BY KARLA VAN DER MERWE
In ʼn persverklaring van Maandag 17 Augustus, het die Nasionale Studente Finansiëlehulpskema (NSFAS) aangekondig dat ʼn totaal van 5000 studente nie meer befondsing van die organisasie sal ontvang nie. Die besluit is geneem nadat NSFAS finansiële inligting vanaf die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) bekom het wat die organisasie bewus gemaak het van die feit dat sommige studente se huishoudelike inkomstes hoër is as wat hulle verklaar het en ook die maksimum inkomste vir kwalifikasie vir befondsing oorskry.
Dr Randall Carolissen, Administrateur van NSFAS, noem egter in ʼn klankgreep van SAfm, ʼn plaaslike radiostasie, wat tans op die NSFAS-webblad verskyn dat hierdie data vanaf die SAID byna ʼn jaar oud is en dat studente se omstandighede in daardie tyd al kon verander het. Hierdie veranderinge sou in ag geneem word indien studente binne 14 dae na die uitreiking van die verklaring op die staking van hulle befondsing beswaar gemaak het.
Misha Nel, ʼn eerstejaar-BA(Geesteswetenskappe)-student aan die Universiteit Stellenbosch, vertel egter dat toe sy om befondsing by NSFAS aansoek gedoen het, sy wel ʼn huishoudelike inkomste hoër as die maksimum R350 000 verklaar het en steeds befondsing gekry het vir 2020. Nadat sy in Mei uitgevind het dat haar befondsing gestaak is, het sy NSFAS gekontak wat toe uiteindelik vir haar gesê het om die staking van befondsing te appelleer, maar die aansoek daarvoor het volgens Nel toe al in Februarie gesluit.
“Op die einde van die dag moes ek vir hierdie jaar met my eie geld betaal wat ek eintlik nie het nie; dis juis hoekom ek vir NSFAS aansoek gedoen het,” sê Nel.
Nel se pa is tydens die afloop van COVID-19 by die werk afgelê en die gesin se huishoudelike inkomste val nou onder die maksimum inkomste om vir befondsing te kwalifiseer. “Nie net moet ek vir my kursus betaal nie, maar dit lyk ook asof ek die toelae wat hulle aan my uitbetaal het, [moet] terugbetaal,” verduidelik sy. “Dit is om en by R83 000 wat betaal moet word.”
Carolissen noem in die klankgreep dat NSFAS alle befondsing wat verkeerdelik uitbetaal was, moet terugkry. Hierdie word gestaaf deur die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande, wat in ʼn artikel van Eyewitness News noem dat daar kriminele aanklagte teen diegene wat NSFAS mislei het, gelê gaan word.
NSFAS het al voorheen soortgelyke stappe teen ander gevalle van bedrog geneem, soos in 2017 met die saak teen Sibongile Mani, ʼn student aan die Universiteit Walter Sisulu wat, volgens Netwerk24, R818 469 van R14 miljoen wat verkeerdelik in haar rekening inbetaal is, spandeer het. Die verkeerdelike inbetaling het as gevolg van ʼn programmeringsfout geskied en die saak is steeds aan die gang.
Menige studente het anoniem op die Instagram-blad @SUJustKidding aanspraak gemaak op die feit dat hulle befondsing deur die organisasie gestaak is en het ook van ander moeilikhede met hulle NSFAS-profiele melding gemaak. Daar was ook ʼn petisie op Change.org wat deur ontevrede studente gestig is teen die staking van befondsing. Onder die persverklaring wat by die petisie verskyn, verduidelik Noxolo Buthelezi, stigter van die petisie, dat hulle aanspraak maak aangesien verskeie studente wie se ouers bo die R350 000 maksimum huishoudelike inkomste-merk verdien, steeds nie genoeg geld verdien om universiteitskostes te dek nie. Buthelezi stel verder dat ouers dikwels steeds ander familielede het wat ook van hulle afhanklik is vir ondermeer skoolfonds en huishoudelike uitgawes.
NSFAS sowel as die universiteit se beurskantoor het met publikasietyd nie op Die Matie se navrae gereageer nie en geen verdere persverklarings oor die saak is uitgebring nie.