Deur Suné Coetzee
Onder ’n grasperk in Eendrag se vierkant lê Pluto begrawe, ’n hond wat dekades gelede die koshuis se hart geword het. By Dagbreek pryk ’n miniatuur-Eiffel-toring oor die binnehof, terwyl Helderberg-studente steeds na hul Prim as die “president van hul republiek” verwys. By Nemesia leef ’n geheime tradisie voort, op die Tygerberg-kampus deel toekomstige medici een dak, en in Metanoia woon mans en vroue al twee dekades lank saam.
Ses Maties-koshuise vier vanjaar mylpaalverjaarsdae. Metanoia word 20, Hippokrates en Nemesia 50, Eendrag 65, Helderberg 80, en Dagbreek 105.
Metanoia: 20 jaar van radikale transformasie
Toe Metanoia in 2006 sy deure geopen het, was dit die eerste gemengde koshuis op Stellenbosch-kampus. Die naam, van Griekse oorsprong, beteken “verandering” of “transformasie” en is deur die eerste inwoners gekies. Metanoia is na bewering die grootste gemengde koshuis in die Suidelike Halfrond en huisves tans meer as 500 studente.

Metanoia was ook die eerste koshuis op die Stellenbosch-kampus wat ’n halaalkombuis ingestel het, ’n inisiatief wat inwoners self gedryf het.
Vir Seth Scott, prim, is diversiteit die hart van die koshuis. “Daar is beslis krag in diversiteit,” het hy gesê. “Metanoia is divers in nasionaliteit, godsdiens, geslag en taal. Dit dien as ‘n platform waar verskillende sienings en menings bymekaar kan kom.”
Jayden Stock, ’n tweedejaar-BSc (Rekenaarwetenskap)-student en lid van Metanoia se Alumni-Komitee, sien die koshuis se jeugdigheid as sy grootste krag. “Ons het nie honderd jaar se geskiedenis nie, maar ons het twintig jaar se mense wat konsekwent terugkom,” het hy gesê.
Hippokrates: 50 jaar van gedeelde roeping
Terwyl die meeste koshuise ’n mengelmoes van fakulteite huisves, is Hippokrates op die Tygerberg-kampus uniek. Hier leef studente in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe sedert 1976 onder een dak.

Vernoem na die vader van moderne medisyne, begin die Hippo-ervaring lank reeds voor gradeplegtigheid. Inwoners volg dieselfde akademiese roetes en trotseer saam die veeleisende lading van ’n mediese student.
Ropafadzo Manguwa, die Prim, het gesê inwoners verstaan waardeur hul huismaats gaan omdat hulle dieselfde uitdagings ervaar. Hy het verduidelik dat die meeste mense nie in gesondheidsorg beland vir verkeerde redes nie, en dat die koshuis se kultuur deur ‘n diensgerigte ingesteldheid gevorm word. Alhoewel dit moeilik is om met 270 mense almal vriende te wees, het hy gesê dat daar tog ‘n sterk gevoel van familie in die koshuis is.
Hierdie gevoel van eenheid word deur tradisies soos Potjie and Punch – ’n kookkompetisie waar verskillende afdelings meeding – en die legendariese Hippo-Week (wat deesdae twee weke lank is) versterk. Deur hierdie geleenthede kom inwoners bymekaar, deel hulle maaltye, en skep hulle herinneringe wat lank na hul studies bly voortleef.
Naweed Mullajie, die inwonende hoof, het gesê hoewel die koshuis oor 50 jaar verander het, bly die kern dieselfde: wedersydse ondersteuning in ‘n drukkokeromgewing.
Nemesia: ’n Geskiedenis wat nou eers geskryf word
Nemesia vier haar 50ste bestaansjaar met ’n ongewone uitdaging: Groot dele van die koshuis se vroeë geskiedenis het niemand ooit gedokumenteer nie. Megan Kench, die Prim, het gesê dat die koshuis deur al die jare gesukkel het om hul geskiedenis te bewaar. Die koshuis is tans besig met ‘n grootskaalse projek om stories by alumni te versamel.

Ondanks hiervan staan sekere ankers vas, soos die tradisionele kersligseremonie tydens verwelkoming, ’n spesiale oomblik vir huiskomiteelede en mentors om eerstejaars te vertel oor Nemesia en om te besin oor wat die koshuis vir hulle beteken. Die koshuisleuse het ook oor die jare verskuif van ’n individuele fokus na Non Ducimur, Ducimus (“Ons word nie gelei nie, ons lei”).
“Jy het dalk nie Nemesia gekies nie, maar Nemesia het jou gekies,” is ’n bekende sêding in die koshuis se gange. Vir Kench het dit waar geword, sy het nie by Nemesia aansoek gedoen nie, maar dit het vir haar huis geword.
Eendrag: “Met die hand uitgesoek”
Eendrag vier vanjaar sy 65ste bestaansjaar met die bekendstelling van die Plutofonds: ’n nuwe inisiatief om studente in finansiële nood te ondersteun. Die fonds is vernoem na ’n geliefde koshuishond uit die 1970’s. Hierdie gees van omgee is diep in die koshuis se DNS gewortel. “Broederskap is letterlik in ons argitektuur ingebou,” sê Thomas Claasens, die Prim, met verwysing na die gebou se unieke ontwerp wat om een sentrale binnehof open en interaksie tussen inwoners aanmoedig.

Eendrag is ’n veerkragtige gemeenskap wat al groot storms getrotseer het, waaronder ’n ernstige brand wat dele van die koshuis in 2007 verwoes het. Keagan van Aarde, die inwonende hoof, het gesê dat die brand een van die koshuis se mees bepalende oomblikke was. Volgens hom het die gebeurtenis die ware karakter van die inwoners as gemeenskap aan die lig gebring. Eendrag word nie net deur die gebou gedefinieer nie, dit gaan oor die mense, die waardes, en die vermoë om teëspoed saam te oorwin.
Om hierdie noue band te beskerm en nuwelinge te verwelkom, gaan die huiskomitee gereeld uit hul pad uit om ’n verskil te maak, soms op ekstreme maniere. Aan die begin van die jaar het Claassens in sy volledige dagdrag (die formele drag wat Eendragters tydens verwelkoming, op spesiale geleenthede en elke Vrydrag dra), op 10 000 voet uit ’n vliegtuig gevalskerm spring. “As ons bereid is om onsself uit ’n vliegtuig te gooi net om jou te verwelkom, is daar baie min wat ons nie sal doen om jou te help tuis voel nie,” het hy gesê.
Vir Eendrag se reünie tydens die Tuiskomsnaweek in September beplan Eendrag ’n besonderse gebaar: “Ons stel 65 beddens in die koshuis beskikbaar vir alumni, een vir elke bestaansjaar.” Dit weerspieël die historiese frase wat elke Eendragter ken: “Jy is met die hand uitgesoek.”
Helderberg: tussen tradisie en transformasie
Helderberg se storie het in 1946 begin toe soldate wat ná die Tweede Wêreldoorlog wou studeer, behuising moes kry. Die koshuis is verder van die kampus af gebou om die soldate se “rowwe en skaamtelose partytjies” weg te hou van die res van die studente.

Teen 1957 het die koshuis homself simbolies tot ’n republiek verklaar, ’n identiteit wat vandag nog die koshuistaal dikteer. Die Prim is die president, die huiskomitee is die kabinet, en huisvergaderings is staatskonferensies. Die storie lei dat die studente in 1957 ’n brief aan die Britse koningin geskryf het om erkenning as ’n onafhanklike republiek te vra, en ‘n brief terug ontvang het waarin die koshuis se republiekstatus in gees erken is.
Deesdae bestaan die koshuis uit drie dele: die Ou, Nuwe en Nuutste Gebou. Die Ou Gebou, wat in 1946 voltooi is, is die oorspronklike struktuur en het ’n lewendige, sosiale atmosfeer. Die Nuwe Gebou, wat in 1955 bygevoeg is, is meer ingetoë en rustiger, die inwonende hoof se woning is ook hier. Die Nuutste Gebou, wat eers in 1999 voltooi is, is die verste van die tradisionele Helderberg-identiteit verwyder, en inwoners daar voel soms minder verbind met die koshuis se tradisies.
Bantubonke Louw, die inwonende hoof, het gesê dit skep ’n unieke dinamika omdat elke gebou sy eie kultuur ontwikkel het, wat dit moeilik maak om net een sentrale tradisie te identifiseer. Hy het verduidelik dat die koshuis tans besig is met ’n deurlopende gesprek oor wat dit beteken om ’n Helderberger te wees.
Enile Ezenagu, die Prim, het gesê dat dit juis hierdie deurlopende gesprek oor identiteit is wat die koshuis dinamies hou. Hy het bygevoeg dat die kameraadskap in Helderberg ongeëwenaard is, en dat die koshuis se BRAVE-waardes (Broederskap, Respek, Aanspreeklikheid, Vriendskap en Entoesiasme), die gemeenskap saambind. Hy het verduidelik dat Helderberg se krag nie in sy geboue lê nie, maar in die inwoners en hul kreatiwiteit. Hulle kom bymekaar vir braaie, speel sokker of rugby voor die koshuis, of kyk saam na sport in hul sosiale ruimte.
Dagbreek: die huis van roem en faam
Van al die koshuise wat vanjaar feesvier, is Dagbreek die oudste. Die Huis van Roem en Faam pryk reeds sedert 1921 op die Stellenbosch-kampus. Oor die jare het Dagbreek ’n indrukwekkende lys alumni opgelewer, van Springbok-rugbyspelers en -afrigters tot skrywers, sangers en selfs voormalige eerste ministers.

Die koshuis is bekend vir sy miniatuur-Eiffel-toring in die binnehof, wat deur studente in 1954 vir ’n vlotoptog gebou is en vandag die koshuis se amptelike simbool is. Ignus van Deventer, die Prim, sê die krag lê in die argitektuur. Die sentrale binnehof (quad) dwing interaksie af. Hy het verduidelik dat jy nie jou buurman kan vermy nie. “Dagbreek is nie Dagbreek sonder sy mense nie,” sê hy.
Een van daardie mense was Bethuel Sibuta, ’n kombuispersoneellid wat 47 jaar lank in die koshuis gewoon en gewerk het. Hy was so ’n geliefde deel van die gemeenskap dat die eetsaal vandag nog sy naam dra.
Van Deventer het gesê die koshuis se verwysing na ‘roem en faam’ is nie ’n status-simbool nie, maar ’n oproep aan inwoners om die beste weergawe van hulself uit te leef. Hy het verduidelik dat dit nie gaan oor “ons is die beste” nie, maar oor “om elke ou te motiveer om sy beste te doen vir die huis, of dit nou sport, kultureel of akademies is”.
Hy het bygevoeg dat die koshuis se grootte (378 inwoners) een van sy grootste sterkpunte is, want dit bring ’n diversiteit van mense en belangstellings. Vir hom het Dagbreek hom gevorm: Hy is van nature ’n introvert, maar die koshuis het hom gedwing om met mense te skakel. “Ek dink nie ek sou enigsins die persoon wees wat ek huidiglik is as dit nie vir Dagbreek was nie,” het hy gesê.



