerd geïnterpreteer en toegepas op ’n manier wat nie strook met die doelstellings van die beleid en waardes van die Universiteit nie”. 

Hy voer ook aan dat die US met ’n voorlopige ondersoek bevind het dat die situasie slegs tot een betrokke koshuis beperk was. Hy sê ook dat die ondersoek voortgaan en dat die US ook gesprekke sal voortsit met studenteleiers.

“Die Universiteit sal hierdie week via die Afdeling Studentesake voortgaan om met studenteleiers in alle koshuise oor die aangeleentheid in gesprek te tree terwyl ’n bemiddelingsproses in die betrokke koshuis aan die gang is om uit te kom by ’n gedeelde begrip van die Taalbeleid,” se Viljoen.

Die US het ook intussen aangekondig dat hulle besig is om die 2016-Taalbeleid te hersien. Volgens die mediaverklaring wat 8 Maart vrygestel is, moet die Taalbeleid vanjaar hersien word en op 2 Desember 2021 deur die Raad aanvaar word.

*Die Matie vra onvoorwaardelik om verskoning vir ’n wanaanhaling van Micke van Rooyen in die artikel “Afrikaans glo verbied in dié koshuise” van 9 Maart. 


Die Matie het berig, “Maar so ook het ons 12 tale wat deur ons nuwelinge aangedui is. Ons het nuwelinge van Suid-Afrika, maar ook uit die Verenigde Koninkryk, Zimbabwe, Swaziland en Nigerië. So dit is duidelik ’n kompleksie situasie, almal wil mekaar verstaan,” terwyl Van Rooyen “Die nuwelinge verteenwoordig die volgende vyf verskillende nasionaliteite, Suid-Afrika, Verenigde Koninkryk, Zimbabwe, Swaziland en Nigerië. Dit dui op die kompleksiteit waarbinne kommunikasie binne gebeure plaasvind,”  gesê het.

Die Matie het ook berig, “Sy vertel dat Engels gebruik word om bande te bou. “Ons gebruik Engels omdat almal vir mekaar vreemd is. So Engels help om samehorigheid te skep en soos die jaar vorder kan ons samehorigheid gebruik om veeltaligheid te bevorder,” terwyl van Rooyen gesê het, “Wanneer almal vir mekaar vreemd is gebruik ons taal om ’n samehorigheid te skep en soos die jaar vorder kan ons samehorigheid gebruik om veeltaligheid te bevorder.”

Die Matie het ook berig, “Van Rooyen gaan voort deur te noem dat hul grondwet van hul vereis om Engels in Irene te gebruik om meertaligheid en inklusiwiteit te bevorder,” terwyl dit eerder moet wees, “Irene se grondwet vereis van koshuisinwoners om Engels as amptelike korrespondensietaal te gebruik, maar hulle moedig veeltaligheid in gemeenskappe en koshuisseksies aan“. 

Please follow and like us:
Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram