Annerine Snyman & Tivan Leak
Direkteur van sport, Ilhaam Groenewald, se boodskap aan studente is dat almal welkom is by Maties Sport.
Maties Sport het die afgelope drie jaar al baie onder die leiding van Ilhaam Groenewald, direkteur van sport, verander. Een verandering is om eerstejaarsdeelname te verhoog. Volgens Groenewald het sowat 3 000 van die ongeveer 5 000 eerstejaars op kampus al op skool aan sport deelgeneem en sy nooi alle eerstejaars uit om deel van Maties se sportomgewing te word.
By Maties word daar 31 sportsoorte beoefen en daar is ook ’n eenheid vir rekreasie en aktiewe lewenstyl wat enig in sy soort by Suid-Afrikaanse universiteite is. Die eenheid poog om studente aan te moedig om deel van Maties Sport te word.
“Jy hoef nie ’n superatleet te wees om by ’n sport betrokke te raak nie. Gryp die geleentheid aan om selfs net die basiese goed te doen. Maties Sport is hier om te help, om van diens te wees,” het Groenewald gesê.
Maties Sport se fokus sal daarop gevestig word om hulle programme ’n hupstoot te gee, sodat studente ondanks hulle besige skedules, tyd sal maak om betrokke te wees. ’n Inisiatief wat hierdie poging goed vasvang, is die #MVF (most valuable fan). Studente kan op Maties Sport se webblad aansoek doen waarna hulle genader sal word om gees te help bou onder ander studente.
Verder beloof Groenewald dat 2018 ’n jaar sal wees van verbeterde uitslae en beslis ’n jaar om Maties dop te hou.
“Dis dalk makliker om uitslae te kry. Die moeilike deel is om dit te behou en om te verbeter. Dit is wat ons hierdie jaar gaan doen,” het
Groenewald oor vanjaar se doelwitte gesê. “Een van die doelwitte, is om die kommunikasie met studente te verbeter. Dit sluit in om die studente se terugvoer te kry en om seker te maak ons weet waarvan hulle hou en nie hou nie,” het Groenewald gesê.
Sy moedig studente aan om Maties Sport in persoon te gaan besoek en om hulle ervarings te deel. Groenewald is ook passievol oor die
uitbreiding van sekere projekte sodat dit saam met die 100-jaar herdenking van die universiteit val.
Maties Sport beplan verskillende projekte, wat glo ’n plaaslike sowel as ’n internasionale skare sal lok.
“Ek sien die herdenking as ’n geleentheid om na nuwe mense uit te reik, mense wat ons nie ken nie, mense wat voor ons hier was. Ons gaan baie klem hierop lê,” het sy verduidelik.
Foto: Luke van Niekerk