BRING JOU VELLIES Die sokkie-seisoen het offisieel laas Woensdag by die Khaya afgeskop. Foto: Gabriela Viljoen

Geen Opskop, geen probleem

BY GABRIELA VILJOEN

Is jou vellies uitgehonger vir ’n lekker sokkie, maar jou gemoed gaan dit nie maak om nóg ’n aand Catwalk se klein, deurmekaar sokkie-dansvloer aan te pak nie? Moenie vrees nie, ons het net die plekke vir jou as jy op soek is na goeie geselskap en vasdans met jou geliefkoosde Afrikaanse tref-fers wat blêr in die agtergrond.

Die sokkie-gemeenskap van Stellenbosch is in die tweede semester van 2019 deur skokkende nuus getref: Opskop, wel, skop op. Na maande se spekulasie en onsekerheid oor die toekoms van Opskop, het dié sokkie-hub van Stellenbosch hul deure toegemaak. Ten spyte van hierdie groot teleurstelling het twee student besluit dat sokkie nie sy laaste asem in 2019 sal uitblaas nie.

Sokkie by die Khaya

Manie du Toit, vierdejaar BIng (Megatronies)-student, het tot sy spyt besef dat niemand 2020 ingetree het met die idee om ’n nuwe sokkie-dansplek te stig nie. En dít is presies toe hy besluit het dat hy die katalisator van ’n nuwe sokkie-inisiatief sal wees.

Sokkie by die Khaya het verlede Woensdag afgeskop met meer as 400 sokkie-entoesiaste wat opgedaag het.

“Sokkie is ’n kultuur en dit vorm ’n gemeenskap van sy eie. Die samelewing moet plek maak vir die uitbreiding. Studente hou daarvan om nuwe mense te ontmoet en ou gesigte weer raak te loop. ’n Sokkie bring juis die groep mense bymekaar wat verkies om bietjie, of so nou en dan, weg te breek van die dorp se geraas en kuierplekke,” meen Du Toit.

Sokkie by die Khaya sal elke tweede Woensdag of Vrydag plaasvind by die Khaya langs Kruiskerk, met slegs ’n R10-in-gangsfooi, water en koue Oros in-gesluit. Alle winste word aan die Transkei Werkersaksie geskenk, ’n gemeenskapsorganisasie wat naaan sy hart lê. Du Toit vertel dat sy doelwit nie is om geld te maak nie, maar eerder om terug te ploeg in ’n minderbevoorregte gemeenskap terwyl hy sy liefde vir sokkie met ander deel.

Destination Dancefloor

Destination Dancefloor (DD) is gestig deur “selfgeproklameerde-soutie”, Douglas Pike, ’n Rekenaarwetenskap-student. Douglas het sy groot liefde vir sokkie ontdek nadat hy ’n aand Opskop toegesleep is saam met die Maties Dansvereniging. Nes Du Toit, het hy na die lang afwagting vir die volgende groot sokkieplek besluit om sake in sy eie hande te neem.

Destination Dancefloor word Vrydag- en Saterdagaande tussen 20:00 en 23:00 by Christ Church Stellenbosch gehou. Die ingangsfooi is R30, of R20 as jy voor 20:30 arriveer. DD bied selfs gratis lojaliteitskaarte aan wat die ingangsfooi vir elke vyfde sokkie kanselleer. Water word verskaf en yskoue koeldrank word verkoop.

Pike verduidelik entoesiasties hoekom hy DD begin het: “Ek wou gehad het dat almal die warm verwelkoming van die dansgemeenskap moet ervaar. Hulle is altyd in vir ’n aand van pret, meer leer en om ook vir beginners te leer.”

Vir inligting oor toekomstige sokkies, volg @destinationdancefloor en @stellies_sokkie op Instagram.

Ten afsluiting, pas ons die wyse woorde van Kurt Darren effens aan: Skop jou skoene uit, want jy wil nie uitmis op die Stellenbosch kaalvoetsokkies nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram