Dennis Davis tydens die Wêreldwye Sosiale Geregtigheidsdag, 20 Februarie. Foto: Carla Visagie

Dennis Davis delf diep in geregtheidsdebat

BY CARLA VISAGIE

REGTER-PRESIDENT Dennis Davis het op Wêreldwye Sosiale Geregtigheidsdag die inwydingsrede van die jaarlikse Sosiale Geregtigheid-lesing gelewer.

Die lesing het op 20 Februarie plaasgevind en is getitel “Sosiale Geregtigheid en Ekonomiese Insluiting: Waarheen Suid- Afrika?”.

Volgens advokaat Thuli Madonsela, wat die sosiale geregtigheid leerstoel in die fakulteit regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) beklee, sluit die tema wat vir die lesing gekies is aan by die tema wat deur die Verenigde Nasies (VN) gekies is getiteld, “Die sluiting van die ongelykheidsgaping om sosiale geregtigheid te bewerkstellig”.

“Van ons kant af het ons gekyk na wat die grootste ongelykheidsgaping in Suid-Afrika is en het besluit op ekonomiese insluiting, aangesien die Wêreldbank ons as een van die mees ongelyke gemeenskappe in die wêreld verklaar het. Bykomend tot die faktor van ongelykheid het ons gedink dat armoede in alle aspekte van die lewe voorkom, of dit nou behuising, onderrig of armoede is.

“Dit [ekonomiese insluiting] is ook een van die dinge wat baie skeiding tussen ons veroorsaak en dit is een van die dinge wat die fasciste, wat voorgee om sosialiste te wees, benut om ondersteuning te kry,” het Madonsela gesê.

Madonsela het verder gesê dat daar hoop vir jongmense is en dat hulle “kan help om ’n manier te vind hoe ons [Suid-Afrika] gesprekke op so ’n manier kan voer sodat dit ons nie verdeel nie”.

Davis het onder meer geargumenteer dat alhoewel daar ’n reeks sosio-ekonomiese regte is wat vir almal beskore is en ingesluit is in die Suid-Afrikaanse grondwet “insluitend die reg op behuising, gesondheidsorg, kos, water, sosiale sekuriteit en onderrig, die realiteit anders lyk”.

“’n 2017-verslag deur Statistiek Suid-Afrika wys dat, ten spyte van ’n daling in armoede tussen 2006 en 2011, vlakke van armoede weer gestyg het; van ’n lae 53,2% in 2011 tot 55,5% in 2015. Ongelykheid in Suid-Afrika, gemeet in terme van die Gini-koëffisiënt van inkomste, het konsekwent bo 0.6 gebly vanaf 1993 tot 2015, wat maklik vir Suid-Afrika in die topvyf mees ongelyke lande op die globale skaal plaas,” het Davis gesê.

Davis het bygevoeg dat “die Grondwet ’n nuwe Suid- Afrikaanse identiteit wat die waardigheid van die verskille [tussen burgers] sou omarm en die konstruksie van ’n nuwe toepaslike norm vir ’n demokratiese nie-rassige, nie-seksistiese samelewing sou verseker, beoog het”.

“Dit het ongelukkig nie gebeur nie en gevolglik is die mate van vervreemding, wat diep in die Suid-Afrikaanse geskiedenis ingebed is, nie aangespreek nie. Ek vind dit buitengewoon dat ’n Nobelprys-wenner en ’n ander seniorlid van ’n organisasie, wat beweer dat dit die grondwet bevorder, in die openbaar kon beweer dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie.

“Ek aanvaar dit dat De Klerk waarskynlik nie vir die oorgrote meerderheid mense kan praat nie, maar ek dink daar is iets daaraan wat hoogs kommerwekkend is en dat ons nog nie die soort identiteit het wat benodig sou word as ons sosiale geregtigheid vir almal sou wou hê nie,” het Davis gesê.

Davis het onder meer drie uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, aangespreek. Dit het ekonomiese herverde­ling en ou ekonomiese beleide wat “met vars idees vervang moet word wat die belofte van [ekonomiese] herverdeling bev­estig” ingesluit.

Nog van Suid-Afrika se uitdagings wat Davis in die rede uitgelig het, sluit in dat “ons ’n nasionale debat moet voer oor wat dit beteken om Suid-Afrikaans te wees en watter standaard ons gebruik om suksesvolle deelname in die samelewing te evalueer”.

“Eenvoudig gestel, die wit manlike norm wat voortgaan om te oorheers en miljoene uitsluit van billike deelname, moet ontwyk word en vervang word met transformerende inhoud.”

Volgens Davis is die derde uitdaging vir Suid-Afrika dat politici moet kan rekenskap gee aan landsburgers.

“Die huidige kiesstelsel faal daarin om ’n samehangende en lewensvatbare stelsel van magsskeiding te bevorder, veral tussen die uitvoerende gesag en die wetgewer,” het hy gesê.

Hy meen hierdie drie beginsels moet dringend aangespreek word, “anders sal daar vir miljoene geen sosiale geregtigheid bestaan nie”.

“Die soort strukturele uitdaging om ongelykheid die hoof te bied in Suid-Afrika, het ondanks veel politieke retoriek eenvoudig nie plaasgevind nie.”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram