By Emma Olivier
Die stempersentasie vir 2026/2027 se Studenteraad (SR) is slegs 12,4% – 4 153 uit 33 497 moontlike stemgeregtigdes volgens ’n aanbieding tydens die aankondiging van die nuwe SR op 31 Julie. Met hierdie klein hoeveelheid studente wat aan studentedemokrasie deelneem, het Die Matie die verhouding tussen die koerant, SR-blootstelling en studente se belangstelling bekyk.

Mediavryheid “maak voorsien-ing vir die onafhanklike waar-neming van die magte wat die samelewing vorm,” volgens die Suid-Afrikaanse Perskode wat in 2022 in werking gestel is. Die SR vorm deel van hierdie magte.
Wat berig Die Matie oor die SR
Voor Suid-Afrika ’n demokrasie geword het, het Die Matie onder toestande van rassesegregasie, sensuur en politieke onstabiliteit geskryf en gepubliseer. Die Matie het byvoorbeeld op 10 Oktober 1941 ter ondersteuning van “die ANS [Afrikaanse Nasionale Studentebond] se idee” van segregasie in universiteite geskryf.
In ’n redaksiebrief op 13 Oktober 1950, dieselfde jaar waarin die Groepsgebiedewet ingestel is, het Die Matie druk uitgeoefen dat die SR “’n standpunt moet inneem teenoor gemengde universiteite”.
Op 29 Maart 1968 het Die Matie berig die Universiteit van Natal se SR en studentekoerant Dome is ontbind “as gevolg van ’n reeks botsings tussen die vorige Studenteraad en die owerhede,” wat die uitdagings aangedui het wat die studentepers in Suid-Afrika gedurende apartheid in die gesig gestaar het.
Die Matie en verkiesings
Die Matie dra die verant-woordelikheid om invloedryke strukture aan die Universiteit Stellenbosch (US), en die gehalte van hul leierskap, sigbaar en verantwoordbaar te hou. Die Matie was dekades lank die platform waar studente hulle menings kon lug en hulle stemme kon laat hoor.
Jan Swanepoel het in 1999 in ’n brief aan Die Matie gesê dat studentehoudings teenoor die SR ’n tekort aan doeltreffendheid gevoed het. Hy het geskryf dit lyk of die SR net hulle poste tot hulle eie voordeel vul. Hy het egter die gesag van die SR beklemtoon en gesê die studente se ondersteuning is nodig vir die SR se doeltreffendheid. Sy brief het ook die lae stemgetalle genoem (5 000 uit 16 000).
Ene G.D.P. het op 5 Augustus 1960 in ’n redaksiebrief in Die Matie studente berispe wat nie hul stemreg gebruik nie: “Neem dit weg dan huil hulle, gee dit dan gebruik hulle dit nie!”
Anna-Retha Kriel, ’n oud-redaksielid van Die Matie, het op 15 September 1994 berig die stempersentasie in die SR-verkiesing was 40,16%, die “hoogste in jare”.
In daardie berig sê Louis du Preez, SR-voorsitter in 1993/1994, hierdie “hoë” syfer is te danke aan publisiteit in Die Matie. Hy verwys na redaksionele kommentaar van 25 Augustus 1994 met die opskrif “Keer die SR”, wat die SR kritiseer as ’n “magtelose instelling”.
Op 2 September 1998 het Die Matie die aanstelling van Wynoma Michaels, die SR se eerste swart voorsitter, “die begin van ’n nuwe era in kampuspolitiek” genoem.

Op 4 September 2002 het Die Matie Drini Kotzé, die stembuskonvenor, oor die stempersentasie van 28% aangehaal: “Ons het 8 000 eksemplare van Die Matie se verkiesingsuitgawe versprei. Mense kon twee dae lank op WebCT stem én twee dae by die stempunte. Wat meer moet jy doen?”
Op 18 Augustus 2004 het Die Matie berig oor ’n saak in die Studentehof: Te min studente het in 2003 gestem. Gevolglik is ’n geskenkbewys van R3 000 in 2004 aan die koshuis of Private Studente-organisasie (PSO) waaruit die meeste stemme kom, belowe. Boonop het elke stem getel as ’n inskrywing vir ’n trekking ter waarde van R500. Die geval is uiteindelik grondwetlik verklaar, maar het gedui op stemmersapatie as ’n “aktuele kwessie”.
In 2025 het slegs 5 075 uit 33 016 studente gestem. Dit is 15,3% van die studentebevolking en nogtans die “hoogste stempersentasie in 14 jaar”, volgens Sibabalwe Manyifolo, voorsitter van die studentevekiesingskomitee en die hoofverkiesingsbeampte in 2025, in ’n berig deur Kuhle Tshabalala in Stellenbosch Media Forum op 5 September 2025.
In 1999 het Die Matie die min SR-benoemings toegeskryf aan apatiese studente, swak bemarking, en ’n gebrekkige samewerking met Die Matie: “Die sluitingsdatum vir benoemings moes ná, nie voor, die semester se eerste Die Matie-uitgawe wees.” (Die Matie, 4 Augustus 1999).
Redaksiebriewe, opnames en SR-verkiesingsuitgawes van Die Matie suggereer daar was eens ’n nouer band tussen die koerant en SR, met Die Matie as ’n kommunikasiemedium tussen leiers en die breër studentegemeenskap. Die Matie het ook halfjaarevaluerings van elke SR-lid gepubliseer. Hierdie evaluerings is saamgestel deur ’n paneel wat huiskomiteelede en SR-subkomitees ingesluit het.
Die Grondwet van die Studente-unie, wat in 2021 hersien is, lui: “Die Verkiesingskomitee moet alle studente in kennis stel” van die SR-verkiesings se besonderhede deur middel van ’n “verkiesingsuitgawe van Die Matie, elektroniese bemarking, plakkate en op enige ander manier”. In onlangse jare het daardie kommunikasie vanaf die Verkiesingskomitee nie via Die Matie plaasgevind nie, maar eerder deur elektroniese kommunikasie vanaf die Verkiesingskomitee self se sosiale media.
Druk op studenteleierskap
Dit blyk Die Matie het gereeld SR-vergaderings bygewoon, soos uitgawes uit die 1960’s, byvoorbeeld, asook die verskeie kampusaanhalings van SR-ver-gaderings in die 1990’s en die 2000’s aandui. Terwyl Die Matie deur die jare gereeld met die SR te doen gehad het, moes die koerant ook die SR se gedrag onder ’n vergrootglas plaas.

Deur die publikasie van ’n opname, “Het ons ’n SR nodig? Waarom?” op 18 Augustus 1999, het Die Matie druk geplaas op die SR om meer ingestel te wees op studentekwessies. Die opname se antwoorde het gedui op apatie, moedeloosheid of onkunde onder studente. “Nee, want ek het hulle nog nooit iets vir my sien doen nie,” sê een. “Ja – daar sou sin wees daarin as mense weet wat die doel van die SR is en watter mag hulle het,” sê ’n ander.
Op 9 Mei 2001 het Loftus Marais, Die Matie-joernalis, berig oor ’n “SR-terugvoersirkus” wat die vorige week in die Neelsie-studentesentrum gehou is, waar “slegs ’n handjievol toeskouers opgedaag het,” volgens die berig. Hannelie Louw, SR-lid vir Kulturele Aktiwiteite in 2001, het die apatie onder studente blameer op “die media se negatiewe uitbeelding van die SR en het Die Matie bitterlik genoem”.
In April 2001 het Die Matie berig die SR het “steeds dieselfde probleme” en het “kosbare energie gemors om interne SR-konflik op te los” wat “blyk die gevolg te wees van ego’s wat voor die saak gestel is”.
Op 21 Augustus 2002 het Die Matie in redaksionele kommentaar gevra: “Dien die SR nog ’n doel?”
Soos Helette Pieterse en Eugéne Henning, twee voormalige SR-lede, volgens Kampus Quotes van 1 Augustus 2001 in Die Matie, by ’n SR-vergadering gesê het: “SR Survival Guide: Deel van die pret van op SR wees, is om in die donker rond te tas tot jy uitvind wat jy verkeerd doen. Ja, of Die Matie sal jou sommer sê!”
Emma Giles, hoofredakteur van 2025/2026, het in haar redaksiebrief van 8 April ’n beroep gedoen op studenteleiers om “by ons as studentemedia betrokke te raak” en het saamgevat: “Ons glo dit is noodsaaklik vir die publiek om die rol van die pers in ’n demokratiese samelewing te verstaan.”



