Stereotipes oor studierigtings: Die graad maak nie die Matie nie

Deur Kayla Niemandt

Stereotipes oor fakulteite beïnvloed steeds die manier waarop studente mekaar se persoonlikhede, leergewoontes en loopbaanvooruitsigte beskou. Die Matie het met studente en dekane aan die Universiteit Stellenbosch (US) gesels om die oorsprong van hierdie menings, die impak daarvan en of dit werklik so is, te ondersoek.

ZOȄ SOUTHWOOD Zoȅ is ’n tweedejaarstudent in BA (Geesteswetenskappe). Foto: Zachary Philander

Blywende aannames

Nicola Reyneke, ’n eerstejaar-BA (Geesteswetenskappe)-student, het gesê die oorsprong van hierdie stereotipes is moontlik weens die gebrek aan blootstelling. “Ek dink die meeste stereotipes oor studierigtings ontstaan omdat studente nie werklik weet wat in ander fakulteite aangaan nie. Studente spandeer meeste van hulle tyd binne hul eie fakulteite, koshuise en sosiale kringe, wat beteken dat baie aannames nooit bevraagteken word nie,” het Reyneke gesê.

Navarna Davids, ’n eerstejaar-Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-student, het gesê studente konformeer soms aan sosiale identifikasie. “Sodra mense by die universiteit is, begin hulle hulself in groepe deel en grappe maak oor mekaar se werkslading, intelligensie of persoonlikhede. Dié grappies kan mettertyd in stereotipes verander,” meen Davids.

Stereotipes is “’n eenvoudige manier om mense te kategoriseer, selfs al sien hulle nie altyd die kompleksiteit van ’n individu en hul ervarings raak nie,” voeg Reyneke by.

Davids het gesê dit kan gesien word as ’n geval van bevestigingsvooroordeel. “Mense is geneig om net voorbeelde te sien wat dit waarin hulle reeds glo, ondersteun wat die stereotipes in stand hou, selfs al is dit nie akkuraat nie,” sê sy.

Hoe meer fakulteite, hoe meer menings

Prof. Vasti Roodt, Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, het gesê “Ek dink een van die mispersepsies is dat hierdie ‘n ‘maklike graad’ is, wat heeltemal vals is. Sy meen egter, “Hier is waar jy kom om vir werklike loopbane opgelei te word.” Dit sluit in om vaardighede te ontwikkel wat van jou ’n gesogte werknemer in verskeie loopbane, wat al bestaan en selfs nog nie bestaan nie, sal maak.

IMMANUEL EZE Immanuel is ’n student in BCom (Finansiĕle Rekeningkunde). Foto: Anél Calitz

 Intussen het Sarah Stewart, ’n tweedejaar-BA (Politiek, Filosofie en Ekonomie)-student gesê sy het al die “tipiese ‘BA-manvang tot vervelens toe gehoor,” wat volgens Roodt as “’n afgryslike kombinasie van vooroordele,” beskryf word.

Aan die ander kant word Ingenieursstudente as die “slim-alies” bestempel, wat “nie oor veel sosiale vaardighede beskik nie”, het prof. Wikus van Niekerk, Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, gesê. Hy voeg by: “In sekere opsigte is Ingenieurswese ’n baie wrede studierigting, nie waar nie? Ons het nie almal dieselfde talente en eienskappe nie, en wat ’n goeie student in Politieke Wetenskap maak, maak nie noodwendig ’n goeie student in Ingenieurswese nie. Ek dink [egter] almal het hul plek en waarde.”

Prof. Bertie Fielding, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, bied ’n ander perspektief hierop: “Ek dink ons het die etiket nerd in ’n medalje verander. Die nerds het gewys dat hulle eintlik die wêreld beheer.”

Dié opwinding is egter nie in elke fakulteit sigbaar nie. “Ek sal die reputasie van grade in Handel en Ekonomie wou verander, sodat dit as meer as net ’n ‘geldgedrewe’ of ‘maklike teoriegraad’ beskou word,” het Davids gesê.

Terugskouend het prof. Reggie Nel, Dekaan van die Fakulteit Teologie, gesê dié fakulteit werk steeds daaraan om die “engelfabriek”-beeld af te skud.

“Mense dink Teologie is ’n studierigting waar ons net hier sit en Bybelstudie doen. Jy mag nie hier kom met foute of vrae oor die lewe nie; jy moet perfek wees. Maar ons gaan in daai etiese moeras en woorstel daarmee,” het hy bygevoeg.

JOSHUA MALECK Joshua is ’n tweedejaarstudent in BSc (Plant- en Grondboukunde). Foto: Zachary Philander

Terselfdertyd het prof. Oscar Koopman, Visedekaan vir Onderrig en Leer in die Falkulteit Opvoedkunde, gesê “Toe ek op skool was, het dit aansien gehad om ‘n onderwyser te wees. Met verloop van tyd het dit minder geraak, en die fakulteit word nou gesien as ’n ‘stortingsplek’ vir studente wat nie by ander fakulteite kon inkom nie, maar die Fakulteit Opvoedkunde is die lewenskragtigste plek by hierdie universiteit”, meen prof. Koopman.

Vlakke van prestige

Terwyl stereotipes oor fakulteite dikwels net as onskadelike grappies afgemaak word, het studente gesê dit beïnvloed hoe die waarde van verskillende grade op kampus beskou word.

“Wanneer ek oor my graad praat, kry ek altyd die vraag: ‘Wat gaan jy daarmee doen?’”, het Stewart gesê.

Volgens prof. Roodt is ons geneig om prestige te heg aan beroepe waarvan ons ’n baie duidelike prentjie in ons geestesoog het. Mense sukkel egter om dit te doen met ’n ‘graad in die Geestes- en Sosiale Wetenskappe, wat dus die aanname skep dat studente niks doen nie. “Die antwoord is egter die teenoorgestelde. Omdat ons so baie dinge doen, kan mens nie maklik ‘n duidelik beeld vorm nie,” het sy gesê.

Verder sê sy dat die “tipe vaardighede” en “hoë orde kognitiewe denke” van die grade is wat hulle werklik uitdagend maak.

Studente verwys ook na die verskillende vlakke van prestige. Davids het gesê “baie studentekringe glo grade soos Medies, Ingenieurswese, Regte en soms Aktuarieel dra baie prestige omdat dit moeilik is om toelating te kry en die werkslading groot is.”

Lana McGregor, ’n eerstejaar-Chemiese Ingenieurswese-student het gemeen die stereotipes oor grade, meer spesifiek hoekom daar op sommige grade neergesien word, het te doen met die moeilikheidsgraad daarvan. “Dit is maklik om verontreg te voel of ander grade te onderskat wanneer jy ’n graad swot wat ’n groter werkslading het en as moeiliker as ander bekou word,” het McGregor gesê en bygevoeg dat sy “hierdie menings in die Ingenieursfakulteit sien”.

Vermy so stereotipes

So, hoe kan studente hierdie stereotipes beveg?

Stap een: Identifiseer die gemeenskaplike doelwit. “Dit maak nie dinge makliker nie, maar dit maak dinge meer gefokus. As jy kyk na al die uitdagings wat ons as ’n samelewing in die gesig staar, sal dit net opgelos word as ons saamwerk en dit is moeilik omdat ons verskillende tale praat,” het prof. Fielding gesê.

Stap twee: Moenie bang wees om anders te wees nie. “Ons kyk almal na die wêreld deur verskillende lense, maar daar is nie ’n reg of verkeerd nie. Ons moet die universiteit beskou as ’n ruimte waar ons uniekheid ’n sterkpunt is,” het prof. Nel gesê. Prof. van Niekerk het verder gemeen: “Op die ou end is dit die belangrikste dat ons almal net mense is. Ons het dieselfde probleme, onsekerhede en uitdagings oral op kampus.”

ZOȄ SOUTHWOOD Zoȅ is ’n tweedejaarstudent in BA (Geesteswetenskappe). Foto: Zachary Philander

Stap drie: Erken en vier verskillende vaardighede. “Deur meer geleenthede vir studente van verskillende fakulteite te skep om met mekaar in aanraking te kom, help ons mekaar om die waarde van verskillende dissiplines raak te sien,” het Reyneke bygevoeg.

Stap vier: Fokus op die persoon, nie die stereotipe nie. Prof. Roodt het voorgestel om die kaf van die koring te skei: “Hierdie idee dat slegs omdat jy ‘n seker graad swot, jy outomaties beter vaar is nie so nie. Dit gaan altyd afhang van die student self. Ons is hier om te leer vanaf die menslike stoor van kennis en hoppelik ook daartoe by te dra.”

Prof. Fielding het gesê: “Dit gaan ook nie oor die graad nie. Natuurlik is dit die graad en die prestige daaragter wat belangrik is, maar dit is my droom dat wanneer studente hier weggaan hul enigste doel nie moet wees om net ’n werk te kry nie, maar om te vra: ‘Hoe gaan ek ’n impak maak?’ Dit is net so belangrik soos die graad.”

Related Articles

spot_img
spot_img