DEUR MART-MARIE SERFONTEIN
Toe Lumé Venter drie jaar gelede Bicycle Girl Clothing (@bicyclegirlclothing)op Instagram begin het, sou sy nooit kon raai dat sy in 2020 haar tweedehandse klere aanlyn besigheid uit ’n winkel in Dorpstraat sou bedryf nie.
Venter het bloot op Instagram tweedehandse klere as ’n side hustle begin verkoop – eers uit haar eie kas uit, toe haar ouma se ou klere en toe het sy eers later klere by verskeie plekke begin source om dan te herverkoop. Maar dis nie al wat sy doen nie. “Ek het gedink, daar’s soveel sulke stores, wat gaan ek doen wat anders is? En ek het besef daar ís iets – ek doen naaldwerk, ek upcycle die klere,” sê sy.
Dit was eers dié jaar wat sy Bicycle GirlClothinghaar volle aandag begin gee het en nou hou dit haar voltyds besig. Venter sê wat lekker is van haar besigheid is dat sy haar passie kan uitleef en kan doen waarvoor sy lief is. “Ek wil vir mense die mooi wys wat hulle nie noodwendig op hulle eie sien nie, om vir hulle te wys wat iets kán wees.”
Venter sê dat dit nie is dat sy fast fashion haat nie; sy wil net graag minder daarvan sien en sy hoop dat almal op die thrifting-trein sal klim. “Vir my gaan dit daaroor om vir iets nuwe lewe te gee. Alles verdien ’n tweede kans.” Sy sê dat deur tweedehands te koop, help ons ook die planeet, want minder klere beland op ashope. Byvoorbeeld, wanneer sy iets upcycle en sy gebruik materiaal of sny daarvan weg, probeer sy om niks daarvan te mors nie. “As daar lap oor is, sal ek byvoorbeeld ‘n scrunchie daarvan maak, en mense sal dit in die winkel ook te koop sien.”
Nou mag mens dalk wonder hoe die winkel in Dorpstraat ontstaan het. Bicycle Girl Clothing het een of twee keer in die verlede by Adam & Eve Collab se vintage markte, toe dié brand nog vanuit Trumpet Tree besigheid gedoen het, klere verkoop. Vroeg in September het hulle haar gekontak en gesê hulle wil ’n thrift store oopmaak. Hulle het haar gevra of sy nie saam met hulle wil collab nie en sy het ingestem.
Danneel Stone, Adam & Eve Collab se eienaar, sê dat hulle al lank ’n ordentlike thrift store wou oopmaak, spesifiek omdat Stellenbosch nié so iets het nie. Adam & Eve verkoop reeds thrifted baadjies, maar Stone het geweet dat hulle hul verskeidenheid produkte sou moes vergroot en meer variasie in só winkel moet hê. Hy sê dít is hoekom hulle Bicycle Girl Clothing genader het. “Sy het reeds ’n goeie following in Stellenbosch en haar brand is bitter uniek. Sy is ’n baie groot aanwins vir Adam & Eve. ”
Venter verseker haar getroue Bicycle Girl Clothing–aanhangers dat synie van Instagram gaan afgaan nie – sy gaan bloot nou haar stock tussen Instagram en die winkel verdeel. Sy is opgewonde vir die winkel, want alhoewel die verkope stadiger draai as op Instagram, kan sy nou haar kliënte ontmoet waar sy in die verlede net aan almal pakkies gestuur het.
Dus kan jy Bicycle Girl Clothing en Adam & Eve Collab nou in een winkelspasie aantref waar altwee brands se produkte verkoop word. Vir nou is die collab net ’n pop-up winkel, maar wie weet wat die toekoms mag inhou.
Jy kan hulle in Dorpstraat 53 elke Dinsdag tot Saterdag tussen 09:00 en 17:00 aantref. Hou ook ’n ogie oop vir Adam & Eve se Dorp Street Sunday Market op 4 Oktober.