Deur Misha Fray
Die 2025 Penseel-bundel is op 26 Augustus bekendgestel, met bekroonde skrywer en filosoof, Charl-Pierre Naudé, as die gasspreker. Penseel is ’n jaarlikse publikasie deur die Departement Afrikaans en Nederlands se Vereniging vir Afrikaansstudente, ook bekend as VER[r]AS. Dié digbundel is in 1969/70 deur Fanie Olivier en Danie Botha gestig wat destyds deel was van VER[r]AS.

’n Tikmasjien pronk op die Penseel 2025-voorblad. Foto: Emma Olivier
“Penseel het ’n indruk op my gemaak. Dit het gehelp om die wil tot skryf by my aan te steek en op soek te gaan na versteekte maniere wat die gewone bestaan in ’n ander lig kan gooi,” sê Naudé al was hy nie self as student opgedra in die bundel nie. Naudé noem ook dat Penseel “funksioneer as ’n skawings- en beskawingslaboratorium vir nuwe digters”.
Penseel het verskriklik gegroei en is hierdie jaar ’n groter geleentheid. Volgens Zandri van Greunen, voorsitter van VER[r]AS, is Vlugskrif en Swiepstrofes deel van die bemarking gemaak om meer studente betrokke te kry by die geleentheid. “Ons het probeer dink aan hoe ons studente se aandag kan trek om meer betrokke te raak by die inisiatief. Swiepstrofes het toe oor die midsemestervakanske posgevat en dit het behels dat ons op Instagram elke dag ’n Penseel-digter se gedig plaas. Daarna het ons toe hierdie gedigte gedruk in ’n A3-papier en Vlugskrif revive” sê Van Greunen.

Penseel-mederedaktrise, Chanté Dismore, aan die woord tydens die bekendstelling. Foto: Zandri van Greunen
Die bundel is deur die VER[r]AS-komitee ontwerp. “Dit was ’n jaar van nuwe dinge. Ons het die blaaie van die bundel fisies uit tydskrifte geknip en as collages rangskik. Dis ook die eerste keer dat die bundel kleur bevat” het Van Greunen gesê. Danelle Jacobs, finalejaarstudent in BA Taal en Kultuur en een van die bydraers tot die bundel, sê: “Penseel beteken vir my baie, want dit het hierdie platform geskep vir mense, vir skrywers, om diep te gaan delf en om kreatief te wees en om jouself uit te daag.”
Riané Schutte, nog ’n bydraer wie se werk al ’n derde keer in die bundel verskyn, sê: “Penseel skep ’n mens ’n omgewing waar jy jouself kan uitleef en jouself kan druk om nuwe goed oor jouself te ontdek deur hoe jy skryf of dink. Wat ook al jy ervaar, dit gee net vir jou perspektief en hier is jy veilig om jou perspektief uit te druk en dit met ander mense te deel.”

Kobus & die Bomskokbende maak amok en tree op. Foto: Emma Olivier
Vir Ronan Lee Patterson is sy senuwees gerusgestel deur die gehoor wat hom gedurende sy voorlesing aangemoedig het. “Ek was baie angstig voordat ek hierna toe gekom het, maar toe ek my gedig voorlees toe het ek baie relax, want die gehoor het my encourage en nadat ek my voorlesing gedoen het, toe ek kom sit, het baie mense my terug verwelkom en my terugvoer gegee oor my gedig.” Gehoorlid, Aljorade Amon se gunstelingdeel van die aand was “die variëteit wat gebruik was in terme van die voorleggings van die gedigte en hoe dit op die program was. Dit was ietsie van alles.” Die bundel bevat gedigte en kortverhale wat in beide Kaaps en geskrewe standaard Afrikaans voorkom.
Dit was nie net ’n aand van poësie nie, maar ook musiek met Kobus & die Bomskokbende wat deur hul optrede die gehoor vermaak het. “Agter die finale produk wat julle vanaand hier sien, lê ure se lees, redigering, proeflees, terugvoer, hersiening en herlees,” sê Chanté Dismore, die mede-redakteur van Penseel. “Om seker te maak dat elke stuk sy plek binne die groter geheel vind, sonder om die unieke stem van elke skrywer weg te neem,” het sy gesê. Penseel is ’n plek waar elke skrywer, ongeag hulle agtergrond of variëteit van Afrikaans, gemeenskap kan vind tussen medeskrywers, idees uitruil en aanhoudend aan hulle kuns kan werk, verfyn en verbeter.



