Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

DEUR WILLIAM SEZOE

Rodney Goliath (19), eerstejaar BA (Drama en Teaterstudie)-student aan die Universiteit Stellenbosch (US), het onlangs aan die bekende “Maak My Famous”-talentkompetisie, wat weekliks op die DStv-kanale kykNET en kykNET & kie uitgesaai word, deelgeneem. Goliath, ook bekend as Rotas The Rapper, was met episode vyf van seisoen twee met twee moeilike keuses gelaat. Hy moes kies om aan te hou met die kompetisie of hy kon wegstap met ’n bedrag van R20 000.

Dié eerstejaarstudent het talle Suid-Afrikaners in trane gehad met sy optredes op die program. Hy het deur middel van sy rymkletstalent en musiek sy storie vertel met die hoop om ander te motiveer en te inspireer om ten spyte van hulle pyn en swaarkry uit te styg.

Hy noem dat sy inspirasie grotendeels uit die Paarl, waar hy grootgeword het, kom. Sy omstandighede motiveer hom om sy storie te deel. “Ek het aan ‘Maak My Famous’ deelgeneem, want ek wou mense wys dat dit nie saak maak van waar jy kom nie, dit maak nie saak wat jou omstandighede is nie – dit is waarheen jy gaan, want jy kan jou doelwitte bereik, jy kan hoë hoogtes bereik,” sê Goliath.

Volgens Goliath was een van sy grootste wense terwyl hy op die program was om spesifiek vir jong opkomende rymkletsers te wys dat daar wel spasie vir rymkletsers in die industrie is. Hy vertel dat sy kort pad met die “Maak My Famous”-span ’n belewenis was en dat dit vir ewig deel van sy menswees sal wees.

“Die ervaring was awesome! Ek sal dit nie eintlik kan beskryf nie – dis te veel vir woorde, al is ek ’n man van vele woorde. Ek moet egter noem dat ek baie geleer het oor die industrie, en glo dit of nie, ek het meer te wete gekom oor myself en as kunstenaar. Die program het definitief meer betekenis tot my lewe en karakter gebring. Ek is dankbaar dat ek ’n groter platform kon kry om my storie met ander te deel, sodat hulle daaruit kon leer, maar ook dat dié wat in dieselfde bootjie is, kan besef dat daar wel ’n uitkoms is, dat daar wel lig aan die einde van die tonnel is,” noem Goliath.

Duisende was diep geraak oor Goliath se rymklets en sy storie wat hy daardeur vertel. Op kykNET se Facebook-blad kon mense nie uitgepraat raak oor sy talent nie. “My hart is in stukkies, dis nodig gewees dat jongmense sy wyse woorde moes hoor. Ek glo God sal hom seën van krag tot krag. Hom sal versterk en lei deur sy keuse. Ek glo ons sal weer van hom sien en hoor, want God ken sy weg,” skryf Melvin Lottering.

Volgens Goliath is hy steeds verbaas oor die oorweldigende ondersteuning, maar hy sê dat hy terselfdertyd ook dankbaar is vir al die ondersteuning en liefde wat hy tot dusver van Suid-Afrikaners ontvang het. Volgens Goliath is daar meer agter die storie as wat mense dink.

“My ma het nooit die geleentheid gekry om verder te gaan studeer nie, of daar was die geleentheid, maar daar was nie die finansies nie. Dit was die geval met baie van my familielede, dus moes ek van die geleentheid gebruik maak as kind in post-apartheid Suid-Afrika. Ek glo in die woorde van wyle oudpresident Nelson Mandela: ’Education is the key to success.’ Dus het ek my studies bo die geleentheid gekies.”

“Ek dink dis belangrik om te verstaan dat ons elk nie dieselfde ideologieë het nie – iemand anders sou dalk weer die geleentheid bo sy akademie gestel het, maar vir my gaan dit oor ’n fondasie. As kunstenaar wil ek ten minste ook ’n graad agter my naam hê waarop ek kan terugval as die musiek dalk

nie uitwerk nie, maar ek glo tog vas dat dit wel sal uitwerk. As ’n gelowige jongman kan ek nie fout gaan met die keuse wat ek gemaak het nie. Ek hoop mense kan dit respekteer,” sê Goliath.

Stigter en mede-aanbieder van die program, Emo Adams, het aan Die Son genoem dat hy ook geskok was met Goliath se besluit, maar terselfdertyd ook baie trots op hom is. “Hy het ’n beurs en hy het nie die geleentheid om uit sy eie te gaan studeer nie. Ek dink dit was die regte besluit vir hom en ek is baie trots op hom,” noem Adams.

Goliath noem ten slotte dat hy nog altyd ’n Matie wou wees en dat hy dit nie sommer maklik vir enigiets sal verruil nie. “Ek het nog altyd gedroom om universiteit toe te gaan en die US was daardie universiteit waarvan ek gedroom het. Ek wou ’n Matie wees en vandag is ek een,” noem Goliath.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial