Kora kraai koning

BY WILLIAM SEZOE

PROF. Menán du Plessis, navorsingsgenoot by die Departement Algemene Taalwetenskap, is op 6 Maart vir die Hiddingh Currie-toekenning deur UNISA bekroon vir haar uitgebreide navorsing op die verlore Khoisan-taal Kora (of !Ora in die taal self).

Dit is deel van die Khoekhoe-tak van die Khoisan-taal-familie KHOE. Du Plessis het haar toekenning in Pretoria vanaf die senaat van Unisa-publikasies ontvang.

Volgens Du Plessis was dit oorspronklik die idee van Mike Besten, ’n geskiedkundige en Matie-alumnus, om die verlore Korataal van die Suid-Afri-kaanse Khoivolk, die Korana, na te vors.

“Besten was in 2007 opsoek na taalkundiges wat wou help ná sy merkwaardige uitvindsel dat Kora/!Ora steeds gepraat word deur enkele ouer Korana-mense in en rondom Bloemfontein en Bloemhof,” sê Du Plessis.

Du Plessis en Besten het toe veldwerk begin doen in die omliggende gebiede van Bloemfontein. Du Plessis het spesifiek daarop gefokus om al die inligting bymekaar te maak.

Dit het ’n bewerkte en geannoteerde samestelling van al die vertellings en woordeskat wat op verskillende tye in die verlede ingesamel is, ingesluit, asook ‘n gedetailleerde moderne beskrywing van die taal.

“My groot droom het uiteindelik in 2011 begin om ’n werklikheid te word toe ons befondsing gekry het van die Dokumentasieprogram vir Bedreigde Tale by die SOAS in Londen. Dis toe dat ons volstoom begin werk het met twee van die heel laaste sprekers van die Korataal.

Ongelukkig het Besten in daardie jaar gesterf en ek moes toe voortgaan sonder hom. Ek moes toe uitreik na twee taalkundiges in Namibië, die een ’n Nama-spreker en die ander een Dama , twee dialekte van Namibiese Khoekhoe, en ’n taalaktivis vanuit Kaapstad,” sê Du Plessis.

Ten spyte van Besten se heengaan, het Du Plessis voortgegaan met die projek. “Ek het verskeie mense, Khoisan-aktiviste en die merkwaardige Kaptein Kraalshoek en sy gasvrye familie ontmoet toe Mike my die eerste keer na die gemeenskap geneem het. Kraalshoek het my sy seën gegee vir die projek.

“Hiermee het ek gevoel dat daar groot verwagtinge op my geplaas is, alhoewel ek soveel angstigheid, pyn en onsekerheid beleef het tydens die navorsing. Ek moes voortgaan vir die mense se saak, ek het hul beloof dat ek vir hulle ’n uitkoms sal bring.”

Volgens Du Plessis is sy ook deur die gemeenskap vereer deur ’n “toekenning” van kaptein Kraalshoek te ontvang in die vorm van ’n spesiale soort water wat uitsluitlik in die sendingstasie van Bethany gevind word. Du Plessis sê hierdie water is nooit verkoop nie, maar wel aan besonderse mense toegeken.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram