Latest Post

Residence Rundown The Apple of their heroes’ eyes: An album review Reforest Fest: A fezzie for the trees The Fallen Boer

Carla Visagie het gesels met die Matie-alumna en kranige aktrise Carla Smith wat oor die afgelope 13 weke kykers se hartsnare geroer het in die kykNET-reeks Tydelik Terminaal.

As jy die dinamiese donkerkop Carla Smith op die kassie sien, is dit moeilik om te dink sy moes soos enige ander student klasdraf. As jy in ag neem dat haar gunstelingplek die bedjie op haar woonstel se stoep met ’n glas wyn in die een hand en ’n bak frozen yogurt in die ander is, kan sy amper soos een van ons gewone spul lyk. Die storie loop egter bietjie anders.

Carla, wat verlede jaar haar HonsBA (Drama en Teaterstudie) aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het, hou kykers sed­ert Oktober verlede jaar vasgenael voor die kassie in Tydelik Termi­naal, ’n 13-episode dramareeks op kykNET.

Sy vertolk die rol van Kittie Claassen, ’n 22-jarige HonsBA (Jo­ernalistiek)-student wat haar joer­nalistieke drome opsy moet skuif wanneer sy gediagnoseer word met die klierkanker Hodgkin se siekte.

In die reeks stap sy die reis met haar twee beste vriende, Fan­ie (Hendrik Niewoudt), wat saam met Smith aan die US studeer het, en Mandy (Eve Rasimeni).

Tydens haar ses maande lange reis ontmoet sy nuwe vriende wat haar ’n nuwe perspektief op die lewe gee.

Dié reeks is deur die ervar­ings van sy skepper Elanie Rup­ping geïnspireer, wat self ook met Hodgkin se siekte in haar hon­neursjaar gediagnoseer is.

Carla moes haar hare afskeer om behoorlik in Kittie se karakter te kon klim en moes die uitdagings van so ’n gedaanteverwisseling trotseer.

“Die oggend was baie sleg, omdat mens dikwels agter mens se hare wegkruip, maar die gesel­skap, die produksiespan en Elanie se bystand het dit soveel makliker gemaak. Terwyl ons geskiet het, het almal in die deur gestaan, geg­limlag en my aangemoedig.

“Dit is natuurlik ’n baie sensi­tiewe storie omdat so baie gesinne al geraak is deur hierdie siekte. Daarom was my grootste uitdag­ing om dit met deernis en eerlik­heid oor te dra.

“Omdat dit nodig was vir die storie, al was dit aanvanklik moe­ilik, het ek met trots daarmee ge­loop,” sê Carla.

Wanneer mens op die televisie moet verskyn terwyl jou dosente van jou verwag om klas by te woon, kan dinge soms moeilik raak. Carla sê sy het aanvanklik gedink dat sy nie haar klasse en rolspel sou kon balanseer nie, maar sy het na haar klasraamwerk gekyk en uitgewerk watter klasse sy sou kon mis. Verder het sy ver­gaderings met haar dosente gehad en take vroegtydig ingegee.

Het sy dan reeds van kindsbeen af gedroom daarvan om op uni­versiteit al op die kassie te wees? Carla meen sy is nie die soort wat voor die televisiekameras gebore is nie en wou aanvanklik ’n dokter word.

“Ek het altyd dokter-dokter met my sussie gespeel en gedink ek sal die tamatiesous met bloed kan verruil – toe nie. Dit was sek­er toe ek in my ma se ou klere be­gin paradeer het nadat netbal my verveel het,” sê sy.

Carla het aanvanklik nie vir die rol van Kittie oudisie nie, aang­esien sy geweet het dat dit met haar studies sou bots. Sy is egter gevra om ’n video-oudisie in te stuur sodat sy op die regisseur se boeke kan wees.

“My WeTransfer het belaglik lank gevat [om die video te stuur] en toe hulle dit ontvang was dit al die dag van die callbacks. Ek en Hendrik Nieuwoudt moes binne vyf minute vir die regisseur, Etienne Fourie, een van die tonele doen voor hy moes haas na sy vol­gende afspraak toe.”

Dit blyk toe dat die jong aktrise nie veel tyd nodig gehad om die rol los te slaan nie.

Ten spyte daarvan dat die ver­filmingsproses baie vinnig moes verloop en dat sy “elke dag met ’n glimlag en Red Bull moes vier”, sê Carla dat die lekkerste deel van die verfilming die groep mense was waarmee sy gewerk het.

“Dit was ongelooflik spesiaal om saam met Anna-Mart van der Merwe en Henrietta Gryffenberg te speel en dan natuurlik was daar oneindigend baie pret saam met Fanie (Hendrik Nieuwoudt) en Mandy (Eve Rasimeni),” sê sy.

Alhoewel die reeks van ’n sen­sitiewe en dramatiese aard is, ver­klap Carla dat daar ook ligte oom­blikke agter die skerms was.

“Daar was ’n toneel in episode een met Stian Smith waar hy ’n ernstige karakter moes speel voor ’n belaglike gangster-looking muur. Tussen skote het ons gerap terwyl hy in sy leunstoel getol het en ons het gestik van die lag – niemand anders het gedink dis snaaks nie.”

Carla trek nou wel vanjaar Kaap toe, maar is sy nog nie klaar met Stellenbosch nie. Haar “ander helfte” studeer hier en sy is by vele Woordfees-produksies betrokke, onder andere Lycra en Petticoats (wat die Drama Departement se Première-fees gewen het), Wag, Wag (met Wian Taljaard) en Die Engel by die Dam (’n produksie met Nico Scheepers).

Verder repeteer sy aan ’n produksie met Edwin van der Walt, Stian Bam en Anna-Mart van der Merwe, Terminaal 3, wat KKNK, Fugard- en Staatsteater toe gaan (Marthinus Basson behartig die regie).

Klink soos ’n vrou met heelwat hooi op haar vurk. Sy wil egter onder andere nog met die akteurs De Klerk Oelofse, Cintaine Schutte en Jana Cilliers werk en bestempel Jemma Kahn as haar hero.

Al groet Carla vir blou Stellen­bosch om vreemde horisonne te gaan verken, meen sy dat sy dié dorp sal onthou as ’n “ongelooflike plek met ’n ryk studentelewe wat studente van verskillende kulture van regoor die wêreld het”.

“Daar is min wat vergelyk met ’n stappie in Victoriastraat terwyl mense om jou in ander tale klets, fietse verby jou woer en die plataanblare om jou val,” sê die aktrise oor die Eikestad.

*Tydelik Terminaal se laaste episode is op Woensdag, 22 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai, maar is steeds tot 19 Februarie op DStv Now beskikbaar.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial