Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR CARLA VISAGIE

Erfenisdag is ’n manier vir Suid-Afrikaners om die land se ryk diversiteit en unieke kulture te vier. Hier is vyf maniere om jou Erfenisdag in die Eikestad te vier:

  1. Roer jou hartsnare met die virtuele Stellenbosch on Stage-konsertreeks

Die bekroonde Stellenbosch Universiteitskoor gaan vanaf 24 September tot 4 Oktober gehore landwyd bekoor met hulle talent. Hulle gaan ook saam met ander bekende Suid-Afrikaners optree, insluitende die ikoniese sangeres, Laurika Rauch, Nigeriese tjellis, Sunday Kelechi, bekroonde komediant, Stuart Taylor, en Suid-Afrika se bekende braaier, Jan Braai.  Die konserte begin omstreeks 19:00 elke aand, 90 minute elk. Een kaartjie teen R130 sal jou toegang gee tot al die konserte en kan hier gekoop word.

2. Gratis kabelkarretjieritte vir dié wat tydens die inperking verjaar het

Met die besonderse uitsig oor die see, die Twaalf Apostels, en die Gewelberge, is dit geen wonder dat Tafelberg as een van die Sewe Natuurlike Wonders van die Wêreld ingesluit is nie. Wat beter is daar as om Erfenisdag te vier met ’n besonderse uitsig oor die Moederstad? Die Tafelberg-sweefspoor het vanaf 1929 al miljoene besoekers gehad. Hierdie September kan dié’s wat gedurende die inperkingstyd verjaar het, ’n gratis retoerrit met die kabelkarretjies kry. Onthou net om jou ID-dokument saam te bring. 

3. Proe sonskyn by die huis

Die #tastesunshine-veldtog is deur wine.co.za begin om Suid-Afrikaners aan te moedig om hulle erfenis saam met ’n glas wyn te vier. Om aan die veldtog deel te neem, hoef Suid-Afrikaners slegs ’n foto te neem van hulle trots Suid-Afrikaanse glas wyn met die #tastesunshine-hutsmerk.

4. Steek ’n braaivleisvuur aan

Beide die Jonkershoek- en Assegaaibosch-natuurreservate het Wêrelderfenisstatus, so die piekniekareas van hiérdie natuurreservate is die perfekte plek om jou erfenis te vier. Die reservate se hekke maak om 8:00 oop en sluit weer teen 18:00, en is in die Jonkershoekvallei net buite Stellenbosch geleë. Daar is ’n verskeidenheid van endemiese plant- en dierspesies te sien, en die koste is R50 vir volwassenes. Geen kontantbetalings word toegelaat nie, maar slegs Snapscan of EFT.

5. Eet ’n tjoppie by Knorhoek

Van ’n spitbraai en ’n Jerusalema-danssessie tot ’n 10km-veldwedloop; op Erfenisdag kan jy alles by die The Manor House op die Knorhoek-plaas kry. Toegang tot die geleentheid beloop R50, en dit sluit ’n boereworsrol, musiek en speletjies in. Die spitbraai kos ’n ekstra R150 en sluit ’n ete met braaivleis en kapokaartappels in, en jy kan jou eie verversings bring teen R50 per koelerboks. Die Erfenisdag-wedloop begin om 10:00, en jy het ’n keuse tussen die 2,5km of 5km-wedloop. Die toegangsfooi vir die Erfenisdag-wedloop is ’n kospakkie of pakkies sop wat geskenk sal word aan die Sir Lowry’s Pas-sopkombuis. Jy kan hier kaartjies koop om teleurstelling te vermy.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial