DIE ROOIPLEIN HOU ‘N GEHEIMSINNIGE SWART BOKS Mense wat deur die swart boks op die gras sit.

CARLA VISAGIE

’N Swart skeepshouer wat studente al vir ’n geruime tyd aan die wonder het op Die Neelsie se grasperk is op Maandag 8 April geopen vir studente om oor die etensuur te kom besigtig.

Die skeepshouer bevat ’n

kunswerk wat van “kamera obscura” tegnologie gebruik maak, ’n natuurlike optiese verskynsel wat plaasvind wanneer ’n beeld van ’n toneel aan die ander kant van ’n skerm deur ’n klein gaatjie as ’n onderstebo en omgekeerde beeld op ’n oppervlak teenoor die opening geprojekteer word.

Die projek se naam is “Obskure Stellenbosch” en is ontwerp deur Charles Palm, ’n derdejaar BA- (Skone Kunste) student aan US met die doel om studente met nuwe oë na die kampuslewe te laat kyk. “Ons almal beweeg deur die spasie van eerstejaar na vierdejaar toe en ons kyk nie rêrig daarna nie. Studente is meestal op hul selfone of besig om te gesels met hul vriende en hulle kry nie regtig ’n geleentheid om te kyk na die spasie op ’n objektiewe manier nie,” het Palm gesê.

Volgens Palm is die breër betekenis agter die werk om gesprekvoering aan die gang te sit en om ’n bydrae te maak op ’n kreatiewe manier, waar studente ’n spasie het om ’n emosionele reaksie by kykers uit te lok.

Palmer beoog om die installasie twee keer ’n jaar op die Rooiplein te hê. Dit gaan oop wees vanaf hierdie week tot aan die einde van Mei. Volgens Palmer is die projek deel van’n groter projek van die Visuele Kunste departement om ’n visuele regstellingsproses by die Universiteit van Stellenbosch (US) te begin.

Dié projek is begin deur prof Elmarie Costandius, ’n medeprofessor en koördineerder van die Meestersgraad in Kunsonderwys by die departement Visuele Kunste.

“Die projek stel voor om die kritieke en sosiale potensiaal van die kunste verder te benut om hierdie kwessies op ’n oop manier te ondersoek” lui die inligting oor Visual Redress-projek op die webtuiste van die departement Visuele Kunste van die US.

Volgens Lenelle Henning, ’n tweedejaar BA (Geesteswetenskap)-student met Visuele Studies as vak, dien die projek as ’n manier om oor probleme te praat. “Projekte soos hierdie is ’n kreatiewe en innoverende manier waarop studente ’n deursigtige en toeganklike kommunikasie platform gegun word,” het Henning gesê.